Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Een kerk, twee godsdienste

Die skokontdekking dat die Jesus van die “huis, skool, kerk en samelewing” nie strook met wat die Bybel oor hom vertel nie, was vir die kerksakejoernalis Neels Jackson die begin van ’n persoonlike geloofstryd wat hy in Jesus vir almal helder en eerlik uiteensit, skryf Tobie Wiese.

Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk deur Neels Jackson. Uitgewer: Lux Verbi. Prys: R210.

Waarskynlik die gerieflikste – én tegelyk gevaarlikste – plek waar ’n mens intellektueel óf geestelik kan beland, is wanneer jy vir jouself sê: “A, my soektog is verby. Genoeg geswoeg en gewroeg. Ek het gearriveer!”

As dít die houding van die joernalis Neels Jackson was wat vir bykans 30 jaar oor kerksake verslag gedoen het, sou dié boek nooit die lig gesien het nie. (Terloops, as iemand nog meen of verwag dat joernaliste totaal objektief en persoonlik onaangeraak hul werk moet doen, wys dié boek dit is nie moontlik – en dikwels ook nie wenslik – nie.)

Jackson het die bekende NG paadjie geloop: gedoop, opgevoed, gekatkiseer . . . en blootgestel aan ’n min of meer letterlike lees van die Bybel. Huis, skool, kerk en samelewing het sy siening van Jesus gevorm totdat hy op ’n dag besef het dat dít nie strook met wat die Bybel oor Hom vertel nie. Boonop het diepgelowige tannies hul hoede Sondae by die huis begin los, hoewel Paulus hoofbedekkings vir vroue as deel van kerkdrag uitdruklik voorskryf. En mettertyd die skokkende ontdekking dat die Bybel “foute” bevat – vroeg in Genesis al met verskillende weergawes van hoe die skepping tot stand gekom het.

Vir die skrywer was dit nie net die afskeid van onskuld nie, maar ook die begin van vertwyfeling en ’n persoonlike geloofstryd. Hy kies om as ’t ware voor te begin en opnuut op soek te gaan na God, na die ware Jesus en na die eintlike betekenis en bedoeling van die Skrif. Onderweg maak hy allerlei “kleiner” ontdekkings, soos dat die skepping van “ ’n metgesel vir die mens” nié as die instelling van die huwelik gesien kan word nie.

Die vanselfsprekende groter ontdekking is dat die Bybel nie deurgaans letterlik gelees kan word nie, eerder kreatief-dinamies. Teoloë noem dit ’n “literalistiese” vergeleke met ’n “hermeneutiese” benadering; Jackson vermy sulke akademiese taal en vertel sy verhaal vir die Kretie en die Pletie.

“Daar is baie mense, goeie, opregte gelowiges wat dink hulle volg Jesus, maar eintlik is hulle besig met ’n godsdiens wat meer lyk soos die godsdiens van die Fariseërs as soos die godsdiens wat Jesus geleef het.”

Op sy nuwe studiereis word dit vir hom duidelik dat die Bybel ook die verhaal van twee soorte godsdiens vertel – dié van die Fariseërs en Skrifgeleerdes, en dié van Jesus. Vir die destydse godsdiensleiers het hul (geestelike) lewe om een aspek gewentel: die meganiese gehoorsaamheid aan die wette van Moses (613 in die eerste vyf boeke van die Bybel!) en “die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte”. Vir Jesus, daarenteen, gaan dit oor die nuwe gebod wat Hy sy volgelinge gee: “dat julle mekaar moet liefhê soos Ek julle liefgehad het”.

Min hedendaagse gelowiges sal in die spieël kyk en ’n Fariseër of Skrifgeleerde sien, maar Jackson berig dat hy dié twee godsdienste steeds in die kerk waarneem: “Daar is baie mense, goeie, opregte gelowiges wat dink hulle volg Jesus, maar eintlik is hulle besig met ’n godsdiens wat meer lyk soos die godsdiens van die Fariseërs as soos die godsdiens wat Jesus geleef het.”

Wat het dit met die gay-aangeleentheid (soos die boek se subtitel suggereer) te doen? Veel, want in albei gevalle is die benadering tot die teks – hetsy die wette van Moses of die volle Bybel – deurslaggewend. Ter sake is dat die Ou én Nuwe Testament minstens ses tekste bevat wat, indien dit letterlik verstaan word, homoseksualiteit verdoem. Jackson bespreek elkeen van dié tekste uitvoerig en toon aan dat dit onder meer gaan oor ’n bendeverkragting (in Sodom en Gomorra), perversiteit, die verydeling van voortplanting, dat mans nie verneder mog word nie, orgies, heidense gebruike en dat die Israeliete hulle vir God moes afsonder. Nie in enige van dié tekste gaan dit oor die liefdevolle verhouding tussen twee mense van dieselfde geslag nie. Trouens, die Bybelskrywers het glad nie dié verskynsel wat in die 19de eeu as homoseksualiteit gemunt is, geken nie. Ongelukkig het die Afrikaanse vertaling van 1983 die term “homoseksuele verhouding” ingevoer, hoewel dit nie in die oorspronklike teks voorkom nie.

Die skrywer bied ’n noodsaaklike kompas wat regdeur die lees van die Bybel die koers aandui: Om as uitgangspunt nie te “hoor” wat die teks nou (oënskynlik) vir ons sê nie, maar vas te stel wat die teks gesê het vir die destydse lesers op wie dit eerstens gemik was – en dié boodskap vir vandag se lesers en omstandighede te “vertaal”. Daarby die bepalende rigsnoer: Wat sou Jesus gedoen het? Die liefde doen immers die naaste geen kwaad aan nie.

By geleentheid, waar hy lesers aanraai om hulle nie oor gays se sekslewe te bekommer nie, sorg hy vir ’n glimlag: “Laat dit maar aan hulle oor. Hulle sal regkom.”

Die subteks is duidelik: Die Bybel is nie ’n reëlboek nie. As jy sy waarhede en relevansie wil ervaar, onderneem ’n persoonlike en ondersoekende reis met so min as moontlik bagasie.

Vir Jackson is dit ’n avontuur wat steeds voortduur. Sy deeglikheid, eerlikheid en beskeidenheid maak van sy “reisverslag” ’n prikkelende en verrykende leeservaring. Hoewel hy met reg beslis kan wees oor sy gevolgtrekkings, sê hy meermale: “Dit lyk vir my . . .” Sy skryfstyl is saaklik, helder en sonder fieterjasies. (By geleentheid, waar hy lesers aanraai om hulle nie oor gays se sekslewe te bekommer nie, sorg hy vir ’n glimlag: “Laat dit maar aan hulle oor. Hulle sal regkom.”)

Dit sal jammer wees as potensiële lesers verbyhou omdat die boek maklik gesien kan word as “net nóg een oor die kerk en gays”, terwyl dit veel meer bied.

Indien dit ’n groot leeskring beleef – só hoop ek – sal dit ’n belangrike bydrae lewer om die Bybel se relevansie en geloofwaardigheid (!) by baie mense te herstel.

  • Tobie Wiese is ’n skrywer en oudjoernalis.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.