Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Duistere lyn wat goed en kwaad skei

Die daggaboer’ is ’n opwin-dende, soms onpeilbare nuwe simbaalgeskal in die Afrikaanse letterkunde, skryf Jean Meiring.

Jean-Pierre de Kock Foto: Stephen Fourie

Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R265.

Lennet Loots is g’n gewone boer nie. Soos die boek se titel aandui, is dié ook geen gewels-en-gerwe plaasroman nie.

Moeg vir die lewe in die stad en met ’n onvrugbare verhouding agter die rug gooi die jong man die juk van “witruis” en “kabaal” (bl. 96) af en kies koers Strandveld toe. Dáár huur hy by oom Loeser ’n lappie grond waar hy sy lewe op woonwawiele staanmaak.

Elders op die werf is daar bestendiger gastekwartiere vir betalendes. En in die verte staan ’n sinkgehuggie waar die Google-opgeleide landbouer die takke wat hy oes liefderik langs mekaar inryg. As die gomdruppels soos deurskynende pêrels op die blare skitter, moet die snoeiskêr sy sny kén.

Maar selfs hier op Tierdrif, neffens Baardskeerdersbos, waar sy blik oor Pearly Beach, Franskraal en Gansbaai uitwaaier, ontbreek die stilte waarna Lennet so innig smag. As hy met ’n skok opnuut bewus word van die naderende “teerslang” (bl. 9) wat die padbouers baar, soek hy, soos sy daggaplantjies, onder die turksvye skuiling.

Dis so asof die nuwelingskrywer Jean-Pierre de Kock met hierdie opset ’n ironiese nyging maak na C.M. van den Heever, een van die grondleggers van die Afrikaanse plaasroman.

Kort op die hakke van sy Op die plaas (1927) het Langs die grootpad (1928) verskyn. Nes Hansie, die anti-held in laasgenoemde verhaal wat hom volkome in musiek verdiep vir oom Gert ’n groot teleurstelling is, blyk dit gaandeweg dat sy pa Lennet eweneens as ’n swartskaap be­jeën.

Musiek bied vir Lennet ook ’n brug úit. Trouens, sy geheuebank is propvol simfonieë. Toe hy op Tierdrif aankom, was hy egter so “klanktam” van die alledaagse warboel “klanksnippers” (bl. 25) dat hy nouliks vir ’n volle beweging kon stil wees.

Maar nou, asof opgekommandeer, ruis ’n musiekwerk elke dan en wan van êrens in sy onderbewuste op om sy daaglikse gang te begelei. Hy behaag hom veral in die opwelling van Dvorák se komposisies – met hul “eerlikheid” en “[k]inderlike vreugde”.

Colin Bateman se sardoniese roman Divorcing Jack is derhalwe onvermydelik ’n skalkse neweteks.

Die musiek het gou ’n lewe en ’n wil van sy eie, wat soms – tot Lennet se ergernis – indruis teen die draaiboek waarvoor dit as wafferse klankbaan moet dien.

Maar kort voor lank word ’n stokkie gesteek voor Lennet se poging om al kaftan-draend te ontsnap aan die lewe en die geykte reëls wat vir almal geld.

Eers is dit Everest, die dwelmverkwanselaar wie se arbeid hom uit die ruigtes van Hawston tot in Vermont sien klim het, wat uit die niet opdoem.

“Ek kom check net op, kom sieke maak my supplier hettie van my vegiet ie. Wan anmekaa as ek bel –” (bl. 20).

Vinnig in sy vaalwater is Lennet se broer Konrad, ’n dokter in Kanada, wat met sy moeilike vrou, Chloe, en kind, “Engelse Daniel” (bl. 83), die vaderland aan’t besoek is.

Soos sy eie Cecilia van weleer – nou in Melbourne of Brisbane, “hy kan nooit onthou watter een nie” (bl. 124) – bly Chloe en Daniel soos ’n Griekse spraakkoor skimme aan die rand van die vertelling. So ook Lennet en Konrad se pa, wat in Kleinmond in ’n ouetehuis weens die “vergeetsiekte” (bl. 164) boedel aan’t oorgee is.

Die newels van vergetelheid wat hom omgeef ten spyt, “vergeet hy selde” sy seun Lennet se onuitwisbare skandvlek (bl. 207).

Wat veronderstel was om ’n stigtende herontmoeting tussen die broers te wees, ontaard skokkend in iets diep vervreemdends.

En asof hy kwansuis vir sy broer se sonde moet boete doen, verskyn daar ’n swart BMW met donker getinte ruite wat vir Lennet in sy visier hou – veral nadat hy ’n teenaanval “macgyver” (bl. 166).

Soos Gilbert du Toit in Tom Dreyer se roman Dorado (2016) die skool blink visse naloop wat voor sy geestesoog inswem, is Lennet ook gou uit sy gebaande weg ontspoor – op pad na wie weet waar.

Nes Braam Fourie in Jaco Botha se Miskruier (2005) is dit noodweer wat noop dat Lennet opnuut op die vlug slaan.

Anders as in die Franskraal van sy jeug, voordat sy oupa hom uit hul strandhuis geboer het, is hy terstond daar ’n buitestander, ’n ontheemde – ’n perlemoen-asbak vergete onder ’n melkhoutboom.

Die daggaboer is sonder twyfel ’n opwindende, soms onpeilbare nuwe simbaalgeskal in die Afrikaanse letterkunde.

Die klank is skor en grys – ’n beek vol pessimisme wat dikwels meeslepend kolk. Dit is ’n verrassende en ratse verhaal, wat meesal met beduidende bedrewenheid sy eie loop kry.

Die derdepersoon-verteller se oog is nie alsiende nie. Lennet, geneig tot sinestesie, is die fokalisator. Die leser betrag die wêreld dus deur sy opgewasemde bril van vertwyfeling, afsku en, uiteindelik, gedwonge gelatenheid.

Selfs in sy meer onlangse gedaantes – dink maar aan Toorberg (1986) en Foxtrot van die vleiseters (1993) – skep die plaasroman tradisioneel ’n ruimte waarin familie, hoe verskeurd ook al, en ’n verknogtheid aan grond voorop staan.

Deur die aanwend van tegnieke eie aan die meer resente distopiese romans in Afrikaans keer De Kock hierdie temas op hul kop.

Daar is immers wieletjies tussen Lennet, die bywoner, en die grond. Hy verbou ’n gewas waarvan die versprei en verbruik onwettig is – soveel so dat hy die hoe en waar daarvan op die donker internet moes leer.

Die patriarg is amper dood. Lennet is volkome van sy familie en alle menslike kontak vervreem. Boonop ondergrawe sy broer se besoek heel ironies die onderbou van familie.

De Kock se prosa is selfversekerd en soms gewaagd. Neologismes lê die brood soos rosyntjies vol. Baiekeer is hulle treffend: ’n klip “donk” teen ’n boomstam (bl. 13) en oorweging skenk aan iets is “peins-en-besluit” (bl. 121).

Tog is daar ook enkeles wat minder treffend is of meer na taalfoute klink: “katelmaaie” (bl. 85) en “alom die maand” (bl. 27).

Met die nuwerwetsheid is daar ook stukke streeksrealisme vervleg. Telkens word iets tot ’n “aardigheid” verklaar.

Mooi beelde is volop. Daar is byvoorbeeld ’n “baldakyn van blare” (bl. 179) en iets het ’n “indruk gelaat op die klei van sy geheue” (bl. 144).

Al word die roman se trefkrag effe verminder deur die te maklike sleutel wat uiteindelik vir die leser gegee word om Lennet se toestand mee te ontsyfer, stel die aanskoulik filmiese Die daggaboer onteenseglik moeilike vrae.

Oor identiteit, eiendom en behoort. En oor die duistere lyn wat goed van kwaad skei.

“Hy het nog altyd gedink,” pieker Lennet heel pertinent vir die hier en nou, “kriminele kan met soveel meer wegkom as hulle net beter beplan. Kyk byvoorbeeld na politici. Hoeveel van hulle is nie kriminele nie, maar beland hulle in die tronk? Amper nooit. En dis omdat hulle soveel meer berekend is” (bl. 196).

En onder swaai die snoeiskêr, doodgewoon, heen en weer.

  • Jean Meiring is ’n Johannesburgse regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.