Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Enkele Storie’ geen guns vir Arundhati Roy
Arundhati Roy. Sy was in Augustus op ’n warreldwindtoer deur Suid-Afrika om onder meer oor haar jongste boek, The Ministry of Utmost Happiness, te praat. Foto: Jiti Chadha/Alamy Live News

Ek kon nie help om so 'n bietjie jammer te voel vir Michele Magwood, die gespreksleier by die Arundhati Roy-lesing voorverlede week in Johannesburg nie. Die skare Roy-bewonderaars was met die intrapslag brommerig. Die organiseerders se beplanning rondom die lesing was deurmekaar, die akoestiek van die gebou, ’n ou pakhuis wat omskep is in ’n venue heeltemal onvoldoende om ’n lesing te huisves.

Dan was daar nog die duur kos en drankies, die tekort aan die duur kos en drankies en die feit dat jy 15 minute moes wag vir jou duur kos en drankies.

Die grootste ontevredenheid van die aand was egter oor Magwood se tekort aan melanien en hoe dit haar gekniehalter het om die Bookerprysbekroonde skrywer en aktivis in ’n gesprek te betrek wat Die Belangrike Vrae Vra. Oor hoe Indië gefetisjeer word. Oor die bevoorregte koloniale lens waarmee “buitestanders” (lees die Weste) haar werk lees.

Magwood se eerste faux pas van die aand was om haar Westerse koloniale onderrok te laat uithang deur Indiese steoreotipes op te roep.

“Ons het ’n skewe filter oor hoe Indië gesien word en hoe Indië gesien wil word. En dit is deur die filter van Bollywood, kos, musiek, die Taj Mahal, Gandhi en The Best Exotic Marigold Hotel. Dis ’n gemengde gemors."

Magwood se beskrywing het nie goed afgegaan by die gehoor nie.

The Ministry of Utmost Happiness

“Sy het werklik gesê ons beskouing van Indië is die kleure, die Taj Mahal en Bollywood. Asof ons na plekke kyk asof dit eksotiese karikature is, sonder enige politieke verwysing,” het Pearl Pillay, ’n aktivis, ontsteld getwiet.

“Ek vind dit bisar dat die moderator nie verteenwoordigend is van die land se politiek nie,” het Pillay verder tydens die vraag-en-antwoordsessie laat waai.

Haar opmerking is gevolg deur luide applous deur die gehoor.

Chwaita Wenana Mtsewu Mamkhomazi, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, het nog harder woorde vir die organiseerders gehad. Haar inskrywing op Facebook oor die Roy-lesing is talle kere op Facebook gedeel.

“Die punt van Arundhati Roy se literatuur is nie die literatuur nie, dit is hoe sy gemarginaliseerde mense in die middel van haar werk plaas. Waarom was die geleentheid dan oorweldigend elite, oorweldigend wit, gevul met mense wat in posisies van mag is en direk en indirek mense onderdruk, dieselfde mense van wie Roy in haar boeke praat? Kapitalisme en rassisme het struktureel ’n houvas op ons lewe, maar dit moenie so maklik wees vir wit mense om toegang tot ons idees, uitvindings en kultuur te kry, sonder om salig onbewus te wees van ons stryd nie.”

Is die tipe denke, dat sekere mense slegs toegang mag kry hê tot 'n sekere skrywer of denker, gegrond op hul identiteitspolitiek nie gevaarlik nie?

Is dié tipe denke, dat slegs sekere mense toegang mag kry tot ’n sekere skrywer of denker, gegrond op hul identiteitspolitiek, nie gevaarlik nie? Is dit nie ook maar ’n vorm van kulturele elitisme nie? Maak dit ons nie kwesbaar vir wat die Nigeriese skrywer Chimamanda Ngozi Adichie na verwys as die “Enkele Storie” nie? Dié skrywer, wat in Amerika studeer het, vertel hoe haar (Amerikaanse) kamermaat so geskok was dat Adichie "so goed Engels kon praat".

“Sy wou luister na my tribal music en was baie teleurgesteld toe ek vir haar ’n kasset van Mariah Carey gee. Haar mening oor my, by verstek, was ’n neerbuigende, maar goedgesinde jammerhartigheid. My kamermaat het ’n Enkele Storie oor Afrika gehad, ’n enkele storie van rampspoed. In haar storie was daar nie ’n moontlikheid dat Afrika-inwoners dieselfde as sy kan wees nie, geen moontlikheid dat ons waardig is van meer as net haar simpatie nie, geen moontlikheid dat ons 'n verbinding met mekaar as eweknieë kan hê nie.

"Die enkele storie skep stereotipes en die probleem met stereotipes is nie dat hulle nie vals is nie, maar dat hulle onvolledig is. Hulle maak net plek vir een storie en daardie storie word die enkele storie.

The God of Small Things

"Natuurlik is Afrika 'n vasteland wat deur katastrofes geteister word," sê Adichie. "Daar is talle tragedies, soos die verskriklike verkragtings in die Kongo, en dit is belangrik dat ons daaroor praat. Maar die gevolg van die enkele storie is dat dit mense van hul menswaardigheid beroof, dit beklemtoon oor hoe ons anders is, eerder as eenders. Ek het altyd gevoel dat dit ontmoontlik is om deeglik met 'n plek of persoon in gesprek te tree, as ek nie al die stories van die plek of persoon in ag neem nie."

Dit was juis Arudhati Roy se The God of Small Things wat die Enkele Storie wat ek in my kop gehad het oor Indië, oor Bollywood en ghoeroes in saffraankleurige gewade afgebreek het en my kennis laat maak het met die wreedheid en elitisme van die Hindoe-kasstelsel. 

Die Botswana-skrywer Bessie Head spreek kwessies soos stamgebondenheid en meerderwaardigheid in 'n Afrika-dorpie aan in haar boek, Maru, my voorgeskrewe boek in matriek. Dit was konsepte wat vir my 18-jarige wit voorstedelike middelklasbestaan heeltemal onbekend was. NoViolet Bulawayo, die Booker-benoemde Zimbabwiese skrywer, het my meer bewus gemaak van die uitdagings waardeur immigrante en vlugtelinge uit Afrika in die gesig gestaar word met haar boek, We Need New Names. Dis nie my stories nie, maar dis stories wat my lewensbeskouing uitdaag en verryk en enkele stories uitbrei na veelvoudige narratiewe.

Mamkhomazi en Pillay is reg oor een ding: Penguin Random House kon meer moeite gedoen het om nog 'n moderator te kry wat meer met Roy se aktivisme en politieke werke kon vereenselwig. Somtyds moet jy tot jou gehoor speel.

In Magwood se vaardighede het ek geen twyfel nie, sy is 'n gesoute redakteur en boekresesent en sy het uitdagende vrae aan Roy gestel oor Marikana, mediavryheid en haar aktivisme. Miskien het ek ook Magwood anders verstaan, maar het sy met haar eerste vraag nie juis kritiek gelewer op die Weste (en by verstek, mense soos ek en sy) wat Indië juis net deur die Enkele storie van Bollywood en Ghandi ken nie?

Ek verwerp egter die denke dat sekere demografiese groepe weens identiteitspolitiek by belangrike gesprekke uitgesluit word. Hierdie "veilige ruimtes" waar soort soort soek, is eintlik maar net eggokamers waar ons enkele stories skep wat by ons persoonlike narratief inpas sodat ons binne ons gemaksones kan bly. Stories dat alle Amerikaners soos Donald Trump is, swart mense misdadigers, bruin mense lede van bendes en wit mense rassiste is. Hoe sou die wêreld gelyk het as wit mense Afrika beskou het deur die

male gaze van 'n Wilbur Smith-slapband?

Die hemel help ons as die hoeveelheid melanien in my vel my beperk tot Jane Austen, Henry James en die Bronté-susters en my uitsluit van Marquez se magiese realisme, die rococo-verwewings van Rushdie se komplekse prosa en die Persiese poësie van Rumi.

  • Carla Lewis is ’n redaksielid van Beeld.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.