Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eerste fietsryboek vir tieners

Die lys boeke wat al uit Christien Neser se pen gevloei het, is só lank dat dit moeilik is om te glo dat sy eers op 50 begin skryf het.

Sy het ’n BA-graad in spraakheelkunde, honneurs in Frans en ’n meestersgraad in toegepaste linguistiek en het haar lewe lank as spraakterapeut gewerk.

Christien Neser Foto: Hanneri de Wet

“Ek het ’n paar jaar gelede sommer vir die lekkerte ingeskryf vir ’n skryfkursus wat die ATKV-skryfskool in Potchefstroom aangebied het, maar toe ek daar aankom, het ek besef ek is ingeskryf vir ’n romanse­kursus en nie ’n romankursus soos ek aanvanklik gedink het nie.

“Ek was heeltemal uit my diepte en het nie gedink ek sal ’n liefdesverhaal kan skryf nie.

“Een van ons take by die skryfkursus was om die eerste hoofstuk van ’n boek te skryf, en omdat ek self drie tieners gehad het en geweet het ek sal myself nie tussen die lakens hoef in te skryf met ’n jeugverhaal nie, het ek dit as onderwerp gekies.

“Hierdie hoofstuk het toevallig die eerste hoofstuk van my eerste jeugverhaal geword,” vertel sy met ’n glimlag.

Haar boeke is immergewild en heerlike ligte leesstof vir veral tienermeisies.

’n Fietsrystorie vir oud en jonk

Haar jongste boek, Pienk is nie vir sissies nie, gaan oor ’n tienermeisie wat gedurende ’n gewone oefensessie aangeval en van haar fiets beroof word.

Tussendeur haar stryd om oor die trauma te kom, word Nicci se soeke na haar eie identiteit aangeroer.

Dis ’n heerlike moderne verhaal waarby oud en jonk aanklank kan vind, terwyl hedendaagse kwessies soos misdaad en geweld ook in die boek voorkom.

“Ek het besef daar is regtig min fietsrystories in Afrikaans beskikbaar en fietsry is so ’n gewilde sport deesdae vir seuns en meisies.

“Ons bly in ’n land waar misdaad daagliks deel is van ons realiteit en die onder­liggende tema van die boek is dat jy nie kan kies wat met jou gebeur nie, maar dat jy wel beheer het oor jou houding nadat iets slegs met jou gebeur het,” sê Neser.

Sy is glad nie prekerig in haar boek nie, want sy weet alte goed geen tiener hou daarvan as jy vir hulle preek nie.

Neser is self ook ’n fietsryer en dis duidelik in die boek dat sy haar onderwerp goed ken en verstaan. Sy en haar man ry saam op ’n tandemfiets en het al twee keer baie moeilike bergfietsmarathons soos die To Hell and Back tussen Oudtshoorn en Prins Albert voltooi.

Hy het pas deurgedring na die land se eindronde in redenaars en ons is verskriklik trots op hom.

“Ek dink op my heel lekkerste so agterop ’n fiets en baie van my stories het al daar ontstaan,” sê die skrywer.

Sy self het ook al met die misdaad in ons land te doen gekry en is al twee keer in haar lewe deur ’n gewapende rower aangehou – een keer gedurende ’n gewapende roof by hul huis in Bryanston, en een keer met ’n motorkaping.

“Ek weet hoe dit voel om in ’n geweerloop in te kyk. Dis ’n hartseer-realiteit in ons land. Maar Viktor Frankl het ’n bekende aanhaling dat jy kan kies of jy ’n slagoffer gaan bly en of jy jou omstandighede gaan gebruik om daaruit te leer en uit te styg,” sê sy.

Hoewel haar eie drie kinders lankal uit die huis is, is hul huiswerker se seun deesdae ’n gr. 8-leerling by Affies en Neser vertel dat sy nou van voor af weer ’n tiener in die huis het.

“Hy het pas deurgedring na die land se eindronde in redenaars en ons is verskriklik trots op hom.”

Neser werk nog deeltyds as spraakterapeut en is katkisasiejuffrou by die kerk.

Sy doen graag praatjies om kinders te motiveer om te lees.

Een van haar gunsteling­aanhalings is die volgende Russiese spreekwoord: “Vyf jaar van nou af gaan jy die produk wees van die mense wat jy ontmoet het, die keuses wat jy gemaak het en die boeke wat jy gelees het.”

Wen!

Pienk is nie vir sissies nie is ’n sagtebandboek en kos R160. Dit is geskryf vir kinders tussen 12 en 14 jaar.

Vyf gelukkige lesers kan elkeen ’n boek wen. Stuur jou naam, van, telefoonnommer en posadres na vrydag@media24.com met die woord “Pienk” in die onderwerpveld.

Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.