Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ek duisel op pad na Eendekuil

Resensente is gaande oor die digter Charl-Pierre Naudé se debuutroman, ‘Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey’. Hier is ’n proesel perfek vir die laaglêseisoen.

Die fastback het soos ’n kettieklip deur die duisternis gefluit.

Ek het verbete suidooswaarts gereis. Deur die droë maar soeler wordende karosveld, soos dit in die volksmond bekend staan, tot in ’n heel onbekende strook van die gees. ’n Streek waar ek tot toe nog self nooit was nie.

Hier het die son vir die laaste maal ondergegaan. Onophoudelik so. Dit was ’n historiese feit wat mens met jou toekomsoog kon aanvoel.

Ver voor in die pad het ek gaan staan om my kar te sien aankom: verby pluimgras wat in flitsende vlekke op die maanverligte sandveld dein. Die saamgehurkte grasse het heen en weer gegolf nes langhaarmalles, waarskynlik vroue. Of was dit net ek wat duisel om die draaie?

Vir twee dae en nagte het ek so gery. Deur die onsêbare tamboekieland wat soos ’n vlot op blommegeure dryf. Al met die sogenaamde tapytkus langs. Golwende, deinende wêreld. Hier wei koeie soos op ’n speelmat.

En o, die verdere kuste! Die sonskynkus, die romantiese kus, die bek-vol-tandekus met sy skerp, regop rotse, om maar ’n paar te noem.

En wat noem mens daardie ronde struike of bessiebome nou weer? O ja, aptytbosse. En die sogenaamde flennievlaktes met die deurskynende kwartskoepels wat plek-plek loodreg bo die eindeloosheid van die kort grassies troon? Kwartskerke, amenklippe, mos genoem.

Mensig, ek was ’n kaskarweergawe van Noag, in dié andersheid! By een van die bergpasse afgeskiet soos ’n koekie seep, die skuimende rivier onder het ek net-net gemis.

Rooigras, treurwilgers, plataanlanings. Ineengestrengelde bosgewasse wat karbonkelrig teen die berghange uitklou. Plate water wat soos silwer pierings in apokriewe boeke skyn.

Middernagtelike vrugtekelners het met glinsterende blikskinkborde in die pad voor my ingehardloop. Die smarag van hul turksvye was verblindend, handgranate van Eden, wat jou nagvisie opblaas.

En daar was bruisende seeswembaddens aan die onderkant van loodregte rotshange, perfek vierkantig langs mekaar, Godspoele uit ’n Hallelujaliedjie, kan mens jou verbeel.

Ek het in ’n stadium witgepleisterde wesens langs die pad teëgekom, haastig aan die loop van een wêreld na ’n ander, geklee in strooi. Dit word glo donkerskool of “die lopendes” genoem.

Ek het drie keer oorgeslaap. Tot op die oggend van my aankoms. Eendekuil, het die plekbord gesê. 50 km sóóntoe. Dan draai jy na links af.

Dis toe dat ek na my ledemate kyk en iets vreemds aan myself opmerk. Ek was valer as voorheen. As ek mooi kyk na my hand, soos in stip, het ek regdeur gekyk. Ek was deurskynend. Asof my regte liggaam op ’n ander plek is.

  • Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is uitgegee deur Tafelberg en kos R330 by goeie boekhandelaars.
Meer oor:  Uittreksel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.