Fiksie
Gedeeltelik bewolk
Ruan Kemp
TAFELBERG, R320
Die slag van heilige koeie los ’n onuitwisbare bloedspoor.
Beskou hierdie eksperimentele roman as ’n literêre chef’s table, waar die sjef vir ’n uitsoekgroep ’n verskeidenheid eksotiese disse voorsit. Die gaste word nie vooraf vertel wat die goue draad sal wees nie; elke gang word met ’n blinddoek aan genuttig. Opwindend, of angswekkend?
Geeneen wat Gedeeltelik bewolk lees, en daaraan herkou, sal die ervaring gou vergeet nie. Lees vir ontspanning? Nooit gesien nie! Lekkerleesboek? Toets gerus jou medikasie.
Wees bedag op die kort skrywersbiografie: Ruan Kemp is gebore toe PW aan bewind kom, word groot op die myndorpie Fochville, en toe op Potchefstroom – waar hy nul kry vir sy stelwerk in die rekordeksamen.
Dit maak van hom ’n skrywer. Maar eers hou hy net dagboek sonder datums, leef ondergronds vir twee jaar in Pretoria, en werk ’n jaar in Engeland as grassnyer. Daarnaas verwerf hy stuk-stuk grade in die joernalistiek (want hy wil skryf), onderwys (want hy’t nie van skool gehou nie), en mynbou-ingenieurswese (want hy moet eet), en werk as vryskutjoernalis, fotograaf, hempsmous, aandelemakelaar, en (tans) mynbou-analis. Hy woon op Hermanus saam met sy vrou en drie seuns.
Tussendeur kul en koggel George prokureurs, kopdokters en vroue.
En dan die agterplat se opsomming: George Moore is gebore toe Jan Smuts dood is, word op ’n plaas in die Noord-Kaap groot, dien in ’n aaspeloton in Angola, raak deurmekaar met die Baader-Meinhof-bende in Duitsland, werk as joernalis tydens die noodtoestande in Kaapstad, en weldra word hy ’n saboteur, ’n skaapsmokkelaar, ’n mal man, ’n boemelaar. Tussendeur kul en koggel George prokureurs, kopdokters en vroue.
Onmoontlik om nie raakpunte en die eksplisiete/implisiete spel tussen skrywer en teks, feit en fiksie, raak te lees nie. Die teks se lees maak jou geweldig nuuskierig oor sowel die skrywer as die inspirasie vir George. Dimitri Tsafendas, die “mal Griek” met ’n lintwurm wat hom gas gee?
Dalk belangriker die doelbewuste keuse van ’n hoofkarakter wat heet George Moore: Die werklike George Moore word dikwels gereken as die eerste groot moderne Ierse skrywer, met sy Confessions of a Young Man wat ’n groot invloed op ene James Joyce gehad het. Beslis ook Who’s Afraid of Virginia Woolf, met George en sy vrou, Martha, en die ondersoek van die kompleksiteit van die middeljariges se huwelik.
Van dié drama tot by Marita van der Vyver se Griet skryf ’n sprokie is een klein sprong – Kemp maak sy George Moore en Van der Vyver se Griet Swart ’n paartjie. Vuurwerke? Omstredenheid? Ongetwyfeld. Ek verklap niks
Gedeeltelik bewolk gebruik taal as wapen, met woorde as vervreemdend. Kemp pas sy eie vorm van “vervreemding” hier toe. Die term, gebruik deur die Russiese formalis Wiktor Sjklofski, beskryf die vermoë van kuns, en die skryfkuns, om die sieldodende effek van gewoonte en konvensies teen te werk deur die bekende en gemeenplasige vir ons te vervreem, om ons so ver te kry om wat ons dink ons ken weer met nuwe oë te bekyk.
So dink ek met die (her)lees gedurig aan die siening van kuns: Art comforts the disturbed, and disturbs the comforted. Presies. Net so.
Kemp stel besonder hoë eise aan die leser wat die fyn en soms ook growwer intertekstuele spel aanbetref.
Kemp stel besonder hoë eise aan die leser wat die fyn en soms ook growwer intertekstuele spel aanbetref. Soos die volgende stel voorbeelde: Hendrik Verwoerd se doktorale tesis, Die afstomping van gemoedsaandoeninge; Susan Sontag se “Notes on ‘Camp’ ”; Saul Bellow se Herzog; Camus se L’Homme révolté (Die rebel) en La Chute (Die val); N.P. van Wyk Louw se Raka en versreëls uit sy gedig “Prometheus”; en Charles Baudelaire se “Un voyage à Cythère” (“ ’n Reis na Kythira”). Veral Camus word doeltreffend aangewend om George se stryd in die soeke na betekenis.
Aan die een kant laat die struktuur van vier “episodes” of onderdele van ’n lewensbeskouing toe dat die skrywer behoorlik sy hebbelikhede uitleef (die eerste rofweg 57 bladsye sal vir enige leser ’n stryd wees om klein te kry).
Die finale gedeelte is dan weer soos die eerste grotendeels ’n donker, somber, karnavaleske leeservaring wat min simpatie vir die leser en dalk ook vir die hoofkarakter het. Dink Willem Anker se Siegfried.
Die twee “middel-episodes”, daarteenoor, kon netsowel uit ’n totaal ander roman wees. Hier het ons ’n absoluut fantastiese stuk teks.
Kemp skryf vreesloos. Onmiskenbaar is sy opstapelings van die abjekte; mense as uitwerpsels.
Die karakter van George bly vir my onvergeetlik – van jong seun tot pad-af oubaas. Dol, gek, komies, tragies.
Is dit nie die rol van die kunstenaar om ons manier van kyk na die wêreld, na onsself en ander, te vervreem en te vernuwe nie?
Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en -resensent van Stellenbosch.