Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Drieluik eindig met ’n knal eerder as ’n kreun

Fiksie

Stom gode

Dibi Breytenbach

LAPA, R280

Dit is sekerlik ’n soort rekord in ons lettere (beslis in die krimikringe) om jou eerste ses boeke uit te gee as Drieluik Maal Twee.

Die eerste drieluik – Saliger, Vrediger en Heiliger – het ’n dikwels pikante, eiesoortige blik, vol donker humor en ’n vonkel in die oog, na verhaal en karakter gebring. Hierdie boeke lees lekker ja, maar het ’n skrywer bekend gestel wat as staatsamptenaar ’n ding of twee weet van misdaad op die voetsoolvlak. Spanning, intrige, maar die skaal nooit heeltemal te ver in die rigting van die fatalistiese geswaai nie.

Drieluik nommer twee, die “gode”-romans, toon die skrywer se groei, en ’n algehele verskuiwing in die wêreldbeskouing en invalshoeke van die drie dele van ’n verhaal wat gereeld so filmies voor ons oë afspeel. Dinge raak baie vinnig baie donker.

Dowe gode en Blinde gode het lesers aan die protagonis, kol. Aella O’Malley bekend gestel. Hierdie vroulike hoofkarakter wat tussen verskillende wêrelde beweeg, is ewe interessant en gefolter as Madelein Rust se Renata Malan. O’Malley is iemand met ’n liefde vir die kunste en klassieke musiek wat haar in ’n ongenaakbare, vervreemdende wêreld bevind.

In Blinde gode is die afwesigheid van toesig ten opsigte van die bewakers van ons samelewing met vrug ondersoek; hier het ’n verskriklike verraad amper O’Malley se lewe gekos. Sy is gedwing om haar opvattings en missie in diens van die staat te heroorweeg.

As die gode inderdaad doof en blind is, is hulle ook stom en lui?

As die gode inderdaad doof en blind is, is hulle ook stom en lui? Dis die vraag wat hierdie bevredigende slotepisode tergend opper, sonder om vir lesers te besluit.

In die sorg van die Fransman Leblanc, iemand wat hom ook weens sy bloed en agtergrond as ’n soort liminale figuur aanmeld, het O’Malley in Avignon in Frankryk van haar skietwond herstel. Leblanc probeer haar oortuig om haar eertydse droom te volg en om heeltyds musiek te gaan studeer, maar hierdie idee moet op ys gesit word wanneer die twee ’n mees onverwagse ontmoeting het: Thabani Zulu, ’n verwaarloosde kind heelpad uit Opathe, is sonder sy ma en enige heenkome in ’n vreemde land, een waar hy beslis nie verwelkom word deur die inwoners nie.

Die omsien na die jong seun en die uitpluis van die raaisel oor sy verskyning in Frankryk gaan hand aan hand met die naelkou-spanning van die “plaaslike” verhaallyn, waar ’n vigilante besig is om amok te maak in die bos.

Volpunte aan die skrywer met die vernuftige hantering van hierdie twee uiteenlopende verhaallyne, twee skarniere van ’n groter meganika waar die skrywer pertinente, moeilike vrae opper oor die mens se aard, die verantwoordelikheid teenoor die Ander, en die soeke na buiteregtelike geregtigheid.

Stom gode is dalk tematies swaar, maar hierdie drieluik eindig met ’n knal eerder as ’n kreun.

Jonathan Amid is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.