Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eenmalig en volksbesit
Foto: Philip de Vos

Die eer het Langenhoven toegekom dat hy die volk leer lees het, maar Audrey Blignault, het Hennie Aucamp gesê, “het gesorg dat die volk blý lees”.

Om by Aucamp, ’n hartsvriend van Blignault aan te sluit, sou ek sê dat haar leesopdrag aan “die volk” wyer gestrek het as net die Afrikaanse boek. Sy het die leser opgehef tot wêreldburgerskap. Dít is “geen klein ding in een mensch zijn leven”, om die digter Timmermans aan te haal.

Dis waarvoor ons haar opnuut kan eer en voor onthou, veral nou in haar eeufeesjaar. Steeds hoor ek die weerklank van haar inspirerende woorde: “Moet nooit die vormende invloed van ’n goeie boek onderskat nie.”

Audrey het die lewe omhels. Ondanks haar eie persoonlike verliese en teenspoed was durende lewensvreugde ’n kenmerk van haar.

Met haar unieke gawe van vriendskap het sy onvergeetlike momente tussen haar en ander geskep – dikwels rondom boeke.

Wat merkwaardig is, is dat mense wat haar nie geken het nie en slegs met haar werk in aanraking was of haar stem oor die radio gehoor het, haar as vriendin geëien het. Sy had hierdie besondere vermoë om die aanvoeling vir waardering en toegeneentheid tot vriendskap te verhef.

’n Bemoedigende woord of ’n goeie grap wat sy met ander deel, open ’n deur vir gesprek en wedersydse ervaring. Wat Audrey dalk die meeste tot ander aangetrek en vriendskapsbande geheg het, was ’n wedersydse herkenning van die avontuur van lewe, die belangrikheid van hierdie dag en hierdie oomblik.

Sy het geglo dat ’n mens ’n spesiale oomblik kon vashou waarin jy die lewe kan vier.

Om Audrey as vriendin te ken, is om intens al die seisoene van lewe te ervaar. Haar betrokkenheid met jou dwing jou tot bewuste lewe.

Jy moet omhelsend met die lewe omgaan. Jy moet die lag, die traan, die ironie en die aardsheid van die boeregrap kan waardeer. Met Audrey loop jy ’n pad – verkennend, ondersoekend, avontuurlik, plesierig en jolig.

My verbintenis met Audrey strek vanaf my skooldae en het gelei tot ’n innige en voedende vriendskap tot met haar dood. Sy was ruim van gees en hart. Haar borrelende entoesiasme vir boeke was altyd vir haar ’n skakel met ’n ander. ’n Boek was vir haar ’n avontuur en as sy daarvan gehou het, was haar vreugde dubbeld as sy dit met ander kon deel.

Haar 11 bundels essays het haar volksbesit gemaak. Haar guitigheid, humor, deernis met ander en nostalgie vir haar kleintydse heimat, Bredasdorp, Waenhuiskrans en die Overberg het derduisende lesers van minstens twee generasies vir haar gewen. As jy haar gelees het, hét jy haar geken. Sy het immers daardie unieke gawe gehad om meelewend intiem met haar leser om te gaan.

Sy het haar oorgegee aan die betowering van boeke. Vir haar is boeke die draer van skoonheid, die beste verskansing teen eensaamheid en die aanslae wat die lewe bring.

In tye van verdriet en vertwyfeling, het sy haar na haar boeke gewend en daar die vertolking van haar ervaring gevind. Boeke was ook vir haar ’n band met ander mense, ’n sleutel tot vriendskap waar sy ook al gegaan het.

Om haar vreugde wat boeke aan haar gegee het met ander te deel, het sy as haar lewenstaak beskou. “ ’n Mens lees met die doel om die lewe en die mens wat leef in die afgeslotenheid van sy eie innerlike bestaan en in sy verhouding tot ander mense beter te begryp. ’n Mens lees om jou bewustheid te verruim, om jóú ervaring aan die ervaring van ander te meet. ’n Mens lees uit die dringende honger van die verbeelding, wat onophoudelik op die lewe teer. ’n Mens lees omdat jy onvergelyklike vreugde vind in die uitdrukkingsmiddel van die woord. Jy lees ook, glo ek, omdat jy die ewigheid in jou hart het sonder dat jy die werk wat God doen van begin tot end kan uitvind.”

In ’n vol en ryk lewe soos Audrey Blignault die voorreg gehad het om te hê, is die laaste wat vir haar bly staan het – vriendskap en boeke – die na-woord van ’n lewe.

Meer oor:  Afsterwe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.