Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Ervare Ruda slaag elke toets

Suid-Afrikaners weet steeds kommerwekkend min van mekaar, maar in dié vraag-en-antwoordsessies met 18 uiteenlopende Suid-Afrikaners slaag Ruda Landman in haar doel om die bordjies te verhang, skryf Bun Booyens.

Tell Me Your Story deur Ruda Landman. Uitgewer: Tafelberg. Prys: R290.

Prosa is puik, maar soms klop niks die gesproke woord nie. Tog is onderhoudvoering ’n onderskatte genre in die letterkunde – ’n jammerte, want dikwels lewer ’n doodgewone vraag-en-antwoordsessie ontroerende woordgebruik op.

Dink byvoorbeeld aan John Lennon se onderhoud in 1980 met Playboy waarin hy gesels oor sy ma wat hom verlaat het toe hy net vier jaar oud was en gesterf het toe Lennon 16 was: “I lost her twice.”

Of hier te lande Frans Diko, ’n plaaswerker van Laingsburg, wat vertel hoe nege van sy 11 familielede deur die vloedwaters van 1981 meegesleur is: “Die water het hulle soos ’n byeswermpie weggevat soos hulle aan mekaar vasgehou het.” Nie een van die 11 liggame is gekry nie.

En op ’n ligter trant was daar, ook in die 1980’s, die onderhoud met die tennisspeler Vitas Gerulaitis nadat hy uiteindelik Jimmy Connors ná 16 verloorslae geklop het: “Let that be a lesson to you all. Nobody beats Vitas Gerulaitis 17 times in a row.”

Dit is dus met afwagting dat gespreksliefhebbers ’n boek soos Tell Me Your Story deur Ruda Landman van Carte Blanche-faam sal oopslaan om haar onderhoude met 18 uiteenlopende Suid-Afrikaners te lees.

As deurwinterde joernalis kom Landman met gemak oor die twee hekkies waaroor so baie verslaggewers struikel: Sy berei deeglik voor en sy lúíster. Geen “Vertel ons ’n bietjie meer van jouself”-vrae hier nie.

Ons moet nie soseer fikseer om brûe te probeer bou na die mense doer oorkant nie, want ons is almal aan dieselfde kant van die kloof.

En sommer met die eerste onderhoud slaag die boek nog ’n belangrike toets. Die Afrikaanse dele van Landman se onderhoud met die akteur John Kani word net so behou: “Jirre jong, toe sien ek . . . hoekom sien ek ’n poliesman by die exit uitgaan?” hoor jy Kani se stem so duidelik dat jy amper sy oë kan sien.

Die Engelse vertalings van Ruda se gespreksgenote se Afrikaanse woorde en frases word in voetnotas onderaan die bladsy gegee; dus herken die Suid-Afrikaanse oor dadelik die tongval. Die joernalis Anton Harber praat oor die beginjare van TheWeekly Mail in die 1980’s. Die innemende renjaer Gugu Zulu gesels oor sy toekomsdrome (voor sy tragiese dood op Kilimandjaro in 2016). Patricia de Lille kyk terug na haar kinderdae op Beaufort-Wes, en Arno Carstens na syne op Worcester. Zapiro vertel oor sy dienspligjare en sy bekende Lady Justice-spotprent van 2008. Pieter-Dirk Uys vertel wie hom in sy beginjare as Petrus Poephol aangespreek het.

Só ontmoet jy mense wat elk op hul eie manier hul stempel ten goede in Suid-Afrika afdruk – ’n sakeman, tradisionele geneser, weeshuis-barmhartige, mediahoof, komediant, TV-persoonlikheid.

My gunsteling-onderhoud? Die laaste een in die boek, waar die fluitspeler Wouter Kellerman vertel hoe hy van ingenieur in Witbank sy pad moes oopworstel tot ’n Grammy-toekenning in Los Angeles.

Tell Me Your Story slaag in die doel wat Landman in die voorwoord aan haarself stel: Ons as Suid-Afrikaners weet steeds kommerwekkend min van mekaar, en tensy ons mekaar gaan begin opsoek en ons belewenisse – veral die onaangenames – aanhoor, loop ons ’n toekoms tegemoet waar ons mekaar net-net sal verdra. Of dalk nie.

Saamgetel bring hierdie gesprekke ook ’n groter punt tuis, naamlik dat ons nie soseer moet fikseer om brûe te probeer bou na die mense doer oorkant nie, want ons is almal aan dieselfde kant van die kloof.

Landman se onderhoudstyl is hoflik. Sy kies haar vrae versigtig en kry die antwoorde waarna sy soek. Dit is opvallend dat sy amper elk van die 18 mense pertinent uitvra oor hul lewensmaat, en dit bied telkens ’n vars blik op mense oor wie jy dalk al gelees het.

Kritiek? Die tipografie. By elke onderhoud is die bekendstellingsparagraaf én die vrae én antwoorde in dieselde lettertipe én ewe groot. Hoekom nie die inleiding in vetdruk plaas en al die vrae dan in skuinsdruk nie? Só sou die oog sekerlik die ritme van die gesprek veel makliker raaksien as met die stokkerige Ruda/

Letshego/Ruda/Letshego-voorvoegsel wat jou soos ’n veiligheidswag by elke nuwe vraag en antwoord inwag.

Pleks van die vaalblou agterblad, hoekom nie ’n kop-en-skouersfoto plaas van elk van die 18 mense met wie gesels word nie? Drie rytjies van ses foto’s – so maklik soos val uit ’n boom, veral vir ’n ervare uitgewer soos Tafelberg.

’n Mens wil immers hê ’n interessante boek deur een van Suid-Afrika se mees ervare onderhoudvoerders moet flink verkoop en wyd gelees word.

  • Bun Booyens is ’n vryskutjoernalis.
  • Die tantième uit Tell Me Your Story gaan aan die organisasie StudyTrust ten bate van behoeftige universiteitstudente.

Ruda gesels met:

* John Kani (akteur en dramaturg);

* Angel Jones (entrepreneur wat uitgewekenes teruglok na Suid-Afrika);

* Anton Harber (joernalis en skrywer); 

* Dineo Ndlanzi (sangoma);

* Arno Carstens (musikant); 

* Gugu Zulu (renjaer); 

* Letshego Zulu (fiksheidsinstrukteur en Gugu se weduwee); 

* Patricia de Lille (politikus en aktivis); 

* Jonathan Shapiro (spotprenttekenaar); 

* Katlego Maboe (TV-aanbieder);

* Khanyisile Motsa (tehuisbestuurder vir mishandelde meisies en vroue); )

* Esmaré Weideman (joernalis, redakteur en mediabestuurder); 

* Marc Lottering (komediant); ) Nick Binedell (sakeleier);

* Ferial Haffajee (joernalis en redakteur); )

* Pieter-Dirk Uys (satirikus en dramaturg); 

* Tebogo Thekisho (musikant); en 

* Wouter Kellerman (fluitspeler).

    Meer oor:  Ruda Landman  |  Resensie
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.