Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Foto’s van Eben Venter in VSA uitgestal
Eben Venter
Eben Venter Foto: Stephen Fourie

’n Versameling van 49 foto’s deur die skrywer Eben Venter word in April by twee universiteite in Amerika uitgestal.

Dit was ook die afgelope drie dae deel van die konferensie Queer Visualities, wat die Noordwes-Universiteit, sy alma mater, in Potchefstroom aangebied het.

Elke foto word ook vergesel van ’n teks uit Venter se erotiese roman Green as the Sky is Blue, wat Penguin in 2018 uitgegee het.

Sy foto’s, wat hy ook as ’n verlenging van sy roman beskou, word in April by die New York-universiteit asook die Johns Hopkins-universiteit in Baltimore, Maryland, aangebied.

“Ek is tans besig met my doktorsgraad aan die Universiteit van Queensland (Australië, waar hy sedert 1986 woon). Om een keer ’n konferensie in die buiteland by te woon of selfs om iets te gaan aanbied, is deel van die geleenthede wat hulle vir hul doktorsgraadstudente beskikbaar stel.”

Venter het op die konferensie in Potchefstroom ook ’n deel uit die eerste hoofstuk van Green as the Sky is Blue voorgelees.

“Ek het oor jare hierdie argief van foto’s opgebou,” sê Venter.

Eben Venter
Burgersdorp, Oos-Kaap, Suid-Afrika Foto: Eben Venter
Eben Venter
Casino, NSW, Australië Foto: Eben Venter
Eben Venter
Fraser Island, Australië Foto: Eben Venter
Eben Venter
Lismore, Australië Foto: Eben Venter
Eben Venter
Lismore, NSW, Australië Foto: Eben Venter

“Dit was vir my deel van my dokumentasie van Green as the Sky is Blue. Baie van die temas in die roman is ook toepaslik op hierdie soort konferensies wat ’n visuele dimensie daaraan verleen.

“Die verwysing tussen die teks en die foto is soort van sydelings. Die kyker moet eintlik voor die foto staan en sy of haar eie storie konstrueer. Om sin te maak van die foto met die teks. Die teks is nie ’n onmiddellike of regstreekse verwysing na of verduideliking van die foto nie.”

Volgens Venter doen baie skrywers deesdae iets soortgelyks. Hy gee ’n voorbeeld van ’n boek wat deur ’n musieklys op Spotify vergesel word.

“Sosiale media vereis dit amper. Dit gryp skrywers nou aan, om hul werk na buite uit te kry.

Green as the Sky is Blue deur Eben Venter.

Ek dink my boeke was nog altyd baie visueel en kinomaties. Dis vir my ’n natuurlike stap om hierdie soort ding aan te bied.”

Tot ’n paar jaar gelede het Venter hoofsaaklik op sy notaboeke staatgemaak met die skep van stories. Hy het egter baie plekke en gebeure begin dokumenteer met sy kamera.

“Dit het soos ’n reservoir gewerk waaruit ek kon put vir die maat van die 10 hoofstukke in die 10 verskillende plekke. Daar is vir my beslis ’n verwantskap tussen skryf en fotografie. Dis vir my lieflik om dit te kan doen.”

Green as the Sky is Blue het in 2017 in Afrikaans as Groen soos die hemel daarbo (Tafelberg) verskyn. Hy het die boek aanvanklik in Engels geskryf en toe in Afrikaans vertaal en die Afrikaanse roman eerste gepubliseer. Die Afrikaanse weergawe is met die W.A. Hofmeyr-prys bekroon.

“Die gebruik van die foto op die voorblad is op ’n manier ’n aanduiding van hoe die proses van selfvertaling werk. Hoe jy ’n seleksie van insidente noteer. En dan probeer jy hierdie stileer en dit oordra tot ’n storie. Dit is een vorm van vertaling. Dan het die boek ’n tweede vorm van vertaling deurgegaan – van Engels na Afrikaans. Byna drie omdat die teks ook visueel in ’n foto vasgevat of vertaal word.”

Meer oor:  Eben Venter  |  Potchefstroom  |  Noordwes-Universiteit  |  Fotografie  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.