Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Elke vers klink in Fourie se telegrafie

Al van sy studentedae af was Pieter Fourie dwars. Maar wat jou bowenal bybly, is sy respek vir die adel van armoede. Cas van Rensburg het met hom  oor sy debuut-bundel gepraat. 

Pieter Fourie: “Dit is ironies dat juis my rebelsheid my by die KKNK laat beland het.” Foto: Conrad Bornman

Dit is heel gepas dat Pieter ­Fourie sy debuutbundel verse Knapsekêrels noem, want sommer met die intrapslag steek hy kleim af. “Ek is ’n ­rebel. Was nog altyd,” was van sy eerste woorde. Die oë kyk skerp agter sy bril wat effens skeef sit. Dis asof hy jou uitdaag.

Ja, dis suiwer Pieter Fourie hierdie. Baie sal getuig dat hy inderdaad soos ’n knapsekêrel kon klou en veral die grysskoenpersoontjies in hoë gestoeltes suur op die maag gegee het. En nou hierdie debuutverse op die ouderdom van 77 wat steeds krapperig is as ’n mens fyn lees.

Politiek lê maar weer in baie gedigte verdoesel, sê hy, en vertel dat op vyf na al die gedigte in sy huis op Onrusrivier geskryf is. Die vyf wat in die 1960’s geskryf is én destyds in tydskrifte soos Standpunte verskyn het, is volgens hom in “skuiltaal” soos hulle destyds moes skryf “sodat sommige mense nie verstaan nie”.

Jy sal nou lag, maar dis of Jan Rabie en Uys ­Krige my hier in my huis kom ­aanspreek het.

“Die skryf van hierdie bundel het ná agt jaar van net sit my weer selfvertroue gegee. Jy sal nou lag, maar dis of Jan Rabie en Uys Krige my hier in my huis kom aanspreek het. Hulle was albei goeie vriende van my. Andersinds, wat kan ’n mens sê? Was dit die muse, God, inisiasie in die ­lewe in?”

Maar moenie dink die skryf van gedigte het sommer skielik uit die lug geval nie. As student was Fourie deel van D.J. Opperman se beroemde laboratorium.

“Veral in my honneursjaar was dit ’n besondere belewenis, want daar was net vyf van ons. Dit was egter ook die tyd dat ek besef het ek moet my liewers op die teater toespits.”

“Een van my medestudente het op ’n dag ’n bundel klas toe gebring wat pas verskyn het. Ons het dit gelees en bespreek en dit was nie ’n goeie bundel nie. Toe sê Opperman: ‘ ’n Digter behoort slegs te debuteer met agting vir sy vak, soos Peter Blum.’ ”

“Dit het my aan die dink gesit. Ek het besef dat ek op literêre gebied geen verwysingsveld het nie. My kennis was skamel en my ego broos.

“Ek was ’n boeklose kind. En poësieloos. Ek het in ’n arm huis in die onderdorp (Luckhoff) grootgeword. Daar was net een boek, die Bybel, in ons huis. My pa was ’n vellekoper en karweier.”

Hy bly ’n oomblik stil, die oë weer eens uitdagend skerp. “Ek is ’n onderdorper gebore en daarom het ek soveel respek vir die adel van armoede.” Ja, gee hy toe, ook dít skemer deur in sy gedigte. Byna al die mense wat daarin voorkom, is randfigure, nederige en arm mense.

Op die ouderdom van 15 het hy die skool verlaat en ingeskryf as vakleerling in die poswese. “Daar word ek uit ’n klein dorpie met skaars 500 inwoners in ’n stad gegooi. Dit was in Bloemfontein. Ek moes tuisgaan in die Dan Pienaar-tehuis vir Jong Christene uit die Platteland! Louis Luyt was ook daar, as vakleerling van die Spoorweë.”

Hy was 19 toe hy besluit om terug te gaan skool toe, en daar sowel as aan die Universiteit Stellenbosch het hy die eerste keer diep kennis gemaak met boeke en die poësie.

Die vroeëre ervarings is darem ook nie heeltemal vergete nie. Sy verse is baie kripties en met ’n laggie erken hy dat hy as telegrafis kennis gemaak het met die kompakte styl van die telegram, wat hom gefassineer het. Dis soos vandag se SMS’e, voeg hy by en lap dan sommer aan: “Ek is ’n digioot, rekenaarongeletterd, en stuur nie SMS’e nie behalwe na my kinders. Die Brasse van die Kaap was ook ’n invloed.”

Nou waarom skielik gedigte eerder as nog dramas skryf? “Ek het myself verdrink in ’n oormaat van woorde in my dramas. Bowendien het dramas my begin verveel en dit het gewys!

“Dieter Reible, die Duitse regisseur wat my met onder meer sy omstrede Titus ­Andronicus en Uys se Koning Lear baie kopseer besorg het, het altyd aan die akteurs gesê: Moet nie woorde skilder nie, want woorde ís die skildery.”

Pieter mog gevoel het dat hy in woorde verdrink, maar uit Knapsekêrels lei die leser gou af: Hy is verlief op woorde!

En so erg só dat genadedank ’n woordelys aan die einde van die bundel ingesluit is: wonderbaarlike woorde wat ’n mens selde teëkom, soos “boendertjie” (handstoffertjie) in die eerste gedig. In gedig op gedig stapel hierdie woorde op en laat ­elke vers klink!

Gou egter kom loer daardie “rebelsheid” weer soos ’n stout kind om die hoek. Die ou mense sou sê hy is dwars.

“Ek is ’n politieke dier, van my studentedae af,” verklaar hy opeens. Hy vertel dat hy as voorsitter van die een of ander studentevereniging vir Albert Luthuli genooi het om met hulle te kom praat, welwetend dat hy nie sou kon kom nie, want hy was in huisarres. “Maar ek wou ’n sein uitstuur.” Tóé al het die grysskoene ongemaklik getrap.

“Die ruggraat van hierdie bundel is een van die vyf gedigte wat ek in die 1960’s geskryf het.” In hierdie gedig smeul die politiek. Die titel is in hierdie bundel verander na “Swartvinkjag”. Die oorspronklike titel het die K-woord bevat.

“Opperman het dadelik die gedig verstaan en gesê ek moet dit vir Standpunte stuur. Dit is ironies dat juis my rebelsheid my by die KKNK laat beland het. Ek het ’n maand en ’n paar dae ná die nuwe Suid-Afrika in Oudtshoorn aangekom. Die eerste probleem was borgskappe. Die ouens in die Afrikaanse sakewêreld was huiwerig om ons te steun, almal was maar onseker en oorversigtig.

“Ek het toe by onder andere Winnie Mandela, destyds adjunkminister van kultuur, gaan aanklop en sy het vir ons geld gegee. Dit het as katalisator ge­dien. Die Nederlandse ambassade het eerste gereageer. Hulle het my Nederland toe genooi en ek het partykeer tot drie opvoerings per dag gesien. Baie keer selfs op klein dorpies na opvoerings gaan kyk. Die gedagte was dat ek ’n produksie kon kies en die Nederlanders sou dit na die fees bring. Dit het eweneens as katalisator gedien en die Afrikaners het tot die fees toegetree. Die gode was goed vir my.”

Dis looptyd en meteens staan Pieter met ’n verleë laggie. “Ek sukkel maar deesdae. Oral in die huis is daar kieries.” In die oë van hierdie “rebel” skemer opeens ’n weerloosheid en onsekerheid deur en ’n mens besef dat die rebelsheid miskien net ’n skild is waaragter ’n kwesbare siel kan skuil.

Maar hier staan hy nou, 17 gepubliseerde dramas later, die Hertzogprys, ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van die Vrystaat, asook baie ander pryse en eerbewyse. En nou, in sy rype ouderdom, sy eerste digbundel! Die gode was inderdaad goed vir Pieter Fourie.

Meer oor:  Pieter Fourie  |  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.