Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Drie hoera’s vir uitbundigheid!

Zoë Wicomb se uitbundige nuwe roman is ’n legkaart van historiese en letterkundige verwysings, skryf Michiel Heyns.

Still Life deur Zoë Wicomb. Uitgewer: Umuzi. Prys: R280.

Zoë Wicomb se vierde roman – daar is ook twee bundels kortverhale – is ’n verbysterende kragtoertjie, ’n komplekse legkaart van historiese en letterkundige verwysings en karakters verpak in die hedendaagse dilemma van ’n skrywer wie se agent haar aanpor om ’n roman aan te pak oor die Skot Thomas Pringle, die 19de-eeuse kampvegter vir die bevryding van slawe – en ook, volgens oorlewering, die vader van die Suid-Afrikaanse (Engelse) digkuns.

Die anonieme skrywer (hierna “die Skrywer”) sit met haar hande in die hare.

“I do not think this a task I could, or even should, take on,” lui die roman se eerste sin. Sy voel beswaard en bedreig deur die spoke van die dramatis personae: Afgesien van Pringle (wat fisiek ’n mindere teenwoordigheid in die roman is) is daar Mary Prince, ’n Wes-Indiese slaaf wie se relaas van haar slawerny, The History of Mary Prince, in 1831 met Pringle se hulp gepubliseer is. ’n Ander karakter is Hinza Marossi, Pringle en sy vrou se aangenome Khoi-San-seun, en die naamkarakter in Pringle se gedig “The Bechuana Boy”.

En dan is daar Vygie, ’n figurant in “The Emigrant’s Cabin”, nog een van Pringle se gedigte.

Op die skrale verwysing na “The Nutbrown Maiden, Vytjé Vaal” bou Wicomb ’n geskiedenis van nog een van Pringle se gevolg, hoewel Vytjie nie seker is wat sy in hierdie geselskap soek nie – “somewhat confused, not comfortable with this lot, and not sure how I landed here”. Dit help ook nie dat Mary beswaar maak teen Vygie se teenwoordigheid nie: “Since I am of a different order, a mere mention in a poem.”

Kortom, Still Life is ’n roman wat deur sy karakters gekaap en deur hul mond vertel word. Om dinge effe in toom te hou en haar eie plig af te skuif beroep die Skrywer haar op nog ’n fiktiewe karakter, ene sir Nicholas Greene, ’n karakter in Virginia Woolf se roman Orlando (1928), waarin hy ’n tydreisiger is met toegang tot die groot skrywers van alle eeue, en met uitgesproke opinies oor almal. Net die man, dink die Skrywer, om haar weerbarstige karakters in toom te hou en ’n geskiedenis van Pringle aanmekaar te timmer. Maar die karakters het hul eie idees en agendas wanneer hulle losgelaat word in die hedendaagse Londen en Kaapstad.

So vermaaklik as wat die manewales van die karakters is, is daar onderliggend aan die verhaal ’n stewige herbetragting van ons koloniale geskiedenis.

Tussen alles deur moet die leser kophou: Wicomb tap haar verhaal uit baie vate en stook dit alles tot ’n ryke mengelmoes (dis nie verniet dat die karakters hulself soms aan Kaapse Vonkel vergryp nie). Sy slaag daarin om al die relevante inligting oor die historiese agtergrond by die verhaal in te voeg, maar lesers sal hulle waarskynlik, soos hierdie resensent, van tyd tot tyd op Google moet beroep.

So vermaaklik as wat die manewales van die karakters is, is daar onderliggend aan die verhaal ’n stewige herbetragting van ons koloniale geskiedenis. Dis nie nuus dat kolonialisme deesdae ’n mynveld van sensitiwiteite, vandalisme, Twitter-storms en, natuurlik, ’n bron van akademiese ondersoek en herevaluering is nie.

As gewese akademikus is Wicomb satiries-skerp oor die opgeblase eiewaan van (sommige!) akademici. In een wrange toneel bring Hinza besoek aan ’n professor aan die Universiteit van Kaapstad; ’n deskundige op die gebied van Pringle: “The man, typical of his times,” sê sy, “saw natives as commodities to further the interests of settlers, and he was perfectly happy to shoot at San marauders in defence of the land usurped by the Brits.” Totdat Hinza verward vra: “Can literary criticism not show that he wrote from the heart?”

Hinza se vraag, wat die professor duidelik as naïef beskou, is ’n sentrale een in hierdie roman. Sonder om Pringle te sentimentaliseer óf die kompleksiteit van ’n koloniale opset te ontken herinner die roman ons aan die gewoon warmhartigheid van mense soos Pringle, wat, anders as die stropers en annekseerders, hulle beywer het vir ’n meer regverdige bedeling vir dié inheemse bevolkings wat hul grond en vryheid ontneem is. En hulle het ook ’n prys daarvoor betaal: Pringle is uit die Kaap gedwing deur die nyd van die goewerneur, lord Charles Somerset; hy is bespot deur Andrew Geddes Bain (die groot bouer van ons bergpasse) vir sy ontferming oor Mary Prince; en in Skotland is hy verag deur die slawe-eienaars.

Still Life is ’n roman, nie ’n polemiese geskrif nie. Maar die karakters het opinies oor hul rol in die verhaal, en hul opinies speel in op die groter vraagstukke wat die roman opper. In byvoorbeeld Vygie se verklaring – “our family and other Khoe people worked at Glen Lynden for the Pringles, who were kind Christian folk, quiet-spoken too, and we certainly never feared ill-treatment. We in turn were obedient servants” – vind ons ’n wrang dubbelperspektief: Vygie se waardering, in ’n wrede omgewing, van die menslikheid van die Pringles, en haar onskuldige besef dat daar ’n ongesproke kontrak is dat sy en haar gesin gehoorsaam moet wees om die Pringles se beskerming te geniet.

Hinza ook, meer gesofistikeerd as Vytjie, tob oor Pringle se uitbeelding van hom. Vygie verwys na Hinza as “screwed up, he of the original identity crisis”; dit is deel van die roman se speelse ironie dat die karakters, as koloniale onderdane maar ook fiktiewe skeppings, verward is oor hul eie ontologiese status.

Dus vra Hinza, oor sy eie status as aangenome seun van die Pringles: “Was I their son or their servant? Or something in between, a new category of relationship generated by the colonial condition?”

Die postmodernisme is berug om sy ontwyking van finale waarhede, en die vele perspektiewe wat Wicomb hier ontplooi, maak ’n ondubbelsinnige waarde-oordeel onmoontlik. Maar teenoor die teoretisering en moralisering oor die verdagte motiewe van enige koloniale projek laat Wicomb haar karakters hul eie oordeel vel.

Dus besluit Hinza, sy eie twyfel ten spyt: “The Pringles may not initially have conceived of a strange Motswana child as their own, but they took me in – whether at my own request or not, whether I offered myself as servant or not.” En verder sê hy oor sy status in die gedig “The Bechuana Boy”: “That is the story of my origins, my beginnings: in the warm heart and the creative mind of Mr Pringle.”

Mary, ook, in haar uitgesproke ongeduld met die moderne kommentators onder wie sy haar bevind, sê: “Let’s get on with the task of honouring Mr P, of getting his life written, of rescuing him from the pampered over-educated toffs with their crazy theories.” En dan: “Having had my history of slavery printed for all to read, I say, Three cheers for Thomas Pringle.”

Nou, dit is Mary Prince, nie Zoë Wicomb nie. Maar aan die einde van hierdie uitbundige, veelvlakkige roman, waar lê ons simpatie?

  • Michiel Heyns is ’n bekroonde skrywer, vertaler en resensent van Somerset-Wes.
Meer oor:  Zoë Wicomb  |  Zoe Wicomb  |  Still Life  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.