Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Foute, foute net waar jy kyk

In die plaaslike produksiekettings wat boeke uitspu, skort daar tans iets ernstigs. Die foute is net te volop, skryf Jean Meiring.

Ses maande terug nog het die naam Leon de Kock by min buite Suid-Afrika se literêre binnekring ’n rimpeling van herkenning veroorsaak. Ná die ongelukkige gebeure waarin hy kort voor die koms van sy biografie oor André P. Brink betrokke was én weens sy kleurryke verskyning op die joernaalprogram Kwêla is sy naam nou algemeen berug.

Maar reeds in die weke voor André P. Brink en die spel van liefde sou verskyn, het De Kock sonder die omdraai van doekies op sy Facebookblad – die moderne ekwivalent van die plaaslyn – laat val dat hy en sy uitgewer, Jonathan Ball-uitgewers, nie meer knus voor dieselfde vuurherd sit nie.

Een van die baie besware wat hy toe uitgesketter het, is dat die redigering van die boek se teks nie op peil was nie. Om sy kritiek te verstaan, verg konteks.

Die inleidingsmodule Uitgewerswese 101 leer ’n mens om te onderskei tussen die sentrale rolspelers in die boekmaakproses.

In die produksiekettings wat plaaslik boeke uitspu, skort daar tans iets ernstigs. Die foute is net te volop.

In Suid-Afrika makeer hulle, maar in New York en Londen waak boekagente soos driekoppige Cerberus-honde voor die poorte van die bedryf. Sonder so ’n agent – blinkbelese en mark­slim – kom die voornemende skrywer nie naby ’n uitgewer nie.

Hier te lande egter het uitgewers betreklike oop en ontvanklike posbusse. Aspirantskrywers knip ’n pasklaarteks aan ’n e-pos vas en druk die versendknoppie.

As die uitgewer instem, neem die produksieproses – soos dié van kaas of van hoender – ’n aanvang. Daar is eerstens die redakteur, die oorkoepelende vroedvrou, wat aan skrywers hul publikasiekontrakte verskaf en van bo af oor die hele produksieproses toesig hou. Sý dien boonop as skakel tussen byvoorbeeld die skrywer en die voorplat- en uitlegkunstenaar en uiteindelik die publisiteitsbeampte. Maar eers stuur sy die ingediende teks na enkele buitekeurders om te lees en ’n mening te gee.

Volgende verskyn die teksversorger op die toneel, wat toesien dat die teks in sy geheel klop. Dié klaar ook spel-, taal- en kontinuïteitsfoute op en verseker dat die boek se linie feite korrek en netjies in gelid is.

Laastens kom die proefleser aan die bod, wat op gespitste voete neffens die rolperse huiwer en die bladproewe suiwer van mindere taalglipse wat nie voorheen opgeklaar is nie of wat nuut ingesluip het. In kleiner uitgewerye dra ’n enkele mens soms meer as een van hierdie hoede.

Skrywers benodig al die hulp wat hulle kan kry. Die buiteoog wat instinkmatig eendjies, duiwe en ander darlings wil nekomdraai.

En deurgaans, terwyl groot skarniere raserig heen en weer knars, moet iedereen die skrywer se onvermydelik brose ego bekussing en deur die proses begelei.

Baie beloerders van De Kock se Facebookblad het hul oë gerol soos hy tóé sy misnoeë in toiletmetafore verwoord het. (’n Mens wonder terloops wat De Kock, ook ’n bekroonde vertaler, daarvan sou maak dat die Engelse uitskei-idioom by uitstek vloei en die Afrikaanse ene eerder stol.)

Die woord “ego” het boonop telepaties in hoeveel koppe geëggo. Kan die man dan nie sy eie boek reg en foutloos skryf nie? Hoekom die vinger na ander toe wys?

Maar die antwoord is natuurlik: Nee, skrywers benodig al die hulp wat hulle kan kry. Die buiteoog wat instinkmatig eendjies, duiwe en ander darlings wil nekomdraai. Tradisioneel is uitgewerye by uitstek op senior letterdienaars – redakteurs, teksversorgers en proeflesers – aangewese om hul jare se blootstelling aan tekste van allerlei aard en hul stipleesvaardighede aan die dag te lê om skrywers teen hulself en hul hebbelikhede te beskerm.

Soos dit die afgelope aantal jare ook in die koerant- en tydskrifbedryf die geval is, blyk dit dat uitgewerye gaandeweg aan juniorisering uitgelewer is – aan teks­redigeerders wat van jeug en entoe­siasme oorloop, maar by wie ’n oorwoë, deurpriemende oog (dalk noodwendigerwys?) ontbreek. Dis als natuurlik te wyte aan boekbeursies wat al hoe kleiner word én waarskynlik ook aan die valse gerusstelling wat rekenaars en elektroniese styladviseurs en proeflees-megefters in die hand werk.

Laasgenoemde dra tot ’n leespraktyk by wat gewoon anders as voorheen is. Nes kinders se nekke deur al die skermstaardery fisiek verander word, kan selfs professionele lesers nie meer die stiptheid van hul voorgangers nadoen nie. Daarom dan dat resensente – die mees vermaledyde burgers van die leesrepubliek – telkens deur onaangebragte corrections gepootjie word.

Die uitgewer HarperCollins moes die eerste 80 000-oplaag van die Amerikaanse skrywer Jonathan Franzen se roman Freedom (2010) verpulp. Die proeflees-, taal- en stylfoute het soos rosyntjies daarin geskitter.

Aan dié front is ek dit daarom met De Kock roerend eens – en Jonathan Ball is allermins die grootste Suid-Afrikaanse sondaar.

In die produksiekettings wat plaaslik boeke uitspu, skort daar tans iets ernstigs. Die foute is net te volop. Dit blyk boonop veral met Afrikaanse nie-fiksie boeke die geval te wees. Dink uitgewers daardie nismark lees voor die voet enigiets?

Ironies genoeg is die moontlike oplossings betreklik eenvoudig.

Elke boek se begroting moet tienduisend ekstra wees sodat vitterige puntenerigheid – pleks van bemarkingstruuks – weer hoogty kan vier.

Óf die resensente moet geskiet word – de laaste irriterende een.

  • Jean Meiring is ’n regsgeleerde en vryskutresensent.
Meer oor:  Leon De Kock
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.