Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Flou dialoog pla erg

Leon van Nierop se jongste sielkundige riller, ‘Bloedsuier’, hou veel belofte in, maar die onnodige vergelykings en veral die dialoog het nie vir Marian van Wyk oortuig nie.

Bloedsuier deur Leon van Nierop. Uitgewer: Penguin. Prys: R230.

Die voorblad en titel van Leon van Nierop se jongste boek is ewe donker en gepas vir ’n sielkundige riller wat in die karakters se koppe ronddelf – iets waaroor Van Nierop goeie navorsing gedoen het.

Die hoofkarakters, Lukas Beukman en Maryke Lindeque, is Johannesburgse hipnoterapeute wat heimlik op mekaar verlief is. Terwyl die seksuele spanning opbou, beweeg ’n anonieme derde karakter met ’n kop vol haat en wraakgedagtes ál nader aan Maryke.

Sy en Lukas spartel so hard met spoke uit hul verlede dat hul romanse net nie vlamvat nie. Lukas het ’n eksvrou wat met sy kop mors, en Maryke dra swaar aan onderdrukte traumatiese herinneringe uit haar matriekjaar wat dreig om na die oppervlak te kom.

’n Leitmotief van poinsettiablare “rooi soos bloed” en die vraag of daar ’n verband kan wees tussen Maryke se traumatiese voorval en die wraaksugtige teisteraar, is van die gereedskap wat Van Nie­rop gebruik om spanning te skep en dit hou ook die belofte in van ’n goeie spanningsriller.

Nuut op die rak
Rodney Trudgeon’s Concert Notes: A Selection of Favourite Orchestral Masterpieces is die ideale geskenk vir almal wat gaande is oor klassieke musiek.
Hierin gebruik dié radioveteraan sy aantekeninge vir programnotas en voorkonsertpraatjies om byna 250 gewilde klassieke concerto’s, ouvertures, simfonieë en veel meer deur altesame 51 komponiste te bespreek. Trudgeon se helder, evokatiewe teks, wat werke van die Baroktydperk tot die 20ste eeu dek, is inderdaad so tydloos soos die musiek self. Uitgewer: Jonathan Ball. Prys: R250.
*Die redakteur en radioaanbieder Paul Wise lei die gesprek met Trudgeon by die bekendstelling Maandagaand (17:30 vir 18:00) in die Kunstekaap-operakroeg in Kaapstad. RSVP: jmk@jonathanball.co.za of 021 469 8942.

Die seksuele spanning sou ’n vermaaklike, ligte teenpool kon wees vir die bedreiging wat al hoe nader kruip, maar val deur die krake van ’n magdom onnodige vergelykings, soos “oë wat soos koel lakens oor jou vel trek” (bl. 115) of “die atmosfeer hang soos nat beskuit in die vertrek” (bl. 188).

Nog ’n probleem is onoortuigende dialoog vir karakters van min of meer 24 en 30 jaar oud. Lukas noem vir Maryke “Ounooi” en druk sy emosies uit met sêgoed soos “Hy kry ’n warm gevoel om sy hart. Dit pomp vla, sou sy ma gesê het” (bl. 176).

En wat sou ’n romantiese verhaal sonder ’n kinderagtige argument wees . . . Maryke “vee vir Lukas uit soos ’n fout op ’n vorm” (bl. 197) en reis na Amsterdam. Sy ontmoet op die eerste dag sowaar ’n nuwe romantiese held en Van Nierop bou voort op die spanning deur opnuut vrae te skep oor Maryke se veiligheid.

Dis jammer dat die dialoog hier nuwe naarmaak-laagtepunte bereik: “Marnitz en Maryke. Mar. Mar. Mar. Lekker ritme, nuwe treffer” (bl. 206).

En later: “Gaan jy eers jou instrument gebruik om my nader te lok?” (bl. 266).

Die ontknoping gebeur vinnig in een onrealistiese toneel waarin die vrae oor die verlede ewe onrealisties beantwoord word. Maar kom Lukas en Maryke darem weer by mekaar uit? Lees self, as jy nog wonder. Of omgee.

  • Marian van Wyk is kreatiewe redakteur van die tydskrif Tuis en ’n ywerige speur- en spanningsverhaalleser.
Meer oor:  Leon Van Nierop  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.