Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eet, bid en wees lief
Links: Marlene van der Westhuizen en Julius Swart berei ’n stuk vleis voor vir een van die kosklasse.

Die sjef, kookboekskrywer en oudjoernalis Marlene van der Westhuizen is alombekend. Behalwe die sewe kookboeke wat sy al gepubliseer het, is sy ook die aanbieder van haar eie kos­program, Van skaapstert tot camembert, op Via (DStv-kanaal 147) wat Maandae om 13:00, Donderdae om 19:00 en Vrydae om 01:00 en 06:30 uitgesaai word. Op die program neem sy kykers op ’n kosreis tussen haar twee huise in Groenpunt in Kaapstad en Charroux in Frankryk.

’n Paar maande gelede het sy juis haar jongste kookboek, Plate, in Johannesburg bekend gestel en by haar vriende Hannon Bothma (die Glam Guru) en sy man, Julius Swart, tuis­gegaan. Sy het aan Swart vertel van haar kosreise wat sy vier keer ’n jaar in Frankryk aanbied, en hy het haar impulsief gevra om eenkeer saam te gaan as haar assistent.

Die uiteinde was ’n onvergeetlike week in een van die mooiste Franse dorpies waar ’n groep mense wat aanvanklik vreemdelinge was, later as boesemvriende saam gekuier, kos gemaak en geëet het.

“Jy moet weet, hier by ons Hannon-kantore is ek die een wat die septer swaai en bevele uitdeel, en aanvanklik was ek so bietjie senuweeagtig om vir ’n week vir Marlene te gaan werk,” erken Swart, maar voeg dadelik by dat sy absoluut wonderlik was en hom baie vryheid gegee het om sy eie ding ook tussendeur te doen. Uiteindelik was hy skinker, kelner, groenteskiller en gasheer – terwyl hy eintlik ook soos ’n eregas gevoel het.

Die twee het Parys toe gevlieg en toe na Charroux gereis, ’n klein Franse dorpie wat maar 430 permanente inwoners het.

“Natuurlik is een van die eerste goed wat my opgeval het in hierdie dorpie hoe skoon en veilig alles daar is. Tydens ons verblyf het ons nooit eens die huis gesluit nie,” sê Swart.

Links onder: Hallo vanuit Charroux! Die kunstenaar Mari­tha van Amerom en Vanessa Lammers, albei van Somerset-Wes, het saamgekuier.
Julius Swart en Marlene van der Westhuizen koop vars groente by die plaaslike mark.
Die wat wil saamkook is welkom, anders kan jy net sit en wyn drink en observeer. Foto:

Voordat die res van die gaste gearriveer het, het Swart en Van der Westhuizen die voorbereidings begin doen – linne is uitgehang om lug te kry, hulle het mark toe gegaan vir vars produkte en saam alles in en om die huis netjies gemaak.

’n Paar dae later het die 12 ander gaste opgedaag wat daar naby in ’n pragtige ou gastehuis in die dorpie tuisgegaan het. Hulle is verwelkom met ’n sjampanje-middagete waarby slaaie en kouevleise bedien is.

Links onder: Charroux hoender met groenbone, die hoender word bedien met porcini-sampioene, wit truffel, droë sjerrie en ’n bietjie room.
Julius Swart hard aan die werk. Foto:

En die kookreis het begin . . .

Die volgende sewe dae is twee keer ’n dag saam kos gemaak, goeie wyn geproe, deur die dorpie gewandel en heerlik gekuier en geëet.

Dié wat wou help kos maak, kon inval, maar anders het Van der Westhuizen net demonstrasies gegee vir haar gaste wat gekyk en geleer het.

“Marlene se Franse huis is in die 1100’s gebou en onder die huis is ’n kelder met die wonderlikste wyne. Saam met elke ete het ons wyn gedrink,” vertel Swart.

Hoewel meestal Franse cuisine gekook is, het hulle ook een keer aan ’n Marokkaanse hoender­gereg gesmul. Soms is daar spontaan gesing, soms het Franse kafeemusiek oor die radio vir nog atmosfeer gesorg.

Die sewe dae het verbygevlieg en die gaste is daar weg as vriende met jare se herinneringe wat hulle altyd sal saamdra.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.