Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Flitsmomente van die lewe

Johann Lodewyk Marais is ’n fyn gebruiker van die oorwoë woord en die gedigte in sy 11de digbundel, ‘Ondertussen’, dra die tekens van ’n volwasse en beleë digter- skap, skryf Hein Viljoen.

Ondertussendeur Johann Lodewyk Marais. Uitgewer: Naledi. Prys: R240.

Die soekenjin encyclo.nl vir Nederlandse begrippe lewer nogal ’n elegante definisie vir “ondertussen” op, naamlik “terwyl die tyd aangaan en daar ander dinge ook gebeur”. ’n Voorbeeld: “Ek sit verdiep in die bundel en ondertussen brand die aartappels aan.”

Die WAT omskryf dit as ’n effens verhewe vorm van “intussen”. Die titel kan dus suggereer dat die gedigte sulke oomblikke van konsentrasie of verstrooiing uitmaak terwyl die lewe in sy volheid aangaan. Flitsmomente.

Johann Lodewyk Marais is ’n fyn gebruiker van die oorwoë woord en is veral bekend vir sy belangstelling in diere, die omgewing en groen poësie. Hy het byvoorbeeld die bloemlesing Groen: Gedigte oor die omgewing (1990) saamgestel. Van sy ander bundels soos Aves (2002) en Insektarium en ander gedigte (2018) getuig ook hiervan. Ondertussen is sy 11de bundel en dra die tekens van ’n volwasse en beleë digterskap.

Die bundel is verdeel in sewe afdelings wat ’n geografiese ordening toon. Die eerste afdeling kan as ’n soort manifes gelees word. In hierdie drie verse is die digter aan die besin oor vrywees en ontsluit die peiling van die man agter die gedig, maar ook met weerspieëling en herhaling. In “Mate” word die digter noukeurig (en nogal in duime) gemeet deur ’n kleremaker. Dit laat hom wonder of hy soos ’n insek of dier presies gemeet word voordat hy in ’n houtkas uitgestal word en só spesiestatus kry.

Hoewel die digter nie baie dikwels daaroor kommentaar lewer nie, is noukeurige waarneming die basis van sy poësie: Die wêreld word in sy werk weergegee soos in ’n goeie spieël, maar versag met herinnering en bespiegeling oor wat die gesketste beeld vandag sou kon beteken.

Die verse is skrynend oor menslike pyn en lyding.

Die jeugherinneringe en treurdigte oor gestorwe geliefdes en kennisse uit Harrismith se wêreld in afdeling II toon hierdie proses aan die werk. In “Kunsklas” (bl. 16) gee die spreker byvoorbeeld heelwat besonderhede oor juffrou Spokie wat die vensters “wyd oopgemaak” het en die lig in meer as een sin van die woord vir haar leerlinge laat inkom het. Die gedig sluit met verwondering oor wat van die juffrou geword het en die effek wat sy in die herinnering steeds op hulle het, omdat sy die groot wêreld van Maggie Laubser, Rembrandt en “ 'n kunstenaar wat marlyn gevang het” vir hulle oopgemaak het.

Afdeling III fokus op ’n groot verskeidenheid plekke, mense, geweld en bloed in Afrika, vanaf Homo naledi by Sterkfontein, oor Bangui in die Sentraal-Afrikaanse Republiek, Namibië en Kartoem tot by Garissa in Kenia. Laasgenoemde, oor die terroristeaanval op die Garissa-Universiteitskollege op 2 April 2015, illustreer die digter se werkswyse.

Hy laat val die klem nie op die sensasionele gebeure nie, maar skets met realistiese detail die afskuwelike gevolge van die aanval: “bloed [vloei] in die gange”, “pen en papier [lê] stukkend getrap”, “die enkele skoen, sandale, en aan die doringdraad om die slagveld stukkies vleis, hare en repe klere”. Die gedig begin en eindig met “[s]tadig loop die Tana se bruin water”, ondanks die slagting. Die natuur se onverstoorbare voortgang word geëggo in die herhaling van die aa-klank.

Plantpoësie

Die ekodigter Johann Lodewyk Marais sit sy tematiese fokus op fasette van die Suid-Afrikaanse en Afrikalandskap voort in sy 12de digbundel, Veldboek, wat einde 2020 by Imprimatur verskyn het.

Die uitgewer skryf in ’n persverklaring in die nege afdelings van die bundel val die klem op ’n verkenning van verskillende soorte plante in verskillende kontekste.

“Die leser moet egter nie ’n soort poëtiese veldgids verwag nie: Soos in vorige bundels is die gedigte nie blote beskrywings van spesies nie, maar word die waarneming, identifisering, optekening en besinning oor plante geanker in die herinneringe van die skrywer, reise, ook te voet, deur verskillende landskappe, persoonlikhede, boeke, kunswerke en objekte soos lampstaanders en bote uit hout gekerf.

“Hierdeur word voortdurend verbande tussen die plantsoorte en die menslike bestaan gelê.”

Lees Joan Hambidge se mening oor die bundel op haar blog, www.joanhambidge.blogspot.com, of besoek www.imprimatur.co.za om die bundel te bestel.

* Uitgewer: Imprimatur. Prys: R160.

In afdeling IV is daar ses gedigte oor plekke en mense uit Europa. Lissabon is sy punt van aankoms uit “die droewe kontinent”. Die waarneming van die kamer in Amsterdam en van Vincent van Gogh aan die werk word gefiltreer deur die oë van kunsskilders – dié van die Amerikaanse skilder R.B. Kitaj en Francis Bacon. In Anne Frank se Achterhuis besef die digter “weer hoe helder suggestie spreek” (bl. 51) – ook ’n belangrike element van sy werk.

Die enkele gedig in afdeling V bespiegel oor Covid-19 en virusse as oervorme van lewe. Daarop volg in afdeling V ’n reeks liefdesverse gebou rondom ’n sentrale vloeistofbeeld – tee, water, wyn, die see. Afdeling VII is hoofsaaklik treurverse oor en aan bekendes soos Louis Eksteen en Elsa Joubert.

In die laaste twee afdelings is daar twee belangrike gedigte oor weerspieëling. “Seekosbord” (bl. 63) stel die afstand tussen die beskrywing van die seekosbord en die werklikheid van die lewende kreef agter glas aan die orde. “Representasie” (bl. 68), opgedra aan Betsie van der Westhuizen, bespiegel oor die waarde van fotografie en die vasvang van die oomblik ter wille van die herinnering – presies wat die digter se realistiese weerspieëling ook doen.

Die verse in die bundel is onderbeklemtoon, selde verse van die groot gebaar, maar tog wrang en skrynend oor menslike pyn en lyding. In “Bonjour tris­tesse” (bl. 71), waarmee die Franse die koms van die herfs begroet, maak die digter “ ’n nugter slotsom” oor sy werk en sy reise. Sy reise is “oorskryf”, sy gedigte “kanker voort”, sy drome is opgeskeur en hy voer Pegasus, simbool van reis en digterlike inspirasie, giftige sampioene. Gelukkig is die selftwyfel eerder ’n digterlike gebaar as 'n werklikheid.

  • Besoek www.naledi.online of kontak Tertia Swart by 078 648 8616 of tertiaswart@naledi.online om die boek per koerier te bestel.
  • Hein Viljoen is ’n buitengewone professor by die eenheid tale en literatuur in die Suid-Afrikaanse konteks aan die Noordwes-Universiteit.

Meer oor:  Gedigte  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.