Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Elke woord uit haar mond soos ’n boek’

“Elke woord wat by haar mond uitgekom het, was ’n boek op sigself.”

So onthou die skrywer Jackie Nagtegaal die skrywer Jeanne Goosen wat Dinsdag dood is.

Jeanne Goosen speel klavier in Dirk Nagtegaal se huis. Foto: Jackie Nagtegaal

“Sy het gespeel met die wêreld. Sy het so baie stories vertel en dan het ek altyd gewonder: Maar kan dit waar wees?”

Nagtegaal en haar pa, Dirk, het Goosen versorg en bygestaan.

“Sy was die afgelope sowat twee jaar bedlêend,” sê (Jackie) Nagtegaal.

“Sy was verlede week in die hospitaal. En toe is sy vannag oorlede. Sy was gereed om te gaan. Vir baie mense is so iets ’n verlossing en ek dink met haar afsterwe is dit ook die geval.”

Sy was een van die slimste mense wat Nagtegaal geken het.

“Sy kon vir jou oor enigiets vertel, maar bygesê, jy was nooit seker of dit waar is nie . . .”

Nagtegaal reken sy het Goosen sowat 20 jaar gelede ontmoet.

"Jeanne kon ’n vloekwoord só in die sin plaas dat dit lyk asof dit daarsonder geen betekenis het nie. Die hardste wat sy kon lag, was vir haarself."

“Dit was op Paternoster. Ek en my ma (die ontslape skrywer Reinet Nagtegaal) het haar daar ontmoet. Dit was in die hotel en Jeanne het sit en klavier speel. Daar was ’n paar vroue in die hotel wat almal ’n Shirley Valentine-move gedoen het (hul mans verlaat het). Ek onthou die absurde oomblik. Met Jeanne het dit altyd gevoel of jy in ’n fliek instap. Hierdie groot, unieke gees. Sy was seker die grootste karakter in Afrikaans.”

Die liedjieboer Anton Goosen onthou ’n voorval in haar joernalistieke loopbaan.

“Sy was nog op die redaksie van een van die koerante in Pretoria.”

Dit was in die tyd toe “Kruidjie-roer-my-nie” uitgereik is.

En dan bel mense na die kantoor toe en hoor dis Goosen wat praat. En hulle vra: Is jy Anton Goosen se liewe vroutjie?

“Dit was vir haar en vir my baie snaaks, want sy is so ’n groot, formidabele persoon. Nie ’n verkleinwoord nie.

“Eenkeer het ons ’n televisieprogram gedoen waarin celebs moes vertel wat hulle pla as die publiek hulle hinder. En haar groot storie was wanneer die Melville-drankwinkel nie haar tjeks wou vat nie.

“Ja, bra, dis ’n groot verlies hierdie.”

Jeanne GoosenFoto: Lerato Maduna

Die skrywer Jeanette Ferreira het Goosen op ’n dag met “die pienkste van pienk lipstiffies” op ’n skrywersberaad aangetref.

“‘Jeanne?’ vra ek haar. ‘Ag, sjarrap, dis my gebaar vir die Skrywersgilde.’”

Ferreira het in dieselfde jaar by ’n kroeg ingestap toe Jeanne haar groet en met haar plathand op die tafel slaan.

“En nog iemand wat vasgevat moet word, is hierdie blindes. Ons boeke word vir hulle voorgelees sonder dat hulle ’n sent betaal,” het Goosen laat hoor.

“Sy het dit spesifiek aan my gerig omdat ek toe die voorsitter van die Skrywersgilde was. Nou moet ’n mens Jeanne ken om te weet sy het nie ’n woord daarvan bedoel nie. Sy het waarlik deernis gehad met mense wat om watter rede ook al op die rand van die kring moes leef en ek hoef nie voorbeelde daarvan te gee nie.”

Goosen se roman Ons is nie almal so nie het dít gesê, meen Ferreira.

“Sy het nie onreg gedoog nie.”

Goosen het ook ’n regter aangevat wat sy as chauvinisties beskou het. Dit was met die verhoor van Cezanne Visser, oftewel advokaat Barbie, in die 2000’s.

“Ek kan nie die kleurryke taal waarmee sy die episode aan my beskryf het hier herhaal nie,” sê Ferreira.

“Wat jammer is. Jeanne kon ’n vloekwoord só in die sin plaas dat dit lyk asof dit daarsonder geen betekenis het nie. Die hardste wat sy kon lag, was vir haarself.

“Afrikaans is armer sonder Jeanne. Ons sal haar so mis.”

Petrovna Metelerkamp, samesteller van die biografie Jeanne Goosen: ’n Lewe vol sinne, wat op die Toyota US Woordfees in Stellenbosch bekend gestel is, was meer as 50 jaar met Goosen bevriend.

“Toegegee, aan en af,” sê Metelerkamp.

Sy skryf in die biografie oor Goosen: “Jeanne kom drink gereeld in die oggend koffie, lees ’n nuwe gedig voor, en ons praat oor boeke en skryf. Soms kom sy as die son sak, dan drink ons wyn en – en ons praat oor boeke en skryf!

“Nou en dan word ek in die middel van die nag wakker, dan is Jeanne op die klavier in die onbewoonde onderste verdieping van my huis. Ek lê en luister – gewoonlik Rachmaninoff, of Chopin, en ’n improvisasie van ‘Ochi chernye’. Dan hoor ek die deur toegaan, en Jeanne stap die nag in, terug huis toe.”

Metelerkamp skryf: “Sy beland in die H.F. Verwoerd-hospitaal in Pretoria, gou verveeld. Sy bedink ’n plan: Sy gaan die pasiënte se valstande omruil. Sy sluip sowaar in die nag van een bed na die ander op soek na glase met tande in! Sy ruil hulle om en geniet die chaos die volgende oggend.”

Die digter Joan Hambidge, wat die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad beklee, onthou Goosen as ’n “roekelose” mens wat grense “immer uitgedaag” het.

“Sy was altyd bereid om vir die underdog op te staan. Sy kon geen onnoselheid of nonsens verduur nie. Om saam met haar te wees was asof jy in ’n teaterproduksie optree.”

Hambidge beskryf haar kennis van klassieke musiek en wetenskap as uitmuntend.

“Valsheid kon sy nog minder hanteer.”

Daarom beskou Hambidge Goosen se novelle Om ’n mens na te boots as 'n belangrike boek.

“Ons is blote versinsels en nabootsings omdat ons bang is vir die waarheid. Jeanne was teerhartig – agter die harde aanslag was daar ’n diep gekweste mens.”

Prof. Willie Burger, letterkundige aan die Universiteit van Pretoria (UP), onthou Goosen was baie snaaks.

“Sy het een keer vir my gesê sy rol haar eie sigarette, maar as die tabak te min is, dan meng sy dit sommer met rooibosteeblare. En toe voeg sy by: Dit is eintlik dan 'n gesondheidsigaret! En dat sy dit dalk Jeannique moet noem.”

Meer oor:  Jeanne Goosen  |  Skrywers  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.