Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fees vir Afrikaans in Amsterdam gehou
Antjie Krog

Die vierde Festival voor het Afrikaans word op 22 en 23 September in die Vlaams Cultuurhuis de Brakke Grond in Amsterdam aangebied. Die fees laat die kollig val op kuns en kultuur in Afrikaans.

Die eerste opvoering van ’n Nederlands-Afrikaanse teaterproduksie, Krotoa: Eva van die Kaap, gaan by die geleentheid te sien wees. Dit handel oor Krotoa (1643-1674) wat as tolk in die huis van Jan van Riebeeck gewerk het. Sy was die niggie van die Khoi-stamhoof Autshumao aan die Kaap. Dit word deur Basil Appollis geregisseer.

Vanjaar tree die digter Antjie Krog saam met die rapkunstenaar Churchil Naudé en die skrywer-sanger Jolyn Phillips op.

Die sangers Laurika Rauch en Gert Vlok Nel is op die musiekprogram asook die musiekkollektief Die Wasgoedlyn onder aanvoering Riku Lätti.

Laurika Rauch

Sandra Prinsloo voer haar feestreffer Moedertaal op, ’n solostuk oor verlies en oudword. Die veteraanaktrise neem ook deel aan ’n praatjie oor meertaligheid.

Zelda la Grange, skrywer en persoonlike assistent van Nelson Mandela, lewer ook ’n praatjie.

Die Taalunie bied die Sondag ’n gesprek oor meertaligheid aan wat gemodereer word deur Magriet van der Waal, hoogleraar in Suid-Afrikaanse letterkunde aan die Universiteit Amsterdam. Deelnemers aan die gesprek is onder andere die taalkundige Jan ten Thije van die Universiteit Utrecht, Ellen-Rose Kambel, direkteur van die Rutu-stigting, wat meertaligheid en interkulturele onderwys bevorder, Prinsloo, Appollis, Philips en die rolprentmaker Anina Peens. Peens se dokumentêr Fonteine in die Dorsland handel oor swart Afrikaanssprekendes.

Churchil Naudé tree op by die Festival voor het Afrikaans in Amsterdam later vandeesweek.

Die kunskenner Wilhelm van Rensburg gee ’n gratis praatjie oor Afrikaanse skilderkuns waarin hy bestek neem van die afgelope 100 jaar. Voor die geleentheid kan besoekers aan die fees ook kunswerke wat hulle besit, voorlê – voorkeur word gegee aan werke met sterk Nederlandse wortels soos Anton van Wouw, Pieter Wenning, Frans Oerder en J.H. Pierneef. Werke van kunstenaars wat in Amsterdam woon soos Marlene Dumas en Moshekwa Langa is ook welkom.

Twee rolprente draai op die fees: Ellen: Die storie van Ellen Pakkies van Daryne Joshua en Simon Barnard se Die rebellie van Lafras Verwey.

Tradisionele kerriegeregte sal op die spyskaart wees en Sondag word ’n braai aangebied.

Besoek festivalvoorafrikaan.nl vir meer inligting asook die aanskaf van kaartjies. Festival voor het Afrikaans is ’n projek van Zuid-Afrikahuis in samewerking met onder meer Naspers, die Van Ewijck-stigting, Dagbreek Trust en Het Jan Marais Nationale Fonds.

Meer oor:  Antjie Krog  |  Laurika Rauch  |  Amsterdam  |  Nederland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.