Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Elsa Joubert toor op 95 steeds met woorde

Vandag vier Elsa Joubert haar 95ste verjaarsdag en sy skryf steeds. In November verskyn haar jongste outobiografiese roman, Spertyd. AJ Opperman het met die akademikus Willie Burger en Joubert se seun, Nico Steytler, oor dié formidabele skrywer gesels.

Die skrywer Elsa Joubert is vandag 95 jaar oud. Foto: Natalie Gabriels

Die skrywer Elsa Joubert is vandag op haar 95ste verjaardag die oudste Afrikaanse skrywer wat steeds publiseer.

Haar nuwe boek, Spertyd, verskyn aanstaande maand by Tafelberg. Hiermee sit sy haar sterk tradisie voort – die opteken van herinneringe en reise. Spertyd sluit ook haar outobiografiese drieluik af, waarvan die eerste twee aflewerings ’n Wonderlike geweld en Reisiger heet.

Reise en spertye kenmerk haar 95 jaar. Dit is die einste reise wat in soveel van dié Paarl-boorling se bekroonde prosa verwoord is.

Een daarvan was ’n Afrika-reis toe sy klaar gestudeer het. Destyds het mense, indien hulle kon, na Europa gegaan, maar sy het Afrika gekies. Sy het in Kaapstad op ’n skip geklim, om Afrika se ooskus gevaar en ook per boot op die Nylrivier gevaar.

Afrika is haar vasteland. Later het sy ook die eiland Madagaskar en baie van Suid-Afrika se buurlande besoek en dit telkens as ligging in haar fiksie gebruik.

Prof. Willie Burger, dosent in letterkunde en hoof van die departement Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria, beskou haar as ’n belangrike skrywer juis oor ’n “soort begrip van menslikheid wat haar werk deurtrek.

“Sy het haar bemoei met vele Afrika-vraagstukke. Deur haar hele oeuvre worstel sy hiermee, iets soos wit wees in Afrika. Sy probeer hierdie spanning oplos.”

Burger verwys ook na haar beskrywing van ’n soort spanning wat sy vroeg in haar lewe ervaar het.

“Van hierdie liefde vir haar mense, haar eie land, haar familie, maar ook ’n besef dat haar eie mense en haar eie land polities ook ’n klomp vreemde goed doen. So sy het binne daai vou van Afrikanerdom grootgeword, maar ’n ongemak daarmee begin ervaar.”

Burger het ook die hoofstuk oor Joubert se oeuvre geskryf in Perspektief en profiel (Afrikaanse literatuurgeskiedenis saamgestel deur prof. Hennie van Coller).

Elsa Joubert se jongste boek, Spertyd, verskyn in November by Tafelberg.

Burger het Joubert jare gelede ontmoet toe hy ’n student op Potchefstroom was. Hy moes Joubert vir ’n kongres op die lughawe gaan haal. Die gesprek van die lughawe tot in Potchefstroom was die enigste een wat hy ooit met Joubert gevoer het.

“Ek dink vir haar was dit uiteindelik baie belangrik om (met haar werk) iets te verskuif. Sy wou mense verander. Ek dink dis waarom sy iets soos Die swerfjare van Poppie Nongena geskryf het.”

Dié boek vertel van die lewe van ’n swart vrou (Joubert het die vrou geken waarop die karakter gegrond is) en is met onder meer met die Louis Luyt-, W.A. Hofmeyr- en die CNA-prys bekroon.

Poppie Nongena het in die 1970’s ’n baie groot invloed binne die Afrikaanse gemeenskap gehad,” sê Burger.

“Die meeste mense het nie geweet wat hul huishulp se van is nie. Mense was nie bewus van die stryd wat daarmee gepaardgegaan het toe mense oral ’n pasboek by hulle moes hê nie. Mense het nie die implikasies van die apartheidswetgewing besef nie. Hierdie boek het dit oopgekrap.”

Benewens as roman het dié verhaal as koerantvervolgverhaal verskyn en gevolglik ’n nóg wyer gehoor bereik.

Die roman is ’n paar jare gelede aangewys as een van die top-100-boeke uit Afrika.

Die swerfjare van Poppie Nongena deur Elsa Joubert.

Burger meen egter Joubert se roman Die reise van Isobelle is haar groot roman.

“Ek beskou dit as haar magnum opus. Vir my het sy daarin amper die hele Afrikanergeskiedenis en al hierdie dilemmas rondom gebondenheid terwyl jy ook in verset is, baie sterk saamgevat. Ek dink dis iets waarmee baie Afrikaanssprekendes kan identifiseer. Die idee van ek is nie kwaad vir my taal nie, maar ek is kwaad vir die mense wat hierdie taal gepraat het en wat hulle gedoen het. En hoe hanteer ’n mens dit? Ek dink sy beskryf dit op ’n baie boeiende wyse in dié roman.”

Joubert, wat in 1998 die Hertzogprys vir prosa ontvang het, wil steeds skep, vertel haar seun, Nico Steytler.

“Daardie drang om te skryf. Dit wat sy sien en ervaar moet verwoord word sodat sin daaruit gemaak kan word. Die wil om te skryf is oorheersend. Al was dit net ’n uur ’n dag, wou sy Spertyd klaar skryf, goed skryf. Noudat sy nie meer maklik kan tik nie, en haar skrif vervaag, dikteer sy saans aan haar versorgers liedjies, selfs in Engels, as die versorger nie Afrikaans magtig is nie. Sy móét iets skep.”

Steytler is een van Joubert se drie kinders uit haar huwelik met die skrywer Klaas Steytler.

Hulle is in 1950 getroud en Steytler is in 1998 dood.

Die reise van Isobelle deur Elsa Joubert.

Nico Steytler was in sy grootwordjare nooit bewus van sy skrywende ouers nie.

“Ons het geweet my ma skryf, maar as ons by die huis kom, was dit nooit ’n geval van ‘Ma moenie gesteur word nie, sy skryf’, nie. Dit was haar vermoë om te skryf én ’n gewone moederrol te speel. My pa was destyds nog nie ’n voltydse skrywer nie. Ek het dus nie ’n herinnering aan ’n ‘skrywershuis’ nie, maar twee werkende ouers, met interessante vriende.”

Steytler, wat ook al die pen opgetel het (hy het onder meer as leerling vir sy skool ’n eenakter geskryf), sê sy ma se skrywersraad aan hom is “dié van ’n moeder wie se seun tweede laaste in ’n resies kom: baie mooi gehardloop!”

Haar eienskappe wat hy veral bewonder, het meestal in die afgelope jaar na vore gekom. “Die nuuskierigheid oor mense, oor menslike verhoudinge, oor menswees. Sy is hierdie jaar in die hospitaal opgeneem, en eerder as om haarself oor haar gesondheid te verknies, word dit ’n geleentheid om opnuut na ander mense te kyk (en dan, in daardie lig, na haarself). En so skryf sy die slothoofstuk van Spertyd.”

Volgens Steytler leef sy ma met ’n menslike meelewing met die mense met wie sy in aanraking kom.

“Die afgelope jaar benodig sy dag en nag versorgers. Met elkeen het sy ’n band, sy weet van elkeen se familie en saam hoop sy dat die naweek vir een versorger met haar boyfriend goed sal afloop. Sy wil elkeen aan die lees kry, en put genot daaruit om te sien hoe hulle almal stadig aan die lees kom.”

’n Padwyser na medemenslikheid 

Lida Botha

‘Poppie’ na die verhoog

Die aktrise Lida Botha het Elsa Joubert vertolk toe die verhoogweergawe van Die swerfjare van Poppie Nongena as Poppie  in die 1980’s opgevoer is. 

“Dit was in die Markteater (in Johannesburg). Ek het as Elsa voor haar lessenaar en tikmasjien gesit en my karakter het interaksie met Poppie (destyds deur Nomsa Nene vertolk) gehad wanneer sy die vertrek binnegekom het. 

“Dit was regs bo (as jy van die gehoor se kant af kyk) en onder het die storie afgespeel.”

Sandra Kotzé het saam met Joubert die verwerking vir die verhoog aangepak. 

Botha was ook later in die toneelstuk Die sendeling wat die dramaturg Saartjie Botha op Joubert se kortverhaal “Die dood van die sendeling” gegrond het.

“Dit was ’n fenomenale ervaring om in daardie produksies te speel,” sê (Lida) Botha. “Ek wens daardie stories kan weer opgevoer word. 

Vinette Ebrahim

“Dit is die wonderwerk van goeie skrywers, hulle werk word nie oud nie. 

“Elsa is so ’n gerekende skrywer. Sy het die geskiedenis op so ’n objektiewe, mooi manier vertel. Die sendeling was ook ’n stunning, sterk storie. Dit was die mooiste stemme wat daarin gesing het ook.”

Later het die aktrise Vinette Ebrahim, veral bekend om haar rol as Charmaine in 7de Laan, die rol van Poppie vertolk. 

Dit was gedurende ’n tyd wat dit weer ’n voorgeskrewe werk op skool geword het en die Suidoosterfees het die produksie aangebied met Henry Mylne as regisseur.

“Poppie en die toneelstuk Boesman and Lena (deur Athol Fugard) is twee van die produksies wat jy as bruin of swart speler in jou loopbaan moet aanpak. Ek het geëerd gevoel om Poppie te speel.”

Nomsa Nene

Tog was die vertolking van Poppie nie sonder uitdagings nie.

“Oor die ou dae, mense het nie geweet wat aangaan nie en baie wou ook nie weet nie. 

“Dit het vir my herinneringe teruggebring en die jonger spelers in die stuk het ook baie geleer oor wat destyds aangegaan het. 

Ons het tydens repetisies ook gepraat oor die verlede. Jy moet die geskiedenis ken. Sonder daardie kennis kan jy nie die stuk doen nie. 

“Dit is een van daardie toneelstukke wat herhaaldelik opgevoer moet word. Ons kleinkinders moet eendag daarin speel.”


Hegte vriendinne 

Riana Barnard, ’n ouduitgewer by Tafelberg, het groot vriende met Joubert geword.

“Vir dié van ons wat haar ken – intiem oor ’n glas whiskey of kollektief deur haar meesleurende verhale in boeke – is haar skerp sintuie, haar wysheid en haar matelose begrip vir die broosheid van die lewe oorrompelend: 

Riana Barnard

Ek sien elke dag uit my venster die wonderlike geweld van ’n stukkie groen wat deur die dik bas stoot, onverhoeds hom oopvou en onhoorbare flapgeluide in die wind maak. Soms is daar ’n ry manteltjies wat oopgaan; direk uit die deurweekte donker bas dring die fyn, sagte puntjies deur, op hulle fynste, mooiste as hulle oopvou en die son in die klein aartjies opvang’.”

“Vandag vier ons die volkomenheid van 95 jaar se voorloop, Elsa. 

“Jy’t vir ons die pad aangedui na medemenslikheid, begrip vir mekaar, in liefde. As jong kind maak jy ’n belofte in jou outobiografiese vertelling: Ek sal nie doodgaan nie, sê sy aan haarself. Almal kan doodgaan, maar ek sal nie doodgaan nie. Ek belowe dit.

En ons sal jóú, Elsa, jou drome en ideale, voortdurend en vreesloos in ons harte dra. 

“Ons belowe dit.” 

Meer oor:  Elsa Joubert  |  Paarl  |  Spertyd  |  Skrywer  |  Boek  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.