Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eerlike relaas oor stryd met gestremde kind

‘Die kind se naam is Anneke’, wat volg op ‘Bloedvreemd’, Juliana Coetzer se blitsverkoper-debuut oor haar dogter se breinsiekte, raak die leser diep omdat dit so ’n spektrum van emosies ontlok en nuwe perspektief bring op persoonlike verlies, skryf Riette Rust.

Die kind se naam is Anneke deur Juliana Coetzer. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R275.

Daar is mense wat ’n skildery kies om by die kleur van hul meubels te pas en ander wat kuns kies oor die emosie wat dit ontlok. Dit is ook waar van Juliana Coetzer se debuut, Bloedvreemd (2015), en die opvolgboek, Die kind se naam is Anneke, wat pas verskyn het. Albei verhale raak jou intens omdat dit so ’n spektrum van emosies – skok, hartseer, moedeloosheid en empatie – ontlok.

In Bloedvreemd vertel Coetzer, ’n psigoterapeut, van die ingrypende uitwerking wat haar sewejarige dogter se gestremdheid het. Hoe hou ’n ma haar gesin en huwelik heel en maak sy vrede met hul enigste dogter wat weens breinsiekte nou in “ ’n ander vorm” leef? Die gesin wil hul sprankelende, slim kind terughê soos sy was voor die waterpokkievirus chaos in haar brein gesaai het – om nie te praat van die daaglikse epileptiese toevalle nie.

Namate Anneke se verstandelike agteruitgang maandeliks sigbaarder word, soek die skrywer na ’n wonderkuur – van ’n spe­siale dieet tot ’n besoek aan ’n Nigeriese profeet. Sy staan aanvanklik op haar knieë en vas selfs, maar niks help permanent nie.

Breedweg beskou, ondersoek albei boeke die stryd om aanvaarding en die herevaluering van wat dit beteken om ’n ouer te wees. Van die begin af skryf Coetzer skreiend eerlik oor haar emosionele binnewêreld. Die skrywer ontmoet vir Martie wie se dogter aan selfdood gesterf het en dié verwoord iets wat hulle albei weet: “Iets van myself het saam met my kind doodgegaan.”

Ses jaar ná die verskyning van Bloedvreemd wou lesers steeds weet hoe dit met die Coetzers en hul dogter gaan. Die kind se naam is Anneke beantwoord dié vraag.

Anneke is nie net ’n naam nie. Dis ’n storie.

Die siekte, wat ná vier jaar eers geïdentifiseer is as Landau-Kleffner-sindroom, woed al vir sowat 25 jaar. Anneke is die enigste lyer in die land. Die prognose is nie goed nie: Haar brein sal steeds agteruitgaan, die epileptiese toevalle sal aanhou, haar persoonlikheid sal verander en haar woede en aggressie sal toeneem. Daar is skade aan haar temporale lob wat aggressie en woede beheer en ook die oorsprong van spraak, geheue en taalvaardighede is.

Die gesin, wat Anneke se twee broers insluit, het geen keuse nie as om te aanvaar dat hul lewens vir ewig verander het. Een van die ontstellendste feite is die gesukkel om met hul dogter te kommunikeer, want Juliana en haar man, Fanus, weet die ou Anneke leef steeds voort diep binne-in die “nuwe” kind.

Wanneer haar dogter met rukke en stote nog verstaanbaar kan gesels, sê sy aan Coetzer: “Ek wil ook verlief wees. En trou. ’n Babatjie is vir my so pragtig.” Dit is, soos die prestasies en mylpale wat haar tydgenote behaal, nie moontlik nie.

Anneke kry kombuiswerk by ’n bewaarskool. Die geld maak haar opgewonde, maar later wil sy eerder ’n “regte werk” hê, al besef sy self dat sy nie by magte is om dit te kan doen nie. Later, op bl. 210, lees jy: “Daar is ’n deel van Anneke wat deur die jare nooit verander het nie – die behoefte aan stimulasie en werk.”

Anneke is nie net ’n naam nie. Dis ’n storie.

Die Coetzers se verhuising van Gauteng af Kaap toe is vir die hele gesin, veral vir Anneke, ’n aanpassing. Met Fanus se aftrede het hulle gehoop op ’n rustiger lewe, maar die skrywer het intussen besef hul dogter is nie net verstandelik gestremd nie, maar ook psigiatries versteurd. Sy sal in ’n versorgingsoord tuisgaan, beplan hulle, maar in die tehuis is daar geen keer aan Anneke se woede nie en word die Coetzers gedwing om haar tuis te versorg.

Tuis gaan dit egter nie beter nie. Anneke se siekte plaas onmenslike druk op haar ouers se huwelik en hul seuns ly onder al die onmin tuis. Boonop verstaan Anneke ál minder. Sy word eensaam. Haar maats sny haar uit, want sy is “mal”. Haar epileptiese toevalle – nie die “gewone” soort waarvoor medikasie help nie, maar die nagevolg van breintrauma – lei tot ernstige beserings en sy beland gereeld in die hospitaal. Sy raak paranoïes en psigoties.

’n Normale sosiale lewe is die gesin nie beskore nie. Hulle enigste uitstappies is winkel toe, maar selfs dít is nie moontlik sonder ernstige epileptiese toevalle, die starende oë en die gedurige “Shame, foeitog, siestog, sorry” (bl. 49) nie.

Die gesin moet vrae beantwoord en na ander se onsensitiewe opmerkings luister, soos “Het julle al by die doel van jul dogter se siekte uitgekom?” (bl. 197) en “God gee vir die beste ouers gestremde kinders” (bl. 199). Sulke vrae irriteer Coetzer grensloos. Sy skryf sy sal meer baat vind by: “Hoe het Anneke se siekte jou lewe beïnvloed?” Vir die gesin is daar geen wegkomkans nie. “Voel dit nie vir jou ook soms of jy uit hierdie storie wil padgee nie?” vra die skrywer op bl. 85 vir haar man.

My naam is Anneke het duidelik ’n strenger redakteurshand as Bloedvreemd gehad. Coetzer se skryftalent en vermoë om ’n storie te vertel word geëer en die teks is van alle onnodighede gestroop. In Bloedvreemd het ’n paar foute deurgeglip.

Hierdie ware verhaal word hoogs aanbeveel, veral vir lesers wat self verlies of erge pyn ervaar het. Dit laat jou nadink: As ’n ander gesin so iets moet hanteer, plaas dit my trauma in perspektief, want my verlies het tog op ’n manier geëindig, of is aan die eindig. Die Coetzers s’n nie.

  • Riette Rust is ’n vryskutresensent en skrywer van Welgemoed.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.