Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Feite oor SA – uit die perd se bek!

Is daar ’n beter manier om meer van Suid-Afrika se geskiedenis te leer as om die feite uit die perd se bek te hoor?

Dit is presies hoe dr. Juliette Whelpton, kinderboekskrywer, geskiedkundige feite van die Anglo­-Boereoorlog aan haar lesers deurgee.

Whelpton het in 2013 die verhaal Fleur as deel van haar Helde met hoewe-reeks gepubliseer.

Dr. Juliette Whelpton op Onze Rust net buite Bloemfontein voor ’n foto van genl. Christiaan de Wet. Onze Rust is die plaas van oud­pres. M.T. Steyn, voormalige presi­dent van die Oranje-Vrystaat.

Dit was die eerste van drie historiese avontuurverhale wat uit die bekke van die perde van genls. Christiaan de Wet, Koos de la Rey en Louis Botha vertel word.

Die boeke getiteld Fleur, Bokkieen Dapper is geskik vir lesers nege jaar en ouer.

Whelpton sê die eerste drie boeke in die Helde met hoewe-reeks is opgedra aan die 500 000 perde, donkies en muile wat in die oorlog die hoogste prys moes betaal.

Bokkie, oor De la Rey se merrie, en Dapper, oor Botha se boerperd, het later verskyn.

“Al die stories word uit die perde se bekke vertel en is geskiedkundig korrek.

“Ek het gaan kers opsteek by professore Frans­johan Pretorius en Jackey Grobler, twee gerespekteerde geskiedkundiges, om seker te maak dat die inligting korrek is.

“Die doel is om die geskiedenis soos uit die perde se oë op ’n objektiewe manier oor te dra. Daar is ook inligtingbrokkies, gedigte en liedere uit daardie tyd by elke storie,” sê Whelpton.

Sy reis nou deur die Vrystaat om navorsing vir die jongste boek in die reeks te doen. Dit handel oor ’n Arabierperd met die naam Maharajah, wat aan die Britse soldaat Jack Seely behoort het.

“Dié man was deel van die Imperial­ Yeomanry-regiment en het ’n merkwaardige geskiedenis.

“Hy was nie net groot vriende met Winston Churchill nie, maar het ook gereeld tee gedrink saam met koningin Victoria, wie se woning, Osborne House, ook op die Ilse of Wight in Brittanje was.

“Jack was ook die man wat in bevel was toe die dapper 11-jarige seuntjie Japie Greyling voor ’n vuurpeloton gedreig is om te vertel waar sy pa was.

“Jack en Maharajah het meestal in die Vrystaat in onder meer Vrede, Senekal en Bethlehem galop,” sê Whelpton.

Dit is in dieselfde gebied waar De Wet en Fleur ook ’n groot vlieg in die Britte se salf was.

Whelpton woon om die beurt in Pretoria en Philippolis en put baie van haar inspirasie uit Philippolis se ryk geskiedenis en hartlike mense.

Sy sê haar besondere belangstelling in die Anglo-Boereoorlog is geprikkel nadat sy ’n boeke-aand in Pretoria bygewoon het waar ’n swart-en-wit rolprent oor De Wet se rol in die oorlog vertoon is.

Sy sê dit was Fleur wat haar laat regop sit het.

“Dié ruiter en perd was onder die Britse soldate bekend as skimme, want hulle het so vinnig as wat hulle verskyn het, weer verdwyn. Sommige het verstom opgemerk dat die man en sy perd gelyktydig op drie plekke was.

“Beweeglikheid was aan die orde van die dag en dit was dan ook die begin van die sogenaamde guerrilla-oorlogvoering. Ek wou meer weet!”

Meer oor:  Feite  |  Boek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.