Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fourie se ‘storiesak as doepa teen die kou’

Die goeie vrou en ander mites

Corlia Fourie

PROTEA, R175

Poësie

In haar verantwoorde, skerp resensie van Corlia Fourie se digbundel sonder Gisela Ullyatt wat sy noem “ ’n gros mankemente” uit, so ek hoef dit nie weer hier te herhaal nie, aangesien ek dit met haar eens is.

Ek stem ook met die volgende opmerking saam: “Omdat Fourie so ’n skerpsinnige joernalis, prosaskrywer en veral dan ’n redakteur is, is dit verbasend dat haar poësie nié van clichés en sentimentaliteit gestroop is nie.”

Noudat dit uit die weg geruim is, gaan ek fokus op die inhoud van die bundel. Die bundel beeld die mites rondom vroue en vrouwees uit in verskillende kulture en een van die sentrale stellings wat deurlopend voorkom, word soos volg in “Mama Afrika” (bl. 26) verwoord: “Slaan haar oë neer / is sy geleer”. Reeds vroeër, in “Agter geslote deure” (bl. 12) wat afspeel in Marrakesj, word ook verwys na die vroue wat hul oë grondwaarts rig en hul monde dig hou.

Die programgedig, “Die goeie vrou”, wat die bundel inlei, sluit hierby aan en skep die konteks vir die res van die gedigte. Die vrou word in sekere posisies ingedwing en sy word geleer om haar man te “behaag, bedien, bederf”, terwyl sy nie haar woede mag laat blyk nie. Die spesifieke vrou besluit dan om haar te verset en uit te breek – nie alle vroue in die bundel is so gelukkig nie. Die titel is ook skreiend ironies. Die kwalifiserende “en ander mites” in die titel bevestig die vrou se kritiek op haar posisie.

Die titel herinner ook aan Brecht se Der gute Mensch von Sezuan wat aanvanklik as Die goeie vrou van Setzuan vertaal is. Van die temas, soos oorlewing in ’n materialistiese wêreld, word in Fourie se gedigte aangesny. Nes Shen Te wil die vrouefigure in die meeste verse ook die goeie nastreef, maar mans (in) en die samelewing maak dit vir hulle onmoontlik. Eweneens, nes by Brecht, word daar met ’n satiriese oog na die wêreld gekyk.

Aan vroue wat hul verset, ontbreek die bundel nie: daar is Frida Kahlo, Cleopatra, Coco Chanel, Medusa, Helen Martins en James Barry, laasgenoemde die vrou wat haar as man vermom het en ’n bekende dokter aan die Kaap was. Tannie Joe, die oujongnooitante, lees en reis en skenk nie aandag aan klein alledaagshede soos knope aanwerk of dinge verloor nie.

Tannie Joe, die oujongnooitante, lees en reis en skenk nie aandag aan klein alledaagshede soos knope aanwerk of dinge verloor nie.

In “As dit nag word” (bl. 10) word gefokus op die lewens van vier skryfsters wat hulself om die lewe gebring het. Die vraag wat aan die einde gestel word, is of die plekke wat met hul dood geassosieer word, “ooit ’n talisman [kan] wees / as dit nag word?”

Die tweede afdeling van die bundel, “Tuis en uit”, word ’n narratief van vertel van die vrou in en om die huis. Die onkundigheid van die jong meisie blyk uit die gedig oor Uys Krige: As jong meisie is popkultuur vir haar van groter nut as “die vreemde ou mannetjie” en sy gedigte.

Soos die titel van die derde afdeling, “Die wye wêreld in”, suggereer, onderneem die vrou ’n reis die vreemde in en word ander plekke verken. Ook haar daaglikse gang oor “die skellige aarde” en haar bewuswees van die oerknal en sy gevolge. Die oumafiguur en haar liefde vir 4711 (Keulse water) vorm ook die grondslag van ’n gedig. Die ouma is ook die skakeling tussen die spreker en die geskiedenis met die Tommies en die Anglo-Boereoorlog.

In die vierde afdeling, “Bloeityd”, word die kinderjare beskryf, maar die dubbelsinnigheid in die titel skakel ook met die gedig “Die pienk viooltjie” waar ’n siek vrou se lewensverhaal vertel word.

As storieverteller en dramaturg het Corlia Fourie vir ons en haar kinders, haar “storiesak as doepa teen die kou” gegee. As digter nie.

  • Marius Crous doseer Afrikaanse letterkunde aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth.
Meer oor:  Boeke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.