Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Eybers: Die grande dame van digkuns
Elisabeth EybersFoto: Argief

Een van Afrikaans se groot digters, Elisabeth Eybers, is vandag tien jaar gelede op 92 oorlede. Joan Hambidge bring hulde aan dié besonderse stem.

So klink ’n puntdig vir Eybers:

Elisabeth Eybers

Altyd in balans, in ewewig:

afgeweeg simmetries ’n gedig.

(uit Matriks, 2015)

Nou onlangs dig ek weer oor haar:

Arachnida

’n Spinnekopnes

ágter my badkamerdeur

neem my na ons behendige digteres

se besinning oor só ’n gebalde buik.

’n Bottel Bulgari stuur ’n kalant,

segsman vir dié geslepe spul,

óndroewig na sy verdoemenis.

Wis dié swernoot die eienares

allergies, in extenso, vir gif

van harige, poterige gediertes?

Indemniseer? Begrafnishou?

Vir sodanige migrante se okkupasie

(helaas nou in absentia) wig

sy eerder ’n liederlike lykdig.

Hierdie gedig, uit my bundel Astrak waarmee ek steeds woeker, som my bemoeienis met Elisabeth Eybers op: meer spesifiek Eybers in haar bundel Balans (1962).

Eybers is vir my, soos Opperman en Van Wyk Louw, digters wat my tegnies boei. Natuurlik is daar Wilma Stockenström, Sheila Cussons, TT Cloete en Peter Blum onder andere, maar die triade, Opperman, Louw en Eybers het waarskynlik te make met my ontdekking van hul verse in die Standertonse hoërskool se biblioteek in die laat 1970’s. Van hierdie verse het ek van buite geken.

Daar is baie belangrike temas in Eybers se digkuns. Moederskap, ontheemding, afskeid (en vertrek), van lewe tússen twee vastelande, liefdesverbintenisse, die afsterwe van geliefdes, liefdesverse, die vriendskap met Olga Kirsch, ’n ander “bannelingdigter”, die “vroulike aanvulling tot dertig”, ensomeer.

In 2015 was daar ’n Elisabeth Eybers-uitstalling by NALN in Bloemfontein van stukke uit haar woonstel in Nederland.Foto: Conrad Bornman

Die eiesoortige taal (oftewel tussentaal soos Ena Jansen dit benoem het) is kenmerkend soos die ironiese wendings (ons dink hier aan “Wespark”) en nou onlangs in ’n genderkursus kon ek ryklik put uit haar oeuvre om genderkonstruksies uit te wys en die ambivalensies wat in haar gedigte huiwer. Niks is ooit finaal nie; alles is ’n en-en-posisie. Of dalk of-en? Kruis of munt (1973) heet ’n uitstaande bundel.

Vir my as digter is sy die meester, of moet ek eerder skryf, meesteres, van die distigon en sonnet. Haar bemoeienis met die “edel spel” van die digterskap, is opvallend.

’n Digter se grootheid word nie alleen bepaal deur haar plek in die kanon nie, maar ook op die aantal reaksies op haar werk. ’n Mens dink hier aan die merkwaardige ooreenkoms tussen Eybers en Emily Dickinson soos uitgewys deur Lina Spies in die studie Die enkel taak: Die merkwaardige verwantskap tussen Elisabeth Eybers en Emily Dickinson wat in 1995 verskyn het.

Verskeie literatore het al haar lof besing: die reeds genoemde Jansen in haar doktorale studie van 1992: Afstand en verbintenis. Daniel Hugo sonder haar uit as ’n belangrike digter.

Ek het Eybers tweekeer in my lewe ontmoet in Amsterdam. ’n Briljante vrou met ’n belangrike kennis van presies wát sy goed of sleg vind in ons letterkunde.

By meer as een geleentheid is daar palinodes op haar verse. My bundel Vuurwiel begin met ’n boodskap aan Eybers.

In ’n parodiese antwoord “Digteres as huisvrou” besing hierdie digter haar lof.

Digteres as huisvrou

vir Elisabeth Eybers

Altyd ’n Mr Delivery-boks teen die muur,

nooit ’n optelslet op die onvanpaste uur.

Agenda/memoranda-dae waardeer sy gatvol,

moerig van vergadering na vergadering tol.

Wasgoed wat deur haar Bosch-masjien swaai,

sewe stelle klere plus gymbroeke aan die draai.

Eksamenskrifte, e-posse, verslae op haar lessenaar

(’n Toring van Babel), neffens kritieke wat stof vergaar.

Tussendeur skryf sy gedigte stiekem wyl sy verwoed werk,

haastig beweeg van spertyd tot dit wat haar binneste versterk.

O muses, wees haar genadig:

laat haar maar parodies dig!

Is daar gunsteling-gedigte van Eybers? Uiteraard te veel om op te noem, maar beslis: “Wes-Transvaal”, “Herinnering”, “Emily Dickinson”, “Amasone”, “Huiskat”, “Röntgenfoto”, “Oorsig”, “Taalles”, “Twee kleuters in die Vondelpark”, “Ode aan kontroleur de Laar”, “Mammektomie”, “Woordeloos” . . . te veel om op te noem . . .

So lui ’n paar:

Navrae

Die aard van angs is dat dit tydelik kwel.

Verdriet, volgens ’n ou ballade, duur

twaalf maande en ’n dag, tot op die uur.

Die ritueel van rou is vasgestel.

Vreemd, van berou word nie so veel vertel.

Waar vind ’n mens ’n betroubare gedig

om jou oor die vervaldatum in te lig

van daardie individueler hel?

(Balans, 1962).

Vir Bert

Noudat jy swyg is daar niks meer

vir my om ooit nog te begeer

buiten die tydstip waarop ek

dieselfde stilte mag bereik.

In die Engelse weergawe klink dit so:

Now that you’re mute there’s nothing more

that I could still be hankering for

except the freedom to abstain,

like you, from uttering words again.

(Valreep / Stirrup-cup, 2005).

Die gebruik van twee tale illustreer hoe behendig sy dig. Die twee gedigte, wat naas mekaar geplaas word, kry so gelees nuwe betekenisse, word herlaai met implikasies. Dus ’n soort intratekstualiteit waarin die leser bewus bly van die feit dat ’n geslaagde gedig uiteindelik te make het met die digterlike vermoë om deur woorde iets raak te vat. Nie in enige woorde nie, maar in woorde wat daardie onderwerp skerp en finaal kan beskryf.

Eybers het ’n reeks gedigte geskryf waarin sy bewys gelewer het van hierdie uitsonderlike talent om ’n netjies afgewerkte gedig te skryf waarin geen woord of beeld uit plek is nie. Ook haar Engelse gedigte is knap vertalings.

Oor haar bundel Valreep het ek soos volg geskryf op my blog Woorde wat weeg.

Hier het ons vintage Eybers: ironie, keurige woordgebruik, vormbeheer en lewenswysheid. Sy bly ’n grande dame van ons digkuns en om op 90 wat nog so te kan dig, is met een woord verstommend. Sy skryf ’n vers wat gepuur, dus suiwer is. Dit is gedigte wat met bykanse distansie aangebied word, maar juis hierom tref die pyn of ’n gevoel die leser met groter skerpheid.

In ’n brief aan my na die verskyning van Ewebeeld (1997) skryf sy aan my:

“Dit beloof baie vermaak en genot ondanks die versengende emosie . . .

Dit is wat ’n mens veral by haar leer: die digkuns as noodluik, maar waar emosie teruggehou moet word . . .

Daar is maar een Eybers en na Eybers kan ’n mens altyd terugkeer. Die neerslag van haar buitengewone talent sal altyd imponeer en inspireer.

* Joan Hambidge is ’n professor in Afrikaans en kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Nederland  |  Digkuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.