Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Fargo’ van die Overberg met Japanse kinkel

Kortverhale

Let It Fall Where It Will

Lester Walbrugh

KARAVAN PRESS, R280

Kortverhaalliefhebbers soos die uwe het in 2020 veel gehad om oor opgewonde te raak: die kortverhaalkuns in Afrikaans het onderhoudende en stilisties bedrewe bydraes soos Madré Marais se Luistervink, Emile Joubert se So byna blou, Schalk Schoombie se Die nag ruik na spoed en Brian Fredericks se As die Cape Flats kon praat welkom geheet.

Hoewel dit in Engels uitgegee word, is Lester Walbrugh se beleë debuut, ’n kortverhaalbundel wat 15 stories byeenbring, een wat in vele opsigte ’n gepaste gespreksgenoot is vir Fredericks se debuut.

Waar Fredericks hom in sy nege stories toespits op die klipharde lewe op die Kaapse Vlakte, setel Walbrugh sy taamlik wyd uiteenlopende verhale in die breër Overberg-gemeenskap en in Japan, twee ruim-tes wat veelkantig in die bundel belig word.

Tussen verhale 1 en 15 is daar verskeie stories wat die oog vang, die hart vinniger laat klop en met ruwe krag jou wind uitslaan.

Walbrugh ondersoek die subjektiwiteit, die binnelewe, van sy karakters – in vele opsigte geknou deur die lewe, deur die lang skaduwee van apartheid en armoede, deur misdaad veral, en ook deur die dood – deur lense wat wissel van die eerstepersoon en ’n ruimskootse intimiteit tot die verwyderde blik van ’n derdepersoons- of alsiende verteller.

Elke leser bring sy eie smaak en literêre voorkeure na ’n teks, veral een so dikwels onvoorspelbaar, diggeweef, emosioneel gelade en meestal baie treffend soos Let It Fall Where It Will, maar ek vermoed dat veral lesers met ’n voorliefde vir ’n meer avontuurlustige benadering tot letterkunde hierdie verhale sal geniet. Walbrugh het beslis die nodige vaardighede geslyp wat betref oortuigende literêre realisme en digte atmosfeer. Hy kry dit oor die algemeen baie goed reg om die regte karakters ’n stem te gee en die mees gepaste elemente van ’n storie te belig.

Wie is Terence, en sy geliefde, en hoekom haas hy hom met ’n dooie liggaam na die Arniston Spa?

Een van die bundel se heel beste verhale, die openingsverhaal “The Space(s) Between Us”, verklap sommer dadelik in die inleidende paragraaf dat Terence se geliefde gesterf het. Wie is Terence, en sy geliefde, en hoekom haas hy hom met ’n dooie liggaam na die Arniston Spa, ’n gans ander wêreld vir mense van kleur as die een waaraan hy gewoond is? Wys en vertel kombineer om ’n onvergeetlike verhaal van verlies en trauma te vertel, met ’n slot wat weergalm en prosa wat sekuur en stilweg boei.

In teenstelling met hierdie kragtoer in die kleine is die slotverhaal, waaraan die titel ontleen is, een wat te swaar dra aan mooiskrywery, voorspelbare beelding en ietwat ongeloofwaardige wendings, selfs vir hierdie bundel – waar die onwaarskynlike deel van die alledaagse realiteit is. Die verhaal is ook een van dié wat in Japan afspeel – ek het veel meer van die aweregse, selfs vreemde dog innemende ander Japan-gebaseerde verhale soos “Mouse Man” en “The Girl with the Red Shoes” gehou.

Tussen verhale 1 en 15 is daar verskeie stories wat die oog vang, die hart vinniger laat klop en met ruwe krag jou wind uitslaan. Die magiese realisme (onderspeel en mooi subtiel) van “For Better or Wors” en die rondomtalierit van die senutergende dog met reg meer uitgesponne “Tom and Flo Go to the Races” is die soort verhale wat die lofsange van die skrywer Zoë Wicomb op die agterplat regverdig.

Let It Fall Where It Will, ’n bundel wat smeek om ’n tweede en derde lees, voel soos ’n Fargo-van-die-Overberg met ’n internasionale twist. Klink dit nie opwindend nie?

Jonathan Amid is ’n vryskutresensent van Stellenbosch.

Meer oor:  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.