Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Draakstekery met die heilige erns van sport

Fiksie

Hond se gedagte

Kerneels Breytenbach

HUMAN & ROUSSEAU, R320

Dit was ’n briljante idee om rugby en godsdiens met mekaar te verbind. Hiermee raak Breytenbach aan twee belangrike Afrikanerhartsnare, skryf Willie Burger.

“Om die Springbokke te ondersteun is om jou te onderwerp aan meer depressie as wat die enkele kere se ekstase regverdig.”

Byna almal wat groen hemde in hierdie tyd van die Wêreldbeker dra, kan hulle waarskynlik met hierdie stelling van Fleur de Villiers, die hoofkarakter in Kerneels Breytenbach se jongste roman, Hond se gedagte, vereenselwig.

Anders as wat die stelling suggereer, is Fleur egter geen rugbyliefhebber nie. Sy is ’n joernalis sonder inkomste wat die taak aanvaar om ’n biografie oor Katstert Nel, die Springbokkaptein van die 2025-Wêreldbekerspan, te skryf. Sy is nie geesdriftig oor rugby of rugbyspelers nie. Geleidelik leer sy al die spelers en administrateurs ken en werk onder geweldige druk om die sperdatum vir die voltooide manuskrip te haal.

Sy kry egter hond se gedagte dat die volle verhaal nie aan haar openbaar word nie. Sy sit met talle onbeantwoorde vrae, veral oor die Springbokke se afrigting en hul nuwe speelstyl, die unieke Springbokstyl wat sedert die dae van Danie Craven verlore geraak het. Al hoe meer tergende vrae duik op en die boek lees byna soos ’n speurverhaal.

Hond se gedagte is egter nie ’n rugbyroman gekruis met ’n speurverhaal wat eintlik saam met die groen truie op straathoeke verkoop behoort te word nie (hoewel die beskrywings van die halfeindwedstryd en die eindstryd werklik naelbytrugbybeskrywings bevat). Breytenbach het die briljante idee gekry om ’n boek oor rugby én godsdiens te skryf.

Al hoe meer tergende vrae duik op en die boek lees byna soos ’n speurverhaal.

In die jaar 2025 is Sarvu (die rugbyunie) en Corpus Christi (’n mega-kerk) een organisasie. Hierdie organisasie besit al die groot rugbystadions wat op Saterdae gevul word met rugbyondersteuners (wat lofprysliedere sing) en op Sondae met kerkgangers (waar die rugbyspelers tydens massa-eredienste getuig).

Uiteraard is hierdie ’n briljante idee en dit is eintlik vreemd dat niemand nog tevore op so ’n groot skaal (’n roman van byna 500 bladsye) rugby en godsdiens met mekaar verbind het nie. Daarmee raak Breytenbach aan twee (albei?) Afrikanerhartsnare. Boonop verbind hy dit met die huidige kla-kultuur oor ’n strompelende ekonomie en wydverspreide korrupsie en misdaad.

Die romangebeure speel af oor twee weke en is ingedeel in die “dae”, van die Sondag nadat die Springbokke in die kwarteind net-net teen Australië gewen het, tot die Sondag ná die eindstryd, twee weke later.

Fleur is agtergelaat met “gebluste liefdeslus” nadat haar minnaar vermoor is vir ’n selfoon en sy worstel met haar verlede (en ’n ma wat betekenisvol juis aan dimensie ly). Geleidelik vind sy deur die loop van die twee weke waarin sy baie tyd met die Springbokspan en die mediaverteenwoordigers deurbring, al hoe meer raaisels en ontdek talle geheime. Sy word ondersteun deur ’n restauranteienaar-filosoof.

Die restaurant se naam, Popol Vuh, verwys na ’n Inkageskrif uit Guatamala waarin onder meer vertel word van ’n tweeling wat in die onderwêreld met die heersers van daardie wêreld ’n balsport speel. Só word die mitiese verbintenis tussen sport en die hiernamaals bevestig.

Die roman raak verskeie filosofiese en teologiese kwessies aan, maar nooit op so ’n manier dat dit swaar raak nie.

Die roman raak verskeie filosofiese en teologiese kwessies aan, maar nooit op so ’n manier dat dit swaar raak nie. Daarvoor is die taalgebruik en toon te lig en vrolik. Die beskrywings en vergelykings is skreeusnaaks. Soos mens al van Breytenbach verwag, word kos en musiek, kuns en filosofie met ’n ligte aanslag vermeng, met ’n prettige gevoel wat oorheers.

Die magtige Sarvu-Corpus Christi-organisasie staan onder die beheer van Jaap Schvantz (wat sommige lesers uit Breytenbach se roman Glimlag uit 1993 sal onthou) en sy jong vrou, Krystle (wat talle verbintenisse met die misdaadonderwêreld het).

Schvantz was ’n voormalige hoof van die Buro vir Staatsveiligheid in die vorige bedeling, maar het aangepas om een van die magtigste mense in die postapartheid-Suid-Afrika te word. Saam met Krystle bedryf hulle egter nie slegs godsdiens en rugby as groot winsgewende sake nie, maar hulle oorheers ook die dwelmhandel.

Soos Schvantz van ouds in Glimlag, skroom hulle steeds nie om mense af te dreig, om te koop of selfs te laat “verwyder” nie. Die “ou apartheidgewoontes en strukture het weggeval”, maar hulle gaan voort met strukture wat op soortgelyke wyse funksioneer. Wat in die roman soos oordrewe fiksie klink, is in die lig van getuienis voor die Zondo-kommissie nie so vergesog nie.

“Korrupsie” volgens Jaap Schvantz, “kan alleen gestop word as jou sakke dieper is as dié van die mense wat die korruptes voed.”

Hond se gedagte is ’n heerlike draakstekery met die heilige erns waarmee sommige mense sport bejeën. Dit is ook ’n gespot met die fanatiese wyse waarop sommige mense godsdiens beoefen. Ondanks die spottende toon, die draakstekery met al die clichés van die media en rugbyspelers, die oordrewe byname en die byna siniese ironie, word die leser tóg met ernstige vrae oor die lewe, oor sin, oor geloof, oor skyn en werklikheid, oor lewe in Suid-Afrika gekonfronteer.

Die glans van professionele rugby verdof in die verveling. Die verwondering van godsdiens word korrupte mensewerk. Alles is ’n mediaspel. Nietemin bied Breytenbach se boek ook op ’n manier troos – in die betowering van die onverstaanbare, die eenvoud van die skone.

Willie Burger is hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria.

Meer oor:  Kerneels Breytenbach  |  Resensies  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.