Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fanie Viljoen verheug oor Jeugroman-prys

Die skrywer Fanie Viljoen “loop op ’n wolk” nadat hy Woensdag as die wenner van Lapa se Jeugroman-kompetisie aangewys is.

“Dit is baie opwindend, ek kry die hele oggend nog boodskappe,” sê Viljoen, wat met sy distopiese jeugroman Offers vir die vlieë die prys gewen het.

Fanie Viljoen

Viljoen sê “dit het begin deurskemer” toe sy boek se inhoud op die prysuitdeling in die Unisa-kleinteater in Pretoria beskryf is voordat hulle sy naam genoem het.

Die geestelike skrywer Maretha Maartens, asook Jan Vermeulen, het gesamentlik die tweede prys gewen – Maartens vir Bethel se berg en Vermeulen vir Baster.

Viljoen was twee keer vantevore die naaswenner in die kompetisie met sy romans Betower en Afkop.

Viljoen, bekend om sy boeke soos Breinbliksem en Onderwêreld, laasgenoemde ’n voorgeskrewe boek vir gr. 12-leerlinge, het voorheen ook Sanlam se Jeugroman-kompetisie gewen.

Hy vind voortdurend nuwe idees vir jeugromans.

“Ek hou my oë en ore oop. Idees duik soms op die vreemdste plekke op. Soms keer dinge uit die verlede terug na jou bewussyn en miskien kan jy daardie idee op ’n ander manier gebruik. Daar is nie veel distopiese boeke in die Afrikaanse jeugmark nie, ook nie verwysings na die weermag nie.”

Die weermag kom wel voor in Offers vir die vlieë. Die boek sal na verwagting aan die einde van die jaar uitgereik word.

Hy het sowat vier maande aan die boek gewerk. “Dit het nogal ’n stewige plot en om al die lyne bymekaar te hou, het nogal beplanning geverg. Die boek beweeg eintlik nader aan die volwasse mark. Hoewel dit nog ’n jeugroman is, raak dit meer crossover vir ouer tieners.”

In Offers vir die vlieë is Eliam en sy vriende op pad na die linie om in die oorlog te veg waarvoor hulle al van kleins af brutale opleiding ontvang.

“Ek probeer altyd boeke skryf wat ouens én meisies kan lees. Hierdie boek is dalk meer gemik op seuns, maar daar is wel sterk vrouekarakters. Dit is belaai met testosteroon omdat dit werk met die gegewe van die weermag. Dit sal interessant wees om te sien hoe meisies op die boek reageer.”

Meer oor:  Lapa-Uitgewers  |  Fanie Viljoen  |  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.