Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Erla-Mari skryf smeulboek in 4 dae

Die skrywer Erla-Mari Diedericks maak nie van haar hart ’n moordkuil nie. Haar jongste boek, Agter grendels, is ’n e-boek oor erotika “wat sy soos ’n waansinnige” in vier dae geskryf het.

Erla-Mari Diedericks

Die boek “pas perfek in by die huidige polemiek waarvan Deon Maas gesê het die aanlyn plundering van boeke sal nie plaasvind as e-boeke goedkoop is nie".

"Agter grendels kos R49 en niemand het nou ’n verskoning om die boek te steel nie. Dit is goedkoper as ’n pakkie kondome,” sê Diedericks.

In haar memoires vertel sy van haar traumatiese kinderjare, tog skyn optimisme en ’n vrolikheid deur haar skryfwerk, wat sy sonder skroom toeskryf aan “tequila, goeie antidepressante en ’n energieke optimisme wat niemand kan onderkry nie”.

Sy beantwoord Netwerk 24 se vyf vrae onbeskaamd eerlik.

Hoe het dit gebeur dat jy versoek word om oor seks te skryf as jy, volgens jou, nie regtig in ’n seksmaat/man/lewensmaat belang stel nie. Jy plant skynbaar eerder kruie, al verdor dit.

Om oor seks te skryf is nie iets wat almal kan doen nie. Dis ’n kuns, ’n tegniek – veral in Afrikaans waar seksbeskrywings nogal maklik kru kan wees. Jy moet sorg dat jou beskrywings uniek is en ook gepas vir ’n Afrikaanse gehoor. Ek is in die tyd van inperking gevra of ek erotika wou skryf vir Lapa Uitgewers wat dan net aanlyn uitgereik is. Dit het my vier dae geneem van vurige, onverpoosde skryfwerk en ek het uiteindelik hygend klaargemaak. Dit was omtrent al hygery wat in my huis plaasgevind het. Natuurlik hoop ek dat ek “my persoon” sal ontmoet, maar in die tyd van korona fokus ek eerder op my kind se gesondheid en my skryfwerk.

Wat is jou doel met ’n hygroman en spesifiek Agter grendels?

Ons praat nie meer van hygromans nie, maar van erotika, volgens my uitgewer, en ek stem saam. Hygromans is soos die straatvrou en erotika is die hoogsbetaalde gesellin, as ek dit so kan stel. Mense sê graag “seks verkoop”, maar eintlik is dit net sensasie wat verkoop. Seks verkoop net as dit goeie seks is. Dus verkoop net goeie erotika en erotiese rolprente. Die ander kan jy gratis gaan lees of op die internet kyk.

Skryf jy erotika omdat jy persoonlike ervaring van sekskapades het of doen jy navorsing deur kers op te steek by seksterapeute en sielkundiges?

Ek steek nie kers op nie, ek steek net (grappie). Ja, mense dink ek skryf uit persoonlike ervaring en ja, in ’n mate doen ek dit. Ek meen die seksdaad en soen en vry kan tog uiteraard net die beste eerstehands beskryf word. Maar . . . het ek al die dinge al gedoen waaroor ek skryf? Nee. Wil ek graag al die dinge doen waaroor ek skryf? Gewoonlik, ja! Met erotika is die held altyd super-aantreklik en sexy en sjarmant. Dis pure fantasie. Die sekstonele wat ek beskryf, is dikwels ook fantasieë wat ek graag sou wou bewaarheid. Ek wag net vir die regte man.

Werk jy aan of beoog jy om ’n ander genre aan te pak en wat sal dit wees?

Ek het sover al vyf boeke geskryf. Twee was memoires, twee erotika (albei e-boeke) en een ’n Engelse roman wat ook half en half ’n erotiese element bevat. Maar nou die dag het ek ’n aanlyn kursus deur Margaret Atwood (Skrywer van The Handmaid’s Tale) gedoen en daarin sê sy dat ’n ouer skrywer dikwels eers later sy of haar stem vind. En toe het ek gewonder wat my stem is. Want ek weet ek soek nog my genre. ’n Mens kan ook net soveel keer oor jouself en oor seks skryf en dan is dit ook vervelig. Ek werk aan ’n sielkundige riller en ek geniet dit ongelooflik baie. Dit is eintlik ’n heel intelligente en opwindende genre, omdat jy jou intrige deeglik moet uitwerk en deurdink. En dis superopwindend – jy kan speletjies speel met lesers en hulle ’n rat voor die oë probeer draai. In die stadium geniet ek nog alle genres en kan omtrent in enige genre skryf. Die slotsom van enige boek is ’n goeie storie en ’n goeie storieverteller. Woorde is die siel, die genre net die geraamte waarin dit pas.

Is jy nog in die joernalistiek of skryf jy net boeke?

Ek werk vir Netwerk24 en as skrywer en joernalis is dit die perfekte kombinasie van nuus, aksie, feite, fiksie en kreatiwiteit. Geeneen van die twee bring ’n goeie inkomste in nie, maar met die twee saam kan ’n mens die pot aan die kook hou.

  • Diedericks se vorige boeke is Sushi and Survival: A Memoir; Still Standing; Seks, leuens en die internet; V-verhale en nou ook Agter grendels, wat net as e-boek te kry is.
Meer oor:  Erla-Mari Diedericks  |  Lapa  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.