Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Elke stuk skryfwerk laat ’n merk’

Die Jan Rabie-Rapportprys ter waarde van R125 000 vir die beste Afrikaanse debuut- of tweede prosawerk is toegeken aan Nicole Jaekel Strauss vir haar tweede kortverhaalbundel, ‘As in die mond’ (Queillerie).

Nicole Jaekel Strauss

Hoe sien jy skrywerskap – die vakmanskap van skryf – en hoe en hoekom wou jy hierdie “talent” oor die jare slyp?

Van kleins af was daar briewe, notas, gedagtes op papier (en deesdae my foon); vervolgens onderhoude, essays, artikels; en mettertyd die begeerte om dit in meer as net ad hoc-sameflansings oor spesifieke temas of idees te vervat. Ek was van altyd af ’n leser, maar het nooit gedink skryf sal ’n loopbaan word nie.

Vroeë invloede het bestaan uit luister en lees. Elke boek wat ek lees, laat my anders dink oor skrywerskap, want elke boek het ’n skrywer en elke skrywer skryf anders – en by elkeen van hulle kan ek leer.

My skryfproses het wel verander ná die publikasie van my eerste boek. Nou is dit nóg moeiliker as wat dit voorheen was. Ek is steeds in dieselfde vertwyfeling, maar het nie meer die mentor wat ek met my eerste boek gehad het nie.

‘Dis die voetspore van die vos in die sneeu’.

Die grootste uitdaging is om uit te vee, delete op die toetsbord te druk. Wat as die frase – die sin, die paragraaf, die verhaal – nog kan werk? Maar dit is ook die grootste verligting om te delete, want wat gepla het, is weg.

Hoe verander skryf (of die skryfdaad) jou as skrywer?

Telkens wanneer ek ’n sin voltooi, is ek ’n ander skrywer, ’n ander mens. Dis die voetspore van die vos in die sneeu, soos die digter geskryf het. Ek kyk terug en sien my merke, maar ek laat daardie teks, daardie woorde agter – die landskap is nie meer dieselfde nie. Anders gestel: Elke stuk kreatiewe skryfwerk laat ’n merk – goed of sleg – in my bewussyn agter; ’n item wat dan weer ’n invloed het op my werk wat volg. Die ongerepte sneeulandskap lê voor, en ek het ver om te gaan voor ek kan rus (om weer ’n ander digter aan te haal).

Wie is jou “eerste leser” – en hoekom is hierdie persoon se terugvoering vir jou belangrik?

My man, Ben, lees lank voor daar ’n manuskrip is. Sy leesraamwerk is so wyd soos ’n biblioteek, en hy kan dikwels ’n verwysing raaksien, of voorstel. Hy is fanaties oor tema en hou my by die punt. Die eerste leser van ’n volledige manuskrip is my uitgewer, Hester Carstens. Haar mening is geweldig baie werd.

Waaraan werk jy tans, of wat is jou volgende skryfprojek?

Ek skryf deurlopend aan draaiboektekste. My volgende groot skryfprojek, soos tans beoog, is ’n roman. Ek het reeds die raamwerk, ’n begin en ’n einde; ’n halwe notaboek vol idees. Die karakters het al stories. Ek is besig met navorsing en skryf paragrawe tussendeur; dit is ’n projek wat tyd gaan verg. Ek moet nog die spasie vind om dit aan mekaar te sit.

Commendatio

Só lui die eerste sin: Dit is vroeg toe sy moet opstaan; die nag druk nog haar huis in gitte newels vas. (Uit die inleidende verhaal, “Fluctuat nec mergitur”, oftewel “Getref, maar nie gekelder nie”)

Uit die commendatio: Die prysbepalings van die Jan Rabie-Rapport-debuutprys is vanjaar verruim om ook tweede prosawerke in te sluit en toevallig is al drie tekste op die kortlys – Die derde spoel van S.J. Naudé, As in die mond en Schalk Schoombie se roman Rooi haring – tweede prosapublikasies. Uiteindelik het die beoordelaars besluit om ’n teks te bekroon wat die sterkste aansluiting vind by die gees van die spesifieke prys, naamlik die bekroning van ’n sterk teks en ’n outeur wat die potensiaal toon om in die toekoms ’n belangrike stem in die Afrikaanse letterkunde te word.

As in die mond is ’n eenheidsbundel wat vernaam die storie vertel van ’n tragiese brand wat ’n familie vernietig. Die bundel gee ’n blik op verlies en posttraumatiese stres wat die leser bybly lank ná die lees van die verhale. Familieverhoudinge (tussen ouer en kind, maar ook grootouer en kleinkind) word verken. Soos in haar debuutkortverhaalbundel, Maal, is daar ook ’n fokus op buitestanderfigure. Die leser kry telkens die gevoel dat hierdie karakters toeskouers is van lewens wat intens dog emo­sioneel-verwyderd beleef en geleef word. Jaekel Strauss gee, om Thys Human in ’n resensie van die verhale in Maal aan te haal, ’n byna pointillistiese beskrywing van karakters en ruimtes. Haar sterk punt blyk haar vermoë te wees om groot gebeure en emosies op ’n onderbeklemtoonde, maar steeds presiese en roerende wyse te skets. Die outeur raak dus ’n voyeur, nes haar karakters, wat skynbaar onbenullige detail weergee as tekens van die vure wat onderliggend smeul.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.