Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Gebore innie Swatland’

‘Swatland’ deur Ashwin Arendse is ’n sterk, uitdagende, onsentimentele debuut wat ’n mens opnuut daarvan bewus maak dat poësie nie noodwendig veronderstel  is om te troos nie. Louise Viljoen meen ’n mens vind  hier in Swartlandse Kaaps van die skreiendste gedigte  wat daar waarskynlik tot nog toe in Afrikaans geskryf is.

Ashwin Arendse: ’n Vonkelende poësiedebuut.

Swatland deur Ashwin Arendse. Uitgewer: Kwela. Prys: R225.

Ashwin Arendse se sterk debuutbundel, Swatland, sal vir talle lesers ’n taalopvoeding wees. Nie net word ’n mens blootgestel aan ’n eiesoortige woordeskat met elemente van Kaaps wat in die Swartland sy eie kleur kry nie, maar ook aan die klankrykheid van die Swartlandse bry.

Soms sink die r-klank weg in die keel soos in die bundeltitel; soms gorrel dit soos water daarin. Om hierdie r, wat in die Swartlandse bry ’n g word, in die teks aan te dui met ’n weergawe van die soortgelyke Arabiese ghayn-klank (’n g met ’n kolletjie op), is ’n vonds. Sonder om die oog te steur herinner dit jou daaraan dat jy daar die skraapklank van die bry moet lees en dit neem jou ook stilweg terug na die Arabiese invloed op Afrikaans se ontstaan.

Dat die gebruik van hierdie Swartlandse Kaaps ’n sterk politieke punt maak, val nie te betwyfel nie.

Die bundel is losweg soos ’n verhaal opgebou. Dat stories vir die digter belangrik is, word bevestig wanneer hy op die bedankingsbladsy sê dat hy “stories soos die gan skryf tot my hanne nie mee ’n pen kan vashou nie”. Die gedigte volg breedweg die verloop van die spreker se lewe van klein kind tot hoërskoolseun op Malmesbury en later student wat gradueer aan die Universiteit Stellenbosch sodat dit byna herinner aan ’n grootword-verhaal.

Teen hierdie agtergrond is dit nie vreemd dat bepaalde temas, soos die ontwikkeling van manlikheid, na vore tree nie. Daar is byvoorbeeld gedigte wat handel oor die spreker as “hellrider” op sy perd (“Oldboy” op bl. 48), die jong seuns se eksperimente met drank (“Ytgafel” op bl. 46) en die grootpratery oor seksuele avonture (“Chocolat” op bl. 44). Laasgenoemde gee wel, agterna gesien, ’n aanduiding van die toekoms: “Ôs ammel wiet ôs lieg vi mekaa, / maa asse mens reg lyste / na ’n laitie se kakpgaat kan jy sien / watte mens hy innie toekoms gan wies.”

Die bundel herinner byna aan ’n grootword-verhaal.

Manlikheid kom ook ter sprake in die gedigte se tekening van pa-figure. Hier gaan dit nie net oor die afwesige pa’s nie, maar ook oor liefdevolle pa’s en kwesbare pa’s, soos die een in “Ndodas” (bl. 13) wat by die laerskool se pa-en-seun-aand vertel van sy selfmoordpoging.

Plek is van deurslaggewende belang in die verhaal van wording wat deur hierdie gedigte vertel word. Sommige van die gedigte plaas die aksent op die skep van ’n “sense of place”, soos byvoorbeeld in die gedigte oor die groot rugbydae (“Burgeroorlog”, “Azuu pep”, “Gauls en Romans”). Ander skep weer ’n stemming wat die melancholie van grootword vasvang (“Ytgafel”, “Oldboy”, “Ameerah”).

Daar is veral ook ’n sosiopolitieke konteks. Die dorp én die universiteit waarin dié verhaal hom uitspeel, dra steeds swaar aan die skeiding en ongelykheid afgedwing deur apartheid. Daar is in meerdere gedigte sprake van rassespanning en diskriminasie.

Daar is byvoorbeeld gedigte oor die kinders se lang staptogte van die bruin woonbuurt na die dorpswembad, wat eers net vir wit mense gereserveer was (“Swatland”), die verkleinerende uitsprake van die wit kinders teen wie hulle krieket speel (“Wicked keeper”) en die rasse-insidente tydens die spreker se studentejare (“Dennis the Menace”, “Is altyd lente in Stellenbosch”, “Graduation”).

In sommige van hierdie gedigte word daar ook meedoënloos teruggekyk na die eertydse oorheersers, soos in “Blou gobot”, waarin daar verwys word na die wit boemelaar wat die voorregte van ’n wit vel verspeel het, en “Boerentwinnag”, oor die wit dwelmslaaf Janneman wat dwelms kom soek in die bruin woonbuurt (laasgenoemde eindig met sy bankbesonderhede indien iemand hom wil help; ’n moment waarin medelye en afkeer met mekaar wedywer).

Swatland is ook ’n bundel wat ’n mens opnuut bewus maak dat poësie nie noodwendig veronderstel is om jou te troos nie. Hierdie gedigte huiwer nie om pyn en ellende direk in die gesig te kyk nie sodat ’n mens hier van die skreiendste gedigte vind wat daar waarskynlik tot nog toe in Afrikaans geskryf is. Veral sterk is “WWE”, wat handel oor die stoeigeveg tussen ’n ou man en sy vrou oor hul Sassa-geld (“Ek wou die match stop, maa daa was kla ’n ref / ’n klein meisietjie wat mieste vannie tyd gehyl het,” word daar gesê).

Dit is ’n onsentimentele soort poësie wat tog swaar dra aan gevoel. Daar is die gedig “Graduation” vir sy meisie, Tay, wat hard probeer om nie ’n liefdesgedig te wees nie, maar dit wel word. Daar is ook “ ’n High-five virrie ou tôpie” vir die oupa wat hom liefhet ten spyte van sy foute en “Blackletter”, waarin die spreker sê hy wil eendag die volgende woorde “in italic, inne Blackletter font” op sy grafsteen hê:

Gebore innie Swatland

dood in liefde

onne sy oupa se vlerk

Arendse is ’n digter met ’n skerp sintuig vir woorde (kyk maar net watter betekenisse haal hy alles uit die woord “Swatland” en hoe ironies speel hy met die idee van vryheid in “Liberty Life”).

Hy weet ook hoe om te werk met die narratiewe vorm, in individuele gedigte én die bundel in die geheel. Die sleutel tot ’n storie lê dikwels in ’n onverwagte slot, soos in “liefde angelo”. Dit is slegs enkele van die langer gedigte (“Azuu pep”, “Gauls en Romans”) wat nie die samehang en fokus van die ander het nie.

Daar is ook ’n noukeurige plasing van gedigte binne die groter geheel: “Afsê”, wat gerig is aan ’n ongebore kind (“Ek is lief vi jou, / but daa is dinge wat / nou meer belanggik is. / Ek is sorry maa jou ma gan / jou moet afmaak”), staan byvoorbeeld net voor “Phantom of the Oprah”, waarin die spreker verwys na sy ma, wat haar studie laat vaar het om hom groot te maak.

Swatland is nog een van die uitdagende en vonkelende poësiedebute waarop Afrikaanse lesers in die afgelope jaar of wat getrakteer is. Uit al die streke van die land begin die digterlike stemme nou praat.

  • Louise Viljoen is ’n afgetrede professor in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch.
Meer oor:  Poësie  |  Gedigte  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.