Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eietydse stories vir ‘die jeug van vandag’

Met hul boeiende moderne jeugromans ‘Die 17de veer’ en ‘Brand’ wys Nanette van Rooyen en Fanie Viljoen nogmaals hoe goed hulle hul teikenmark en dié se emosies verstaan.

Die 17de veer deur Nanette van Rooyen. Uitgewer: Lapa. Prys: R180.

Dié naaswenner in Lapa se vorige jeugromankompetisie is een van die mooiste stories wat ek in ’n lang tyd gelees het.

Die amper 16-jarige Lara het nooit haar pa geken nie en woon saam met haar ma en oom Dan. Dis skoolvakansie en sy doen skaduwerk by ’n tatoeëersalon. Deur haar oë leer die leser haar gesin as redelik onkonvensioneel ken. Haar ma se gemoed word deur pienk pilletjies bepaal en die liewe linksdrinkende oom Dan bring die grootste deel van sy dag in ’n leunstoel met sy blokkiesraaiselboek deur. Die ander hoofkarakter, Alex, is nuut in Kaapstad, het ’n troetel­uil, werk as ’n barista en het ’n baie belangrike sending om uit te voer.

Lara en Alex beland in dieselfde vriendekring, maar Lara se komvandaan-domino’s begin tuimel wanneer sy ’n stapel briewe van haar biologiese pa in haar ma se kamer ontdek – een vir elke verjaardag deur die jare, en saam met elke brief is ’n veer. Van Rooyen beskryf Lara se ontdekking rou gevoelvol wanneer sy na haar ouerhuis verwys as “die huis waarin my biologiese pa se stem in ’n hoededoos gevange gehou is”.

Die 17de veer is ’n moderne, gevoelvolle, oorspronklike storie. Uit die beskrywings en dialoog is dit duidelik dat Van Rooyen haar teikenmark goed ken en te oordeel na die uiteenlopende onderwerpe waarmee die storie aanmekaar gesit is, is daar ook baie navorsing gedoen. Van Rooyen kry dit reg om binne die boeiende, snel vloeiende storielyn ook interessante voëlfeite in te pak.

Vir Die 17de veer verdien die skrywer een van die spoggerigste pluime in haar hoed.

Brand deur Fanie Viljoen. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R195.

Soos in Veldiep (2018) bewys Fanie Viljoen met Brand hy weet presies hoe om onder die vel van tieners in te klim. Hy verstaan nie net hul emosies en kan soos hulle kommunikeer nie – hy kan ook vír hulle skryf.

Vroeg in die verhaal merk die hoofkarakter, Arian, se pa op dat daar “iets nie lekker is met daai kind nie”. Die leser het in hierdie stadium ook pas raakgelees dat Arian die skoolberader spreek nadat hulle ontstellende tekeninge in sy huiswerkboek ontdek het. Viljoen slaag daarin om in ’n roerende storie “daai kind” en variante van “daai kinders” as’t ware aan die brand te skryf.

Hoekom sou Arian obsessief wees oor vuurmaak en hoekom dink Estie Arian kan help om die perfekte prentjie waarna sy op soek is te voltooi? Om van sy woede ontslae te raak wil Arian vlamme sien. Is dit as gevolg van ’n selfbeeldkwessie dat hy aan sy terapeut noem hy behoort met ’n “brandgevaar-waarskuwingsbordjie” te kom?

Arian se hangertjie sê wel “volg jou vuur” en dis wat Estie doen as sy Arian uitvra. Sy koop ook vir hom vuurwerk. Arian voel hy het iemand nodig, maar hy kan nie na iemand uitreik nie.

Dit voel vir Estie asof “sy woorde gate in haar lyf kap” wanneer hy haar vra om hom uit te los.

Uiteindelik maak die antwoorde op bogenoemde vrae nie saak nie. Fanie Viljoen het hierdie storie briljant aanmekaar gesit. Hy skroom, nes sy karakters en sy jong lesers, nie om te skok, seer te maak of grense te verskuif nie. Sy taalgebruik is aktueel en nooit moraliserend nie en sy karakters lewe.

Tieners sal met Viljoen se karakters identifiseer en vir baie van “daai kinders” bied Brand moontlik ’n blaaskans om in te pas, sigbaar te word of teen wisselende emosies opgewasse te bly. Dié leesbare, eietydse verhaal sal deur lesers van 13 en ouer verslind word. Magdel Vorster

Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Brand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.