Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fantasmagoriese parodie oor hedendaagse wêreld

Salman Rushdie se voortreflike nuwe roman, ‘Quichotte’, is ’n groteske parodie van die hedendaagse samelewing, gegrond op Cervantes se klassieke meesterstuk ‘Don Quixote’, skryf Annemarié van Niekerk. Dit is ook een van die ses titels op die kortlys vir die Bookerprys, waarvan die wenner Maandag bekend gemaak word.

Quichotte deur Salman Rushdie. Uitgewer: Jonathan Cape. Prys: R290.

Ek dink ’n kunswerk wat vandag gemaak word, het die reg om te sê ons is vermink deur die kultuur wat ons gemaak het, vernaam die populêre elemente daarvan. So sê ’n pa aan sy seun tydens ’n langpadreis deur die VSA terwyl hulle gesels oor die Westerse mens wat deur ’n groeiende verontmensliking sy morele kompas verloor het en nie meer in staat is om samehangende betekenis aan die lewe te gee nie.

Hierdie betoog is maar een van vele wat gevoer word in Salman Rushdie se nuutste roman, Quichotte, gegrond op Cervantes se tweedelige protoroman Don Quixote. Teen ’n rasende tempo word ons meegevoer in ’n fantasmagoriese karnaval van uiteenlopende onderwerpe: literatuur, popmusiek, geskiedenis, filosofie, kuberspioenasie, rolprente, teater, wetenskapsfiksie, korrupsie, die #MeToo-debat, geweld, wetenskap, TV-programme, rassisme, politiek, die sakewêreld en soveel meer. Hierdie bont, verwarrende opeenvolging maak een ding duidelik: Dít is wat van ons wêreld geword het.

Waarom Rushdie juis Cervantes se 17de-eeuse roman kies om ’n groteske parodie van ons eie tyd, vier eeue later, te skryf, het waarskynlik te doen met Don Quixote se reputasie as die eerste moderne roman in die Westerse literatuur wat deur sommige boonop as die beste literêre werk van alle tye beskou word. Dié klassieke werk bied die ideale kontras-agtergrond vir ’n betoog teen ons hedendaagse samelewing en veral sy gemors-kultuur. Hedendaagse kultuurpessimiste wonder immers dikwels of ons beskawing die afgelope vier eeue hoegenaamd vooruitgang beleef het. Het ons sukses nie ons grootse vyand geword nie? Word ons totale ondergang nie versnel deur die vlieënde vaart waarmee tegnologie ontwikkel nie?

‘Don Quixote’ bied die ideale boustene om die absurditeite van die moderne wêreld uit te beeld.

Don Quixote bied ook die ideale boustene om die absurditeite van die moderne wêreld uit te beeld. Soos Cervantes gebruik Rushdie ’n “verdubbeling” van karakters: Cervantes se Alonso Quixano verbeel hom hy is die ridder Don Quixote wat die eenvoudige boer, Sancho Panza, as kneg en medereisiger saamneem. Rushdie se hoofkarakter, “the Author”, wat ook Brother genoem word, skryf spioenasieromans onder die skuilnaam Sam DuChamp. In die verhaal waaraan DuChamp werk (’n onderdeel van Rushdie se roman) is sy hoofkarakter, Quichotte, eintlik sy eie dubbelganger wat op ’n sending (’n quest) is, vergesel van sy denkbeeldige seun, wat net soos in die klassieke roman ook Sancho heet.

Maar eintlik is Rushdie se Quichotte die voormalige handelsreisiger Ismail Smile.

Cervantes se Don Quixote trek op die rug van sy perd deur die Spaanse platteland, strydend teen allerhande soorte onreg, met die einddoel om die guns te wen van die wonderskone Dulcinea. In sy Chevvy Cruze is Rushdie se Quichotte op ’n langpadreis deur die platteland van Trump se Amerika met as einddoel die verowering van die wonderskone Salma R, ’n bipolêre aktrise wat Bollywood vir Hollywood verruil het en nou ’n kletsprogram-superster op TV en ’n kulturele beïnvloeder van formaat is.

Rushdie se ironiese gebruik van dubbelname en dubbelkarakters beeld ons hedendaagse obsessies met avatars en identiteitverskuiwings uit. Ook lewer dit kommentaar oor die afwesigheid van outentisiteit. Die verhale van Quichotte/Smile en “the Author”/Sam/Brother roep die vraag op wie se relaas nou eintlik die egte een is.

Die verhaal spring heen en weer tussen die verskillende lagwekkend oordrewe karakters en hul ewe snaakse alter ego’s in ’n labirint van verhaallyne waarin ook ander karakters hulle opwagting maak. Daar is byvoorbeeld Dr RK Smile (Quichotte/Smile se neef), wat ’n fortuin gemaak het met die vervaardiging en onwettige verspreiding van verdowingsmiddels, en die miljardêr-toekomskundige Evel Cent, wat obsessief besig is om ’n soort portaal te skep wat toegang sal bied tot ’n parallelle wêreld wanneer die aarde binnekort in ’n onafwendbare apokalips ten onder sal gaan. Ons lewe in ’n tydperk waarin álles moontlik is, word die leser voortdurend herinner.

Aansluitend by sy kritiek op die gebrek aan outentisiteit, laat Rushdie die leser aan die hand van “the Author” ook besef hoe vaag die grens tussen kuns en die lewe geword het, hoe ons nie meer die werklikheid van illusie kan onderskei nie, hoe alles in ’n wasige onsekerheid vervaag het. Ten slotte kom die verlies aan samehorigheid, verbintenis en gemeenskap met onsself, ons familie, ons medemens, ons waardes en norme, ons geskiedenis, kortom, met ons totale menswees, aan die orde.

Rushdie, wat in Mumbai gebore is maar op ’n jong ouderdom na Brittanje verhuis het en die afgelope 20 jaar in New York woon, verweef dikwels in sy werk die ervarings van immigrante. In Quichotte verbind hy op besonder geslaagde wyse die kwessie van muterende karakters met die vlugtelinge- en migranteproblematiek, met vervreemding en ontheemding, met kwessies van identiteit en wantroue jeens die onbekende. Die pynlike manier waarop Sam en Smile, albei van Indies-Amerikaanse herkoms, te make kry met vooroordele en soms selfs rassistiese geweld, kry ’n baie spesifieke plek in die roman.

Soos die onlangse werk van die Franse skrywer Houellebecq en die Nederlander Ilja Pfeijffer is Quichotte met al sy absurditeit ook vlymskerp in sy kritiek. Maar Rushdie het ’n unieke styl en strategie wat tussen twee pole balanseer: Aan die een kant ’n verfynde, subtiele satire, aan die ander kant ’n oorverdowende, spektakulêre vuurwerkvertoning waarin ’n bombastiese verteltrant gebruik word om die skreeuende, afstompende en vlugtige gemors-kultuur van ons tyd na te boots, ’n kultuur wat geen ruimte laat vir nadenke of verinnerliking nie, ’n kultuur en mensdom wat nie tot enige blywende vorm van medemenslikheid in staat is nie.

  • Rushdie het die Bookerprys in 1981 gewen met sy roman Midnight’s Children en die kortlys ook in 1983, 1988 en 1995 gehaal.
  • Annemarié van Niekerk, ’n letterkundige en boekresensent vir die Nederlandse koerant Trouw, woon in Den Haag. Haar en Pieta van Beek se oorsigwerk My Mother’s Mother’s Mother: South African Women’s Writing from 17th Century Dutch to Contemporary Afrikaans het onlangs in Nederland verskyn en is plaaslik by Protea-boekwinkels te koop.
Meer oor:  Salman Rushdie  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.