Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Elke liefhebber van Afrikaans moet dié boek lees
Die omslag van die boek Die Afrikaans van die Kaapse Moslems wat onlangs verskyn het.

Afrikaans is ’n taal gesalpeter in die land en behoort aan vele sprekers, skryf Breyten Breytenbach. Die beskikbaarmaking van Achmat Davids se studie oor die Afrikaans van die Kaapse Moslems is welkom en ’n moet vir elke liefhebber van Afrikaans, skryf Joan Hambidge.

Die afgelope tyd het geweldig baie studies oor die geskiedenis van Afrikaans verskyn – van Wannie Carstens en Edith Raidt tot wyle Christo van Rensburg se boeke oor die verband tussen die Khoekhoegowab-tale en Afrikaans in So kry ons Afrikaans.

Terselfdertyd word bloemlesings met die vertalings van Afrikaanse gedigte in Engels gepubliseer.

Die posisie van Afrikaans word deur verskillende taalgroepe soos in Carstens en Michael le Cordeur (samestellers) se werk Ons kom van vêr onder die loep geneem. Dit is gesprekke oor bruinwees en Afrikaans.

Daar is eweneens die insigryke Afrikaans ná apartheid (red. VN Webb) wat in 1992 verskyn het. Die baanbrekerswerk van wyle Fritz Ponelis en al die woordeboekmakers is bekend.

Afrikaans, ’n taal gesalpeter in hierdie land (soos Breytenbach dit noem) en behorende aan vele sprekers, word op ’n opwindende wyse ook beskou in Achmat Davids (1939-1998) se studie The Afrikaans of the Cape Muslims (Die Afrikaans van die Kaapse Moslems) wat in 1991 as ’n meesterstudie voltooi is, en deur Hein Willemse en Suleman Dangor verwerk is. Dit is vertaal deur Danie C. Botha.

Arabies lok studente aan die Universiteit van Kaapstad.

Toenemend word die Afrika-invloed op Afrikaans ondersoek. Daar word uitgewys dat Asiatiese uitgewekenes en selfs die slawe in die Kaap hul eie tale kon praat en nie net die taal van die kolonis nie.

Dit was baanbrekerswerk van Adrianus van Selms, wat in 1951 ontdek het dat Afrikaans oorspronklik in die Arabiese skrif (sogenaamde “Arabies-Afrikaans”) geskryf is. Hierdie stelling behoef egter verdere navorsing, soos Willemse aantoon (9).

Hierdie boek kyk egter na die bydrae van Moslem-Afrikaans. Humor in die idiome is opvallend (“’n Boer maak ’n plan, maar ’n Slams hét ’n plan”). Aspris, brêggat, kastai (terg), kwai-lappie (mooi so), ougat, poenang-kies (oulik), laa-die-daa (vernaam). “Iemand is ’n poep op ’n lappie” en “Jy kan nie sy slamblie eet nie” (Jy kan hom nie vertrou nie) is enkele juwele! (40).

Een van die belangrike kwessies wat aangeraak word, is of die Moslemsprekers aan die einde van die 19de en die begin van die 20ste eeu geskryf het soos hulle gepraat het. Ook die kwessie van taalgeleerdes en skrywers om dit te transkribeer in die Romeinse skrif wat ons gebruik. Achmat Davids se bevinding is dat mense geskryf het soos hulle gepraat het. Met wanopvattings helaas omdat die Arabiese skrif verkeerd gelees is (41).

Die invloed van skole waar die idees van Islam oorgedra is, kom aan bod, soos die gebruik van Mengelhollands.

Oor die ontstaansgeskiedenis van Afrikaans is daar vele debatte en dispute. Die gesprek was nog nooit so lewendig soos nou nie. Aan die een kant is sprekers wat meen dat die taal se hoër funksies bedreig word aan universiteite wat verengels; ander sprekers meen Afrikaans word juis buite die magsbasis van beskutting en bevoorregting vryer.

Hierdie uiters toeganklike én leersame boek is ’n moet vir elke liefhebber van Afrikaans. ’n Mens leer van tajw?d (die klankwetenskap van die Arabiese alfabet), en van die skep van nuwe simbole om die gesproke Afrikaans via die Arabiese alfabet weer te gee. Die publikasie van die eerste Arabies-Afrikaanse boek was Hidayutool Islaam, oftewel Die heilige begeleiding deur Islam.

Dis ’n leesplesier wat hierdie leser terugneem na I.D. du Plessis en Gabeba Baderoon se gedigte.

Hopelik verkoep hierdie resensie ghasegh!

Die publikasie van die boek is moontlik gemaak deur die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans.

Bestel by: John X Merrimanstraat 37, Oakdale, Bellville, 7530. Besoek die webblad www.sbafrikaans.co.za of skakel 021 202 9404.

* Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.