Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Erskine doen introspeksie vir boek oor boelies
Marion Erskine

Agterin sy jeugboek, Vlerke vir almal, bedank Marion Erskine al die boelies uit sy verlede.

Boelies wie hy een na die ander as volwasse mens op Facebook gekontak het. Elkeen van hulle het vir hom jammer gesê.

Sy boek, wat ook as toneelstuk op aanstaande jaar se US Woordfees debuteer, raak temas aan soos kuberboelies en selfdood onder tieners. Dis ’n boek waarvoor hy uit sy ervaring geput het, maar ook baie navorsing moes doen.

“Ek het tot amper by die laaste hoofstuk gevorder en toe sukkel ek om verder te skryf. Ek het besef ek kan nie vir tieners raad gee as ek nie self my eie verlede konfronteer nie. Dit sou van my ’n huigelaar maak. Jy beweeg aan, die wonde gaan toe, maar ek moes daarmee deal. Ek het op Facebook al my boelies opgespoor.”

Hy het kortliks aan hulle geskryf oor sy omstandighede destyds toe hulle hom geboelie het.

“Ek het geskryf: ‘Ek wil net vir jou sê dít het gebeur terwyl jy my geboelie het, terwyl jy my geskop het. My pa het toe aan kanker gely het. Weet jy hierdie dinge het met my familie gebeur?’ ”

Een vir een het hierdie mense teruggeskryf en elkeen het gesê hulle is jammer. Toe eers kon hy die boek klaar skryf.

Vlerke vir almal deur Marion Erskine.

Hy moes ook baie navorsing oor selfdood doen. “Ongeveer nege uit tien mense is in geweldige dwaal wanneer hulle hul eie lewe neem. Daar is miskien wel iemand wat hulle kan ondersteun, maar hulle dink nie aan oplossings nie, hulle wil net van die pyn ontslae raak.”

Erskine belig ook verskillende aspekte van boelies.

“Ek het dit met die verskillende karakters probeer regkry. My ma het byvoorbeeld gesê ’n grap is net ’n grap as albei mense lag. Ek het altyd geweet ek wil hierdie een spesifieke karakter hê. Ek het geweet sy moet doodgaan en dat sy geboelie gaan word.”

Dit kom heelwat later in die boek uit dat sy gay is.

“Dit is iets omtrent die karakter wat net ’n druppel in die emmer is van wat haar menswees betref.”

Erskine het dit juis só vertel dat ’n mens haar eers goed leer ken voordat hierdie ontdekking deur die leser gemaak word.

’n Ander karakter is ’n groot skoolboelie, maar dis nie bekend wat haar omstandighede is nie.

Amanda Todd, ’n Kanadese tiener het in 2012 haar eie lewe geneem ná sy op ’n YouTube-video haar verhaal as slagoffer van boelies vertel het. Erskine het haar selfdood-video in 2014 gesien en dit het hom in trane gehad.

“Hierdie persoon het niemand gehad nie. Ek het van die begin af besluit om die boek aan haar op te dra. Toe gaan sit ek eendag met ’n papier voor my en ek besluit ek gaan ’n boek teen boeliegedrag skryf. Amanda se naam was van die begin af daar.

“Toe ek die boek begin skryf, toe vloei dit. Dit was soos ’n release. Amper asof my hart gesê het jy moet dit doen. Ek het geweet ek kan nie verander wat met Amanda gebeur het nie, maar dalk kan ’n mens iemand anders help.”

Die titel van die boek was ’n voorstel deur die skrywer Fanie Viljoen. Erskine het dit as werkstitel gebruik en toe hou die uitgewer ook daarvan.

“Fanie het dit 100% raakgevat, want dis presies waaroor die boek gaan. Mense sê almal hulle het introspeksie gedoen met die lees daarvan. ’n Klomp mense het gesê die ergste van alles was dat terwyl hulle dit gelees het, hulle hulself afgevra het of hulle iemand te na gekom het.”

  • Vlerke vir almal het by Human & Rousseau verskyn.
Meer oor:  Woordfees
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.