Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Ek probeer niemand anders wees nie’

Die gevierde skrywer, vertaler, fotograaf, onderwyser en operasanger Philip de Vos word op Jeugdag 80 jaar oud. Hy het aan Christiaan Boonzaier erken dit het al beter met hom gegaan.

Die geliefde limeriekmeester Philip de Vos word op 16 Junie 80 jaar oud. Foto: Peter Theron

Philip de Vos het nie meer ’n TV nie.

Sowat ’n maand gelede het ’n boef diep in die nag by die limeriekmeester se huis in Groenpunt, Kaapstad, ingeglip en sy TV gegaps.

Maar die skurk het baie meer as dit by ons eie Dr. Seuss gesteel: Die bekroonde skrywer, vertaler, fotograaf, onderwyser en operasanger, wat op Jeugdag 80 jaar oud word, se gemoedsrus is daarmee heen. Die deksel wat die donkerte binne hom in bedwang hou, is hom ook ontneem. Sy binneste woel nou soos ’n wasmasjien.

“Ek het vanoggend verskriklik gevoel,” erken hy. “Ek het gedink ek is reg om hospitaal toe te gaan. Weer.”

Hy praat openlik oor die inbraak se invloed op sy gemoed en die “groot depressie” waarteen hy al dekades baklei, veral op 40, 60 en nou weer op (byna) 80.

“Ek maak nie ’n geheim daarvan nie. Dis soos enige ander siekte. Ek was twee maande gelede weer in die hospitaal. Depressie is ’n aaklige ding. Jy kan dit nie aan iemand verduidelik tensy jy self daardeur gaan nie.

“Dit was nie maklik met Peter (sy lewensmaat) wat ’n paar dae ná die inbraak ’n maand lank oorsee was nie. Dit was die langste maand van my lewe. Ek was te bang om uit te gaan. In die aand het ek myself agter ’n Trellidor toegesluit.”

Jy besef skielik hoeveel jaar jy oor het ná 80. En wat lê duskant dit? Ek moet seker nie die dood sê nie; dit klink te morbied.

Hy skink tee op ’n tafel reg langs die skuifdeur waar die ongenooide besoeker in en uit gewals het. Hy gee die koppie tee net halfpad aan; in die pylvak, bewe hy te veel om dit soos ’n aflosstokkie aan te gee. Die “bewerasies” het kort ná die inbraak begin en is sedertdien sonder ophou, maar dit is eintlik ’n kombinasie van dinge, sê hy: die inbraak, Peter se reis, ook die ouderdom.

“Jy besef skielik hoeveel jaar jy oor het ná 80. En wat lê duskant dit? Ek moet seker nie die dood sê nie; dit klink te morbied.” Hy lag vir die eerste keer uit sy maag.

“En mense word oud, deesdae tot 100. Kyk my lewenslyn!” Hy strek sy palm oop. “Dis verskriklike lang lewens.” Maar hy wil nie self dié mylpaal haal nie. “Nee nee. Jou vriende gaan om jou dood. Wie’s op die ou end oor?”

Van sy hartsmense, onder andere die forensiese patoloog prof. Deon Knobel en die aktrise Christine Basson, het onlangs reeds vertrek.

“Christine het ek jare gelede ontmoet toe sy nog by Sukovs (die Streeksraad vir die Uitvoerende Kunste van die Oranje-Vrystaat) toneel gespeel het. Sy het juis verlede week verjaar, ’n dag voor haar dood. Ek het haar die oggend gebel en ’n boodskap op haar masjien gelos, maar sy het dit seker nooit gehoor nie.”

Sy (Christine Basson) het juis verlede week verjaar, ’n dag voor haar dood. Ek het haar die oggend gebel en ’n boodskap op haar masjien gelos, maar sy het dit seker nooit gehoor nie.

Terwyl hy dit oproep, sak hy in ’n poel van herinneringe weg: ’n lewe langer as dié van sy pa, Philip (69), maar nog nie so lank soos dié van sy ma, Matty (93), nie; ’n loopbaan met draaie en swaaie wat hy nooit kon voorspel nie; talente (soos sy skryfwerk) wat hy eers later ontdek het; prestasies en pryse wat nie “allergroots” is nie; die verganklikheid van verliefdheid; ’n geseënde lewe sonder professionele mislukking of homofobie.

“Wanneer ek terugkyk, sien ek meestal net die goeie dinge. Ek besef byvoorbeeld anderdag hoe verskriklik baie dinge ek in my lewe gedoen het: onderwyser, operasanger, foto’s geneem, skryf, radioreekse, vertaler – soveel dinge . . .”

Dis moeilik om hom op te som, sy loopbaan en nalatenskap saam te vat.

“Ek dink nie aan my as iets spesifiek nie. Nooit nie. As ek foto’s neem, is ek ’n fotograaf. As mense vra, ‘Wat is jy?’ sê ek maar wat ek op daai oomblik doen.”

Wat is hy nou?

“Depressief.” Hy lag. “Nee, wat is ek? Ek weet self nie.”

Hy doen op die oomblik niks, sê hy.

“Ek het my kreatiwiteit verloor. Verlede jaar was ek hospitaal toe. Skokbehandeling. En daarna het ek absoluut niks kreatiwiteit oorgehad nie. Dit was altyd soos ’n kraan wat ek oopgedraai het, maar ek bekommer my nie te veel daaroor nie. Ek dink ek het gesê wat ek wou sê.”

Soos die skilpad in een van sy geliefde versies wat net nie kan nie:

Skilpad kan nie sing nie

Skilpad kan nie spring nie

Stom

en

stadig

stap

hy aan

waar sy skilpadpad mag gaan.

Maar hy is nie uitgeknikker nie. Nee, stilsit kan hy nie – nie as jy ’n aandagspan “soos ’n muskiet” het nie. Hy gim, hy gaan stap met sy staffie, Toffee, hy “loer en lees en kyk” op Facebook, hy leen en lees sy buurvrou se Huisgenoot. Sy suster, Rea, het vir hom ’n waterverfstel vir sy 80ste verjaardag gegee – dalk ontdek hy ’n verftalent ook – en hy sal graag weer wil reis en kreatief wees. Dan is daar nog twee partytjies wat wag.

Ek weet nie eintlik iets van fotografie nie. As ek iets mooi sien, druk ek net die knoppie.

“Ek sal voor ek doodgaan weer Florence (in Italië) wil sien – en ek wil definitief nog ’n paar foto’s van bekendes neem, voor ek te veel bewe.”

Ons blaai deur sy fotoboek, Milieu, waarin hy foto’s van meer as 120 bekendes geneem en gepubliseer het. Joanie Combrink, Susanne Beyers, ’n foto van Breyten Breytenbach wat glimlag.

“Ek weet nie eintlik iets van fotografie nie,” sê hy beskeie. “As ek iets mooi sien, druk ek net die knoppie. En ek het net altyd probeer om nie te beïndruk met die bekendes te lyk nie – hulle is ook maar net mense.

“Kyk nou daar,” sê hy oor ’n foto van die chirurg Chris Barnard. “Net ’n mens – en hy sit langs ’n plastiese boom.”

Hy hou nie daarvan om self voor die kamera te wees nie.

“Ek glimlag nie op foto’s nie, ek is glad nie fotogenies nie – en ek neem nie selfies nie.” Hy neem wel nou en dan ’n selfportret. “Ja, maar dis anders: Ek sit die kamera op ’n driepoot daar en hardloop vinnig na die anderkant van die vertrek. Dit is seker soos ’n selfie.”

Hy sal liefs net onthou wil word “as die man wat lief is vir diere – ook dat ek mense laat goed voel het. Mense sê altyd: ‘As ons jou werk lees, voel ons so goed daarna.’”

Sy raad aan jongmense, vat hy in een van sy versies saam:

Elke voëltjie het sy lied,

hadeda en kokkewiet.

Of dit fraai of goor of gek is,

jy moet sing soos jy gebek is.

“Dis die belangrikste les,” sê hy. “Doen wat jy kan. Ek probeer niemand anders wees nie. Ek kan nie skryf soos Karel Schoeman nie. Ek skryf soos ek skryf. Ek doen wat ek doen. En ek dink elkeen kan.”

Meer oor:  Christine Basson
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.