Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ernstige temas met ligte aanslag

Mariël le Roux se nuwe roman, ‘Mieke’, is deurspek met daardie daaglikse dramas wat om ons eie kombuistafels en in ons eie sitkamers sou kon afspeel, maar waaroor ons dankbaar is dat  dit nié die geval is nie, skryf Trisa Hugo.

Miekedeur Mariël le Roux. Uitgewer: Lapa. Prys: R290.

Om ’n verhoudingsroman te skryf met oortuigende karakters, storielyne en spanning verg lewenswysheid en insig in die self sowel as die mensdom.

Mariël le Roux het haar reeds bewys as ’n meester op dié gebied. Haar karakters is menslik, rou en eerlik, asof dit mense is van wie jy weet, dalk selfs verlangse familie. Sy skryf oor gebeure wat jy hoop jy nooit mee te doen kry nie. Daar gebeur dinge in families wat toegesmeer en geheim gehou word, en Mieke is geen uitsondering nie.

Die verhaal word vertel uit die oogpunt van Mieke, wat as bejaarde saam met haar man, Johan, in Gouda in Nederland terugkyk na gebeure wat amper 40 jaar gelede op hul plaas, De Hoek, uitgespeel het.

In van Le Roux se vorige boeke was die temas hoofsaaklik vrees en ontbering uit die oogpunt van ’n kinderkarakter wat die slagoffer en ooggetuie van onnoembare dade is. Die fokus het in Isabella (2017) verskuif na ’n grootmenskarakter wat self verantwoordelik is vir dade wat onmeetbare gevolge het.

In Mieke kyk die titelkarakter toe op ’n duidelik getraumatiseerde Boeta se lewe en hoe dit hulle almal geraak het. Hy het op ’n dag aan hul deur kom klop met sy opgeboude skoen en verweerde leerkoffer. Aanvanklik is daar ’n afstand, ’n weerstand geskep deur omstandighede. Gou word Mieke en al die mense op die plaas egter intens betrek by die weerlose kind wat almal op De Hoek se lewe onherroeplik verander. Antie Lottie waak soos ’n moederhen en bederf Boeta met koekies en beskuit. Soos wat Mieke se weerstand verkrummel, sleep sy die leser al hoe dieper saam die verhaal in.

Soos in enige goeie drama is humor deel van die erns.

Le Roux se karakters is mense met foute en skuldgevoelens, en in Mieke kry ons te doen met die titelkarakter se skuldgevoelens, oorkompensasie, onttrekking en jaloesie. Tog probeer sy terselfdertyd haar bes om Boeta te laat diag­noseer en behandel, ondanks sy ma, Ella, se oënskynlike ongeërgde houding.

Ella se lewensmaat, George Vogel (oftewel oom Voël), was die enigste karakter wat hierdie leser nie oortuig het nie. Sou 'n professionele persoon soos Ella betrokke raak by so ’n bar, ongesofistikeerde geweldenaar? Sou ’n kunstenaar so ongevoelig en wreed wees? Tog weet ons in die werklike lewe is alles moontlik. Le Roux put graag uit die ryk bron stories van haar grootwordomgewing, en indien die George Vogel-karakter wel op ’n werklike persoon gegrond is, is die werklikheid voorwaar vreemder as fiksie.

Boeta en die veel jonger Rooltjie, een van die werkers se kinders wat kan “sien”, word onafskeidbaar en in hul onskuld kry die leser ’n blik op die hormone wat begin lol. Boeta is baie bewus van sy “privaat” (sy penis), terwyl Rooltjie, wat ’n kamer met sy ouers deel, vertel: “Ek wil ook eendag lekker kan vry. Ek sien my pa en ma as hulle so onder die kombers aangaan. Hulle dink ek slaap, maar al die tyd is ek wakker. Dis soos twee krokodille wat mekaar wil versuip as hulle so rol en rem. Vry en fight is lyk my baie dieselle. Dis ’n moerse gestoei, hoor.”

Soos in enige goeie drama is humor deel van die erns. Dis nie net Boeta en Rooltjie se hormone wat pla nie . . . Tante Juliana meen “alle vlees bly tog immer hulpbehoewend” en tante Trix verklaar: “As ek weer man vat, sal dit juistement vir die plesier in die vlees wees. Ek loop al te lank alleen, my gees soek nie meer ondersteuning nie.” Tog word dit sonder skunnigheid aangebied en is tante Trix bekommerd oor die werklikheid en moontlike gevolge van Boeta se hormone: “Julle moet versigtig wees, Mieke. Diesulkes kan nie verantwoording doen vir hul dade nie. Hul natuur loop te sterk vir hul breine.”

Die roman is deurspek van daardie daaglikse dramas wat om ons eie kombuistafels en in ons sitkamers sou kon afspeel, maar waaroor ons dankbaar is dat dit nié die geval is nie. Gruwelikhede waarvan ons lees, gepleeg deur mense wat ons bure kon wees. Of soos tante Trix die roman in ’n paar woorde opsom: “Ons is mos maar almal skuldig aan menswees.”

Die temas is ernstig en emosioneel, maar word lig en toeganklik aangebied, in eenvoudige taal wat dieper sny as groot woorde. Le Roux skryf vir ’n groot leserspubliek: Aanhangers van ligter lekkerleesboeke én ernstige literêre werke behoort by Mieke aanklank te vind.

  • Trisa Hugo is ’n skrywer van Kleinmond en medestigter van die boekewebwerf Boekemakranka.
Meer oor:  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.