Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Finuala Dowling: gedigte skryf is soms "out of body experience"

Die bekroonde digter Finuala Dowling ervaar soms ’n “out of body experience” vir ’n paar sekondes lank wanneer sy gedigte skryf.

Keur uit haar gedigte
Finuala Dowling Foto: Retha Ferguson

Dit is ook die geval met sommige van die gedigte in Pretend You Don’t Know Me, ’n keur uit haar vorige vier digbundels sowel as nuwe verse, wat onlangs deur Kwêla uitgereik is.

“En ’n paar oomblikke later is daar ’n gedig en jy weet nie hoe dit gebeur het nie, en soms neem dit aansienlik langer, maar dit is ’n reis van my na die leser,” sê Dowling.

Die bloemlesing is aanvanklik deur die Britse uitgewer Bloodaxe Books Ltd in 2018 uitgereik, maar sommige van die nuwe gedigte is vir die Kwêla-uitgawe verwerk.

Finuala Dowling se debuutbundel, I Flying, is in 2002 uitgereik. Foto: Retha Ferguson

“Ek hou daarvan om uit my vorige gedigte te kon kies. Dis lekker om die beter werk in een groep saam te sien. In my tweede bundel was daar ’n paar swakker gedigte. En my grootste probleem is dikwels die lengte van ’n vers. Ek is ’n aanhanger van die korter vers. So dit is dikwels my grootste aanpassing.”

Pretend You Don’t Know Me deur Finuala Dowling.

Dowling is al die Jane Austen van Suid-Afrika genoem en die digter en letterkundige prof. Joan Hambidge beskryf haar as een van die belangrikste stemme in die Suid-Afrikaanse digkuns.

Dowling het in 2002 met I Flying gedebuteer waarvoor sy die Ingrid Jonker-debuutprys gewen het.

Vir haar bundel Notes from the Dementia Ward het sy die Olive Schreiner-prys losgeslaan.

Dié bundel het gespruit uit haar ma, die voormalige radiopersoonlikheid Eve van der Byl, se stryd met demensie.

“Ek het al ontdek wanneer jy jou mees persoonlike gedigte skryf, word jy universeel,” sê Dowling. Sy is die sewende kind uit Van der Byl se huwelik met die oud-uitsaaier Paddy Dowling.

Noudat die bloemlesing verskyn het, is sy reeds spyt oor sommige gedigte wat uitgelaat is.

Mense het haar gevra oor die gedig “Straight Men of Cape Town” en die skrywer Christopher Hope wou weet waar is die gedig “To My Fellow Writers”.

Nuwe bloemlesing
’n Keur uit Finuala Dowling se gedigte is onlangs as Pretend You Don’t Know Me uitgereik. Foto: Retha Ferguson

“Dis eintlik wonderlik dat die gedigte so ’n lang lewe het en dat mense so lank agterna steeds daaroor praat. Ek is nog nie seker wat ek met die nuwe gedigte (later) sal doen nie. ’n Mens hoop maar dat ’n mens lank genoeg sal lewe om dalk (eendag) ’n tweede bloemlesing te kan uitreik. Ek voel baie sterk daaroor dat ’n mens nie net ’n bundel uitreik omdat jy genoeg verse het nie. Ek het altyd min of meer ’n tema in gedagte. ’n Bundel moet as ’n geheel iets beteken. Ek skryf gereeld tragikomiese en ironiese verse. Ek hou my werk toeganklik.”

Dowling is ook die skrywer van romans soos What Poets Need en Homemaking for the Down-at-Heart, wat die M-Net-fiksieprys gewen het.

Dowling is baie meer gedissiplineerd wanneer sy prosa skryf.

“Ek vind die skryf van poësie makliker as prosa. Poësie is makliker omdat dit vryer is. Jy verwag nie geld of publikasie nie. Ek dwing dit nie af nie. Poësie se verhouding tot die letterkunde het baie meer krag as wat ’n mens besef.”

Dowling doseer ook kreatiewe skryfkuns en sy is ’n senior dosent aan die Universiteit van Kaapstad (UK) se Sentrum vir buitemuurse studie.

“Ek hou nogal van ’n stem in die letterkunde, om ’n nuwe te ontdek en te voed, maar ook getrou aan my eie te bly.”* Pretend You Don’t Know Me kos R250. * Dowling se romans What Poets Need en Homemaking for the Down-at-Heart word vanjaar uitgereik.

Haar nuwe roman Okay Okay Okay word in Oktober uitgereik.

Meer oor:  Joan Hambidge  |  Universiteit Van Kaapstad (Uk)  |  Poësie  |  Boeke  |  Skrywers  |  Digters
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.