Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Ek soek klarigheid vir myself’

Die kykNET-Rapport-niefiksieprys ter waarde van R250 000 is toegeken aan Elsa Joubert vir ‘Spertyd’, die derde aflewering van haar outobiografie, wat deur Tafelberg uitgegee is.

Elsa Joubert Foto: Natalie Gabriels

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” oor die jare slyp?

Reeds van my vroegste kinderjare af het ek geweet ek wil ’n skrywer word. Ek het dagboek gehou en dit was ’n vreugde om alles wat ek beleef neer te stippel. Dit het ’n lewenswyse geword en niks was van groter belang nie.

Ek het ook in ’n huis met boeke grootgeword; boeke was en bly my vriende. My pa het my gedurig aangemoedig om te skryf. Selfs ná die geboorte van my kinders het hy bly vra: Waaraan skryf jy? Wat beoog jy? Die eerste keer wat hy vir my gesê het iets wat ek geskryf het, is goed, is toe hy die bustoneel in Suid-Madagaskar in my boek Suid van die wind, gelees het. Dis jou beste, het hy gesê.

‘Boeke was en bly my vriende.’

My skryfproses loop gewoonlik só: ’n Mens word bewus daarvan dat jy ’n groot behoefte, drang en noodsaak het om ’n probleem te ondersoek, om vir jouself, eerstens, ’n oplossing te probeer soek. Dit oorheers jou later, byvoorbeeld die afgelope paar jaar die probleme wat oudword bring. Jare tevore was dit Poppie en haar familie en die byna onmoontlikheid vir hulle om ’n blyplek te kry, en nóg verder terug die arme Hollander Van der Lingen te voet deur die droë vlaktes van Afrika. Hoe sou hy dit kon oorleef? Let wel, ek skryf nie met ’n missionaris-motief nie; ek wil niemand beïnvloed nie. Ek soek klarigheid vir myself. My reisverhale vorm deel hiervan; daar is altyd ’n vraag om te beantwoord, al kry ek die antwoord in ’n oorvol bus in die droë en verlate bos in die suide van Madagaskar.

Hoe verander skryf (of die skryfdaad) jou as skrywer?

Dit verander my nie as skrywer nie, maar as persoon wel. Jy kry hopelik meer insig en begrip. Neem weer vir Poppie as ’n voorbeeld: Ek is met haar vertellings ingedompel in ’n lewe en ’n gemeenskap wat ek op geen ander manier sou kon bereik nie.

Wie is jou “eerste leser” – en hoekom is hierdie persoon se terugvoering vir jou belangrik?

Ná my troue was my man, Klaas, my eerste leser. Ons wou albei skrywers wees en was geesdriftig; ons het nagte deur die maan los gesels. Klaas het my baie geleer én my baie laat lees. Só was dit byna 50 jaar lank. Ná sy dood in 1997 het die kinders gesê ek moet aanhou skrywe. My seun, Nico, sê hy sal my manuskripte lees. Hy is ’n streng kritikus met insig en ’n besonderse aanvoeling. Hy doen dit, sê hy, soos hy sy studente met hul doktorsgraadtesisse lei: Is dié sin of paragraaf relevant? Dan lei hy my om die onderwerp dieper te bedink en te verwerk.

Watter element van Spertyd was vir jou deurslaggewend (tydens die skryfproses), maar het dit lesers of resensente dalk verbygegaan?

Dit was vir my baie belangrik om my belewenis van die Onsienlike te beskrywe. Veral wou ek vertel van die rykdom wat op ons wag van die binnestilte wat diep in elkeen van ons teenwoordig is. Ons moet net die moeite doen om baie stil te word, om vir ’n paar oomblikke van die daaglikse verpligtinge en versteurings te vergeet en jou visier te stel op jou eie kern van stilte.

Ek het baie briewe oor die boek gekry, maar vreemd genoeg geen verwysing hierna in briewe, resensies of selfs gesprekke nie. Is dit vir mense miskien moeilik om oor geestelike begrippe te praat?

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?

Ek skryf nie tans aan iets lanks nie, want – soos ek in ’n ander onderhoud gesê het – ’n mens het daarvoor baie reserwe-energie nodig, wat ek nou nie het nie. Maar die versoeking is sterk en steeds daar om ’n emosie of gedagte in woorde te wil uitdruk, bloot omdat dit soveel vreugde gee om dit te doen.

Commendatio

Só lui die eerste sin: Hulle sê jy sak terug na jou wortels wanneer die winde van tyd jou liggaam en jou gees begin skeeftrek.

Uit die commendatioSpertyd is deels tragikomiese beskrywing van die lewe in ’n gegoede Kaapse aftreeoord met ’n aantal van Kaapstad se kulturele en intellektuele elite – skrywers, uitgewers, kunstenaars – as hoof- en bykarakters. Dit is ’n merkwaardige meditasie oor oudword in die stem van ’n beleë skrywer; dit lees gemaklik, onderhoudend. Joubert beskryf die kil afdraand van die dag in helder, soms humoristiese, deurgaans deernisvolle taal: die onbetroubare liggaam, die wegval van vriende, die klein dramas wat hulle afspeel in ’n bejaarde gemeenskap. Die vertelling is egter nóg anekdote nóg klaaglied – Joubert gebruik haar fyn, self-relativerende waarneming van die alledaagse as ’n vertrekpunt vir die bepeinsing van meer universele bemoeienisse: wat dit is om sinvol te lewe en berustend te sterwe; hoe ’n mens verhoudinge aangaan en in stand hou; hoe ’n mens jouself tot verantwoording roep oor jou eie staanplek in die geskiedenis van ’n land en dié van ’n kontinent. Dis die oproep van hierdie temas wat Spertyd laat resoneer met Joubert se hele oeuvre. - Andries Bezuidenhout

Meer oor:  Elsa Joubert  |  Spertyd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.