Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Dringendheid in die drinkwater

Anders as soveel ander rappers slaag Churchil Naudé in sy debuutbundel, ‘Drol innie drinkwater’, om die oorgang van ‘performance poetry’ na geskrewe, meer tradisionele poësie te maak, skryf Ronelda S. Kamfer.

Drol innie drinkwater deur Churchil Naudé. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Churchil Naudé is bekend as rapper en het in 2015 sy debuutalbum, Kroeskop vol geraas, uitgereik. Hy werk gereeld saam met musikante soos Riku Lätti en Die Wasgoedlyn, Loit Sôls en Leslie Javan. Dit is dus nie verbasend nie dat Naudé se debuutbundel, Drol innie drinkwater, soos ’n hymn-boek uitgelê is met die teks wat in die middel van die bladsy af loop.

Net soos in sy musiek vleg hy hier verskeie temas saam om ’n sterk geheel te vorm. Die gedigte strek tematies van sosiale kommentaar, identiteit en geloof tot filosofiese verse soos:

Wat soek j

as j nie doodgaan nie

kan jy nie lewe nie

som soek lewe by die dooies

som lewe net om dood te gaan . . .

Iets waaroor daar al baie jare debat gevoer word, veral in die VSA se meer gevestigde hiphop-gemeenskappe, is hoe en wanneer rap-lirieke digkuns word? Vandag, meer as ooit, word daardie vraag toenemend irrelevant met “spoken word”-poësie wat deel word van die hoofstroomliteratuur.

Tog is daar steeds baie min rappers wat die balans kan regkry tussen performance poetry en geskrewe, meer tradisionele poësie. In my ervaring as leser vind ek dat rappers en musikante in die algemeen nie altyd besef geskrewe teks het sy eie stel behoeftes en vereistes nie. Die geskrewe teks moet die leser tref sonder die atmos­feriese ondersteuning wat die musiek bied.

Naudé kry dit wel reg om hierdie oorgang te maak. Hy bly getrou aan sy narratiewe styl en val die leser aan met beelde en metafore. Naudé se ervaring as lyrical rapper kom deur in die bundel en ook hoe hy natuurlik aanpas en oor genres en temas beweeg. Hy bly getrou aan old school hiphop se aktivistiese wortels en die skets van karakters wat ritme altyd in pas met die woorde volg.

Daar is ’n hele paar verse oor die rol van die leser in die bundel, soos “Leser” (bl. 7), “Die woord” (bl. 30), “Die poet” (bl. 26), “Digkuns” (bl. 33), “Praat saam my” (bl. 86) en “Som van die letters” (bl. 92). Vir my is die gedig “Leser” die sterkste in hierdie groep. Die gedig is tot die punt en die digter se doel met die vers kom sterk na vore, ook omdat sy idees oor die rol van die leser insiggewend en waar is.

Die meeste van hierdie gedigte bevat reëls en gedagtes wat baie interessant is. Behalwe die gevalle waar Naudé moedswillig is en opsetlik ’n sterk reël ondermyn deur dit op te volg met iets sarkasties, is dit duidelik dat dit die gedagtes en waarnemings van ’n ervare denker is. Die gedigte is nie vlak nie, en Naudé se opinies en gedagtes is sy eie en wankel nie na populistiese sienings nie.

Digkuns

digkuns

word as prag geag

deur som

wat konstant met kontant vir wyer woorde wag

is dig ’n kuns van ondenkbare, onverstaanbare wins?

Die invloed en impak van geloofsideologie is baie opvallend en vloei moeiteloos deur die bundel. Hy gebruik die onderwerp van godsdiens deurlopend in die teks, maar nie as tema nie. Dit funksioneer meer as ’n instrument waarmee hy ’n breër konteks en onderbewuste samehang skep. Dit beklemtoon ook die feit dat die gedigte persoonlik is. In “Ooreenkoms met God” (bl. 85) slaag Naudé daarin om met baie min woorde ’n fyn satire van die kerk en materialisme te skets.

ek: U verbeter my lot

ek gebed U gebod

God: dis te laat

ek: wat van al daai Sondagskoolklere

wat as ek die hele tyd “Here, Here”

dis mos hoe mens opklim by geestelike lere

God: hou op stront praat

ek: hoe mean die Ou dan nou

wat as ek ’n mooi groot blink kerk bou

wat as ek ’n private jet koop

en ’n jonger-model-vrou kry, die ou een moet loop

wat as ek ’n brons koei op ’n altaar sit om te aanbid

God: okay, jy hét my, ek like dit

Die meeste gedigte volg ’n rymskema wat soms die vloei van die lees belemmer. In die poging om te rym word ’n interessante lyn gereeld deur ’n alledaagse lyn gevolg. Rym werk natuurlik beter in rap lyrics omdat daar meer as een element is wat die teks laat styg en daal.

Ek meen Naudé sal as skrywer baat vind by die skryf van prosaverse omdat die wêrelde en karakters wat hy skets, moeilik is om binne ’n rymskema in te perk en te beheer.

Die rymskema gee die poësie ook 'n konserwatiewe element wat ironies is vir gedigte wat spoeg in die gesig van konserwatisme.

Vanweë die sensitiwiteit, kwesbaarheid en Naudé se skerp fokus was die gedig “sorrie” (bl. 94) die een wat vir my die meeste uitgestaan het in die bundel. Die digter laat hom nie te ver afdwaal van wat hy bedoel om te sê nie. Daar is ’n dringendheid aan die gedig en ’n diepe opregtheid, maar geen gebrek aan beheer nie.

  • Ronelda S. Kamfer is ’n digter van Makhanda.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.