Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Ek traai hard om nie te skel nie’
Ashwin Arendse en Veronique Jephtas. Foto: Jaco Marais

Twee jong digters het op die Suidoosterfees in Kaapstad gesels oor hul skryfwerk, Kaaps, die Groot verseboek en die ervaring van rassisme op Stellenbosch. Laetitia Pople het gaan luister.

“Ek label myself nie dit nie, ek ignore dit en gee nie aandag aan dit nie, ek sien myself nie as ’n born free nie, dit is ’n uitgedinkte term, van iemand wat nie weet wat daarbuite aangaan nie,” so het die digter Ashwin Arendse die gesprek “Die Born Frees van die Afrikaanse digkuns” Vrydagmiddag op die Suidoosterfees in die Kunstekaap in Kaapstad betree.

Hy en Veronique Jephtas was in gesprek met die digter Danie Marais. Albei digters het vanjaar gedebuteer; Arendse met Swatland en Jephtas met Soe rond ommie bos.

Jepthas sê op haar beurt dat sy nie weet hoekom sy ’n born free genoem word nie. “Ek as skrywer voel nie vry in die spaces waar ek beweeg nie, ek question dit (die term), ek het nie ’n antwoord nie.”

Dit is danksy die bundel Chokers and survivors (2013) van Nathan Trantraal dat hy begin dig het. “Dit was die eerste keer dat ek ’n boek kon oopmaak en myself sien in die boek. ’n Boek is ’n big deal, ’n bra wat net soos jy lyk, soos jy sound, hy verstaan jou, dit beteken baie vir ’n laaitie soos ek, om so iets raak te lees,” sê Arendse.

Die omslag van Ashwin Arendse se debuutbundel ‘Swatland’.

Trantraal het hom gementor nog voor hy hom ontmoet het. “Die taal is op ’n goeie plek, ek het my masters in creative writing in Kaaps gedoen. Kyk net wat vandag exists (in die taal) ek sal altyd erkenning gee aan Ryan (Pedro), Veronique, Nathan.”

Hy lees nie ou Afrikaanse letterkunde of poësie nie, Chokers and survivors is die eerste boek wat hy klaar gelees het, vervolg Arendse op ’n vraag of hy die Groot verseboek lees.

“Baie van dit is problematies, ek weet nie watter value ek daaruit gaan kry nie. Wit skrywers in Afrikaans skryf problematiese goed, ek verwyder my van dit. Iemand anders se geskiedenis is daarin opgesluit, ek kan nie daar iets lees wat my inspire nie. Die vriendelike ek, is die censured ek, is my antwoord as mense my dan vra hoekom ek kwaad of onbeskof is. Ek sal ou Engelse letterkunde lees, voor ek Afrikaans lees.”

Hy meen dat hy nie dit nodig het om die Groot verseboek of Pret met poësie te lees nie. “My writing is die exact opposite van dit, dit is nie my pad om soontoe te gaan nie tensy jy problematic poetry wil skryf.”

Ashwin Arendse in ’n produksie van Nathan Trantraal se ‘Wit isse colour’ op die Toyota US Woordfees. Foto: Jaco Marais

Sy vind aanklank by wat Arendse sê, sê Jephtas.

“Ek gaan nie iets lees waarmee ek nie relate nie. Ek relate met Lynthia (Julius), Nathan en Ronelda (Kamfer). Ek skryf egter nie vir die volgende bruin digter nie. Ek wil nie skryf as ek dit nie in Afrikaaps kan doen nie, dit moet set in my voice wees, hoe ek dit wil sê.”

Arendse meen skryf word geromantiseer en dat jong skrywers nie voorgangers het nie. “Mense dink dit gebeur in ’n kamer met sagte musiek, daar is set ideas soos dat daar ’n moerse boekrak is in die huis, ek skryf poetry op die toilet, hierdie product (bundel) is nie wat ek gaan soek het in die literature van 20 of 30 jaar gelede nie. Wat hier staan, is nou. Ek disregard die influence van idees en ideologieë wat te oud is. Ek romanticise nie writing nie, ek hou dit vir die nou.”

Op die vraag of digkuns ’n hoër doel het, antwoord Jephtas: “Daar is waarheid in die skryf van poësie. Ek doen resistance poetry, ons march, tog verander niks. Ek skel in my boek.”

Hy “traai hard om nie te skel nie”, sê Arendse. “Ek skryf vir niemand anders as myself nie. Ek sukkel om op een ding te focus, ek sukkel om te onthou, om ’n gevoel of ’n memory te onthou. Dit is important om dit neer te pen. Ek onthou deur my poetry, dit is selde ’n outlet. Ek gee nie om of iemand dit lees nie, ek het satisfaction voor iemand daaraan geraak het. Ek skryf vir myself, ek skryf om lekker te kan slaap in die nag.”

Veronique Jephtas

Albei het op Stellenbosch studeer en beskryf dit as ’n onaangename ervaring in hul digkuns. Albei skryf van ervaring van rassisme.

“Ek skryf vir myself, dit is my manier om peace te maak met Stellenbosch. Daar is niks wat ek kan of wil doen nie. Ek haat dit om daar te wees, dit is nie goed vir my nie. Hulle (gedrag) is die rede daarvoor, as hulle ok is daarmee, sê dit baie,” sê Arendse.

Jephtas sê sy is moeg vir praat. “Ek kan nie vir jou sê wat wit mense moet doen nie, dalk oor ’n dekade kan ek vra watter oplossing het jy toe gekry.”

Hoewel hy ’n dramagraad aan die Universiteit Stellenbosch gevolg het, gaan hy nie ’n loopbaan as akteur volg nie.

“Drama en poësie is twee verskillende goed vir my. Die universiteit was vir my ’n horrible ervaring. Hulle het vir my content gegee, maar ek gaan nie daaroor skryf nie. Daar is nie ’n swart of ’n bruin lektor in die departement nie. My vraag is wat wil hulle my dan leer?”

Die omslag van Veronique Jephtas se bundel ‘Soe rond ommie Bos’.

Hy het vervolg dat hy nie as “ ’n gangster of ’n ou van die platteland gecast wil word nie”.

Sy voel blessed dat sy kan skryf, sê Jephtas en nie net uit toneelspel ’n lewe hoef te maak nie. “Ek gaan probeer om truthful te bly in dit waarin ek glo, ek makeer ook geld, maar dit beteken nie dat jy kan maak met my wat jy wil nie.”

• Die gesprek was deel van die Jakes Gerwel-gesprekreeks wat elke jaar op die Suidoosterfees aangebied word. Dit word deur Theo Kemp saamgestel. Arendse het verlede jaar sy meesters in kreatiewe skryfkuns aan die Rhodes-Universiteit behaal. Sy studieleier was Trantraal. Die Suidoosterfees duur tot Sondag. Saterdag om 10:00 word daar gesels oor die sporthelde van die struggle met Michael le Cordeur, André Odendaal en Jeremy Topley en om 13:00 gesels Ivor Price en Kobus Louwrens oor hul boek Hartstories van ons land se boere.

Meer oor:  Poësie  |  Veronique Jephtas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.