Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Engel op moeilike spoor van verlede

In haar langverwagte – en meesterlike – derde kortverhaalbundel bewys Helena Gunter herhaaldelik haar vermoë om met enkele hale – van ’n kwas én ’n mes – komplekse karakters en fyn genuanseerde sosiale strukture bloot te lê, skryf Anna Kemp.

Tweespoor deur Helena Gunter.

Uitgewer: Protea Boekhuis. Prys: R180.

Iemand wat op reis gaan, het altyd iets om te vertel, lui ’n Duitse spreekwoord. En Helena Gunter het báie op die hart wat sy op meesterlike wyse deel. Reeds met haar vorige twee kortverhaalbundels, Op ’n plaas in Afrika (2007, wat die daaropvolgende jaar met die Eugène Maraisprys bekroon is) en Met koffer en kaart (2011), het sy gewys sy is volkome in beheer van die kortverhaalgenre. Ek wil my verstout om met die intrapslag reeds ’n oordeel te vel: Hierdie derde bundel skitter nog helderder as sy voorgangers.

Op die omslag is ’n afdruk van Paul Klee se Angelus Novus, die engel van die geskiedenis. ’n Stuk bruinpapier, wat lyk of dit hom moes bedek, is deels afgeskeur. Walter Benjamin, een van die beduidendste Duitse filosowe van die 20ste eeu, skryf in sy negende stelling oor die “filosofie van geskiedenis” hierdie engel kyk terugwaarts op die wrakstukke van die wêreldgeskiedenis en dat hy, anders as ons aardse wesens, nie ’n ketting van gebeure sien nie, maar ’n enkele groot katastrofe.

Die omslag, tesame met ’n motto van Dan Sleigh (“Praat met die verlede, dáár sal jy leer”), bied die leser ’n stewige vastrapplek om mee te begin. Die geskiedenis wat hier ter sprake is, is die Suid-Afrikaanse geskiedenis, die verlede en die hede, die twee spore van die titel.

In die tweede deel van die bundel staan Fransina met haar een voet in die verlede en met die ander voet soek sy vastrapplek in die hede (bl. 71). Sy gaan dus op reis, en die eerste reis is die verlede in. Sy moet eers op die spoor van die geskiedenis klim, “haar voormense se doen en lates ondersoek, die waarvandaan-af bekyk voordat sy die hierwees probeer kleinkry” (bl. 85). Haar verlede speel af op die plaas en op die platteland.

In vier wonderlik afgeronde verhale, wat elk as ’n model vir die kortverhaalgenre kan dien, word die leser teruggevoer na hierdie milieu, maar van nostalgie en gemoedelike lokale realisme is daar geen sprake nie. Daarvoor is die snykante te skerp, die ironie te skreiend, die humor te wrang. Die klein wrakstukke van die geskiedenis begin reeds ophoop.

In hierdie vier verhale, elk met ’n subtiel gekose titel, bewys Gunter herhaaldelik haar vermoë om met enkele hale – van ’n kwas én ’n mes – komplekse karakters en fyn genuanseerde sosiale strukture te skets en bloot te lê. Deur dialoog en beskrywing (van karakters en die natuur met géén woord te veel nie) en trefsekere tempo-wisseling skep sy ’n wêreld van klein vreugdes en smarte. Maar “klein” beteken nie onbenullig nie.

In “Die storieverteller”, ’n ander essay deur Walter Benjamin, verwys hy na Herodotus se verhaling van die verslane Egiptiese koning Psammenitus wat gedwing word om te kyk na die stoet van sy onderdane en kinders wat weggevoer word as slawe of om tereggestel te word. Emosieloos kyk hy toe, maar toe een van sy bediendes, ’n onbelangrike ou man, verbygaan as ’n slaaf van die nuwe Persiese heerser, slaan hy met sy vuiste teen sy kop en stort ineen van smart.

Gunter slaag daarin om by die leser ’n soortgelyke ontroering te ontlok oor Tilla, die gevoelige en skerpsinnige kind, die “sport”, die “karpatse klein dogtertjie” (bl. 13), en alles wat sy sien en beleef.

Aan die einde van elk van hierdie verhale staan die ouer Tilla, die een wat op reis gegaan het, wat die spoor van haar geskiedenis gevolg het en terugkyk – soos die engel van die geskiedenis – na die vreugdes en verliese van haar grootwordjare.

Dan vat Fransina die tweede spoor, die hede, waar sy sukkel om vastrapplek te kry. ’n Aanhaling uit Hilary Mantel se Wolf Hall (“. . . the past takes your fist and actuates it . . . That’s how murder happens” op bl. 67) waarsku die leser hierdie gaan nie ’n maklike spoor wees nie.

Die titel van dié vyfde verhaal, “Angelus Novus Africanus” (wat uit ses dele bestaan), plaas die engel in die hier en nou, in Suid-Afrika, met hope wrakstukke.

Fransina probeer staande bly, maar haar susters, maters, vriendinne, terapeut, Ouboeta, die slim professor, selfs haar eie man kasty haar. Hulle maan haar, moedig haar aan, kritiseer haar: Haar geskiedenis het irrelevant geword, is trouens vol van die “vreemdste en vieslikste monsters” (bl. 78), en om daaroor te wil tob, en, die gode behoed haar, skeppende werk te wil doen, grens aan die perversiteit van gevoellose Nazi’s wat “ringe-rosie speel terwyl die rook bokant Auschwitz spiraal” (bl. 120), of sy maak haar skuldig aan die skepping van kitsch, clichéagtige stereotipes en boonop die toeëiening van ander se pyn en lyding.

Naatloos weef Gunter sienings in van onder andere Susan Sontag en die Duitse skrywer Bernhard Schlink (wie se oeuvre ’n bestekopname is van die Duitse katastrofe tydens die Tweede Wêreldoorlog) in die heerlikste en snaaksste gesprekke tussen Fransina en haar treiteraars in “Man met tamaties”, ’n titel wat stillewes deur die Ou Meesters oproep. Nogmaals val Gunter se volmaakte oor vir tempo- en registerwisseling op. Sy kan van die wrangste ironie tot die suiwerste lirisme beweeg sonder om skeef te trap.

Fransina beleef en sien in al ses dele van die verhaal – met titels wat nóg harder eggo as in die eerste deel – die ontroerendste, die verskriklikste en die betowerendste wat Suid-Afrika kan bied.

’n Eenvoudige brief van ’n tante uit haar kinderdae (wat op 89 jaar ’n vyeboomstok geplant het en nou, op 91, nege soetryp vye kon pluk) dien as ’n raam vir die ses dele, en by die herlees van die brief (deur die leser) doem koning Psammenitus se rou weer op. Selfmoordplanne (“In die bek van die wind” – ’n titel wat ook heenwys op die stormwind wat die engel terugsuig in die hede in), verkragting en dood (in die ironies getitelde “Plesierrit”), besoeke aan vervalle museums, reise na klein dorpies, ’n wonderlike erotiese ervaring (“Landmyn”), sterrekyk (deur die Oog van Afrika, 98 miljoen jaar in die verlede in), ’n besoek aan ’n nuwegenerasie-haarsalon (“Opvaart”), noem maar op, Fransina was daar.

En sy leer en begin verstaan en begin haar voete op hierdie nuwe spoor vind.

Soos oom Flip Kistoor (in “Man met tamaties”) se vrugte net met sý handewerk, in hierdie stuk aarde, met hierdie wolke en water en son, en dalk ’n influistering van ’n god, so volmaak kon groei, só kry die leser die gevoel dat die verhale in hierdie bundel uniek is aan die uiters bedrewe (op elke vlak) skrywer, haar geskiedenis en haar hiér en nóú.

Of, op die gevaar af om te veel vergelykings te tref: Elke verhaal skitter op sigself, maar sáám vorm hulle ’n rigtinggewende sterrebeeld in ’n heelal waar die engel van die geskiedenis maar een groot katastrofe sien.

  • Anna Kemp is ’n kortverhaalskrywer en ywerige leser van Koringberg in die Swartland.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.