Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Fyn waarneming met houtoog

Die swetterjoel fyn waargeneemde karakters in Debbie Loots se tweede roman, iedereen op soek na vervulling, liefde, bevredi­­ging of geld, herinner Deborah Steinmair aan ’n hedendaagse ‘Friends’ of ‘Fiftysomething’.

Die boek van gelukkige eindes deur Debbie Loots. Uitgewer: Queillerie. Prys: R265.

Debbie Loots se tweede roman is op die oog af heelwat ligter as haar debuut, Split, én lewer ook minder politieke kommentaar, hoewel daar (tussen die reëls) tog heelwat sosiale kommentaar skuil. Dit handel grootliks oor Eerstewêreldprobleme – “wit mense se probleme”, noem een karakter dit op bl. 199, maar besluit dan sy is ook ’n mens wat op haar probleme geregtig is.

Die roman het ’n groot rolverdeling en voel soms soos ’n TV-reeks, soos ’n hedendaagse Friends of Fiftysomething. Soms moet ’n mens eers terugblaai om te onthou deur wie se oë jy nou na die wêreld kyk. Die uitkyke verskil, maar as ’n mens nie ’n goeie geheue vir name het nie, wonder jy wie byvoorbeeld Sigourney nou weer is.

’n “Stamboom” van karakters sou dalk nie onvanpas wees nie.

Die boek van gelukkige eindes speel uit in vier dele: “Die begin”, “Die middel”, “Die einde” en “Ná die einde”.

In eersgenoemde bevind lesers hulle om die beurt in die kop van Willemien, Chris, John, Simone, Priscilla, Connie en Neil. Kyk ons deur Willemien se eie oë na haar, kom sy verdienstelik voor: Sy werk hard en is eintlik in die modebedryf, maar werk ook by ’n slaghuis en restaurant. Sy dra byderwetse uitrustings wat sy van Bangkok af insmokkel vir haar boetiek. Sy het twee buite-egtelike kinders by dieselfde man – hoe kan ’n vrou twéé keer dieselfde fout maak, wonder sy (en ander) – ’n 25-jarige seun en ’n driejarige dogtertjie.

Hierdie klomp karakters is almal op soek na iets: vervulling, liefde, bevrediging, geld. Hulle is lewensmoeg en sinies en almal se asems stink, selfs vir hulleself.

Albei ontmoetings was kortstondig en hy het haar vertel hy woon in Londen, maar dan gewaar sy hom in ’n TV-geselsprogram: Hy is in werklikheid ’n welvarende sielkundige in Kaapstad.

Sy besluit om hom te gaan opsoek en ’n miljoen rand in agterstallige onderhoud van hom te eis aangesien sy by haar ma en stiefpa aan die gatkant van die Witwatersrand woon saam met haar dogtertjie en haar oorgewig volwasse seun wat die buitekamer en garage beset. Die seun is glo ’n IT-nerd en opkomende entrepreneur. Vir die wis en die onwis neem sy haar ma se man, oom Boet, se rewolwer saam Kaap toe en ons weet almal: Waar daar ’n wapen is, gaan dit afgevuur word.

Daarna kuier die leser in Chris se kop. Hy is die spil waarom die hele spul karakters draai: Almal is óf ekse óf vroue óf vriende óf pasiënte van hom. Hy is in sy 50’s, lank en maer met ’n bos hare soos ’n ou surfer. Hy stap nie by ’n spieël verby sonder om te loer nie en glo hy lyk ’n bietjie soos George Clooney. Hy swem vir oefening en gooi sy gras skelm nat tydens die Kaapse waterbeperkings. Hy het die kuns bemeester om te lyk asof hy na mense luister en werklik in hulle belang stel.

Ons sien Willemien ook deur sy oë: Sy is ’n bietjie kommin met styfgepermde hare, effens oorgewig met ’n te stywe bloesie, stone-washed denims en slangvelstewels, en ry ’n ou oranje Cortina.

Chris is geskei van sy eerste vrou, Connie, wat hom verlaat het vir ’n ander vrou, Sam. Hy onderhou sy volwasse dogter, Ramona, en dié se buite-egtelike baba, Pointsettia. Hy het weer getrou met die aanvallige Portugese Bella wat oor geen kriesel intellektuele nuuskierigheid beskik nie – en vir tydverdryf YouTube-video’s kyk. Hulle het ’n dogtertjie.

Chris het ook ’n skelmpie, die lieflike gewese kunsdosent Caitlin wat nou private kunsklasse gee en hogere ambisie koester. Haar ateljee is in dieselfde woonstelblok in Soutrivier as sy wagkamer en sy loer een maal per week tussen die pasiënte-sessies in, geklee in haar kimono.

Chris vertroetel ook fantasieë oor ’n ander pasiënt, Simone, ’n kunstenaar wat as installasiekuns ’n huisie oprig in die motorhuis wat sy met haar man se boot deel. Sy oorweeg dit om daarin te gaan woon.

John is Chris se skoolvriend, ’n afgelegde joernalis-fotograaf met kunstalent en heelwat minder selfvertroue as Chris wanneer dit by vroue kom. Hy is ’n alleenloper en sub halfdag by die Son, maar dinge verander wanneer hy by Caitlin kunsklasse begin neem. Hy is die simpatiekste karakter – begaaf en sonder ego.

Priscilla is ’n ouer vrou met dik, silwer hare wat haarself as Afrikaner-adel beskou. Haar man, Rob, ly aan demensie en sy versorg hom teësinnig tuis, maar leef haar ook uit in jogaklasse en allerlei binnemuurse aktiwiteite.

Connie, Chris se eksvrou, is kompleks en onvergenoeg. Sy begin na penis terugverlang . . . hoe nou gemaak?

Neil is ’n rowwejek, ’n restauranteienaar wat met Jenna, een van sy kelnerinne, getrou het, maar die geweld tussen hulle het handuit geruk en sy het hom verlaat en by ’n vriendin in Boston gaan woon. Op haar aandrang gaan spreek hy ’n sielkundige: Chris. Hy soek na kitsoplossings en reken hy het nie pyne nie.

Hierdie klomp karakters is almal op soek na iets: vervulling, liefde, bevrediging, geld. Hulle is lewensmoeg en sinies en almal se asems stink, selfs vir hulleself.

“Die middel” word vanuit Chris se kop beskryf. Natuurlik verloor hy toenemend sy draai met ekse, bekruipers, minnaresse en pasiënte wat hom verdring. “Dink jy vir almal happy endings uit?” wil sy vrou, Bella, by hom weet.

Al die komplikasies en die einde kan ek nie verklap nie. Al wat ek sal sê, is: Slim vang dikwels sy baas. En vir lesers wat wonder of die titel gestand gedoen word, verwys ek na die aanhaling van Orson Welles aan die begin van die roman: “If you want a happy ending, that depends, of course, on where you stop your story.”

Die twee laaste afdelings, “Die einde” en “Ná die einde”, word weer vanuit verskillende perspektiewe vertel: Sigourney (John se jong geliefde), Dave (Simone se man), Rob (die demensielyer), Sam (Connie se lesbian lover), Jenna (Neil se vervreemde vrou), Bella (Chris se huidige vrou), Caitlin (die sexy kunstenaar) en Mikey (Willemien se werklose seun) kom aan die woord. Die einde is bevredigend en ná die einde is daar nog ’n hele paar kinkels in die stert.

Die boek van gelukkige eindes was die derdepryswenner in NB-Uitgewers se Groot Afrikaanse Romanwedstryd in 2018. Dit bied ’n onthutsende, siniese blik op verhoudings, op middelklasmense in Kaapstad vandag wat hulle besig hou met Pilates, joga, Krav Maga, mindfulness en terapie, wat deur sosiale media leef, effe skuldig die oseane met Nes­presso-pods besoedel en die ouderdom besweer met Botox en meer.

Die ding van Debbie Loots is haar fyn waarneming met ’n houtoog, haar bestekopname sonder kommentaar. John word afgelê by die koerant en as reddingsboei laat die redaksie ’n millenniër kom om vir die gesoute joernaliste ’n aanlyn kursus aan te bied in “skryf vir die internet”. Tydens hierdie sessie wil John met niemand oogkontak maak nie, en (op bl. 56): “Dit het hom laat dink aan toe hy ’n kind was. Toe sy ouers hulle foksterriër, Vlekkie, weggegee het vir ’n tannie met ’n beehive en ’n stywe blou crimplene-rok. Hy onthou sy het hom in ’n ou Datsun kom haal, en hoe Vlekkie ingespring het toe sy die kar se agterdeur oopmaak, so asof hy haar al jare lank ken. Met sy bek oop, sy tongetjie uit en sy borsie al hygende het hy op die sitplek gaan sit en vorentoe bly kyk, so asof sy lewe daarvan afhang. Hy’t John geïgnoreer toe hy hom roep. Selfs toe hy begin huil het, het Vlekkie hom geïgnoreer. Want sy wêreld sou inmekaarstort as hy per ongeluk een van sy mense se oë vang, dié vir wie hy lief was en wat hom verraai het. Vlekkie moes sterk wees. Sy mense was nou die vreemdelinge. Die nuwe tannie sy redder.”

’n Paragraaf soos die slaan my asem weg.

Die boek van gelukkige eindes gaan oor aanpassing, oorlewing, oor hierdie lewe wat geleef moet word en oor dié wat, soos Johannes Kerkorrel gesê het, hul drome oorleef en kry wat hul vra, ja.

Dis bedrieglik lig.

  • Deborah Steinmair is ’n skrywer en taalpraktisyn.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.