Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fritz Deelman se ‘pa’ oorlede
Leon Rousseau

Kaapstad. – Leon Rousseau, die “pa” van die gewilde jeugreeks, Fritz Deelman, is Woensdagaand ná kort siekte in die ouderdom van 84 oorlede.

Dié gevierde uitgewer en skrywer, Rousseau, was saam met Koos Human ’n stigterslid van Human & Rousseau. Hy was ook ’n voormalige redaksielid van Die Burger. Hy het veral bekend geword vir die gewilde Storieman-reeks wat hy in Afrikaans gepubliseer het, asook die jeugreeks Fritz Deelman, wat hy as jong joernalis in die 1950’s begin skryf het.

Hy het op Jeffreysbaai gewoon.

In ’n onderhoud met Die Burger in 2013 het Rousseau gesê die Storieman-reeks het in 1983 begin toe hy ’n eksemplaar van die Britse Storyteller, gepubliseer deur Marshall Cavendish, in die CNA gesien het.

“Vir die eerste keer was daar stories wat gewissel het van sprokiesverhale deur Grimm en Andersen tot by kontemporêre verhale soos “Timbertwig” wat in ’n bekostigbare volkleurtydskriffie saam met ’n kasset verskyn het.

“Daar was nog nie so iets in Suid-Afrika nie, en ek het baie gou geskryf vir die regte en die beginsel toegepas om minstens een plaaslike storie per uitgawe te hê. Met die eerste oplaag van Storieman Deel 1 het ons 35 000 boekies in Hongkong laat druk. Dit was binne 18 maande uitverkoop.”

Hy het die ongekende sukses van die Storieman-reeks toegeskryf aan “hoë tegnologie”.

“Daar was kassette wat met ’n karton aan die boek vasgeheg was en dit was nogal ’n nuwe ding om te kan sit en luister na ’n storie. Dit was ook ’n nuttige opvoedkundige ding om kinders te help om te leer lees.”

Hy het onder andere ook Die Groot Verlange, ’n biografie van Eugène Marais, geskryf, wat in 1975 die CNA-prys gewen het.

Hy laat sy kinders Pierre, Chris, Louise, Leontine en Marie-Louise, asook agt kleinkinders na.

Meer oor:  Leon Rousseau  |  Oorlede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.