Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gee om gelukkig te wees, ’n kans

Die meeste van ons is keelvol vir die lewe: Jou werk is frustrerend, alles is duur, jou eens blink drome lê begrawe onder stof, die toekoms lyk uitsigloos... Kan nóg ’n selfhelpboek, soos Johannes de Villiers se ‘Blydskap’, ons regtig tot ander insigte bring, wonder Sophia van Taak.

Blydskap: Mindfulness-wenke vir ’n vreugdevolle lewedeur Johannes de Villiers. Uitgewer: Human & Rousseau. Prys: R275.

Ek is mos happy. Goed, nou nie élke dag nie, maar, jy weet – ek’s oukei! Tog is daar soms ’n hunkering, nee, ’n wéte dat iewers ánderkant bloot oukei wees ’n meer langtermyn-lewensvreugde wag. Maar dit voel haas onbereikbaar. Dit is hierdie einste gevoel wat tot Johannes de Villiers se nuutste boek aanleiding gegee het.

Blydskap volg op Kalmte in die malle gejaag: Mindfulness vir besige mense (2018) en handel net soos sy voorganger oor ’n baie relevante tema in ons daaglikse dilemma. Die meeste mense voel wreed ontnugter. Dinge het toe nie uitgespeel soos jy altyd gehoop het nie. En nou? Nou moet ons maar seker net ons jare uitkolf en die beste maak van ’n slegte saak.

Tog doen ons dit nie. Ons ploeter met dieselfde halfwas entoesiasme aan na dieselfde resultate, maar dit hoef nie so te wees nie. Dis die dinge waarmee ons die ure vul, en die woordeskat waarmee ons daaroor praat, wat veroorsaak dat ons voel soos ons voel. Maar as ’n mens dié gewoontes en denkpatrone oor tyd kon aanleer, kan jy mos ook ánder kweek. En dís waaroor hierdie boek gaan.

Ons is verstrengel in ons gedagtes, en ’n mens moenie alles glo wat jy dink nie.

Maar wat presies ís “blydskap”? De Villiers onderskei tussen twee soorte: blydskap van die maag en blydskap van die hart.

Eersgenoemde is al die dinge wat jou lewe gerieflik en lekker maak – jou gesondheid, vriende en dalk ’n beminde wat jou liefhet, genoeg om te eet, ’n veilige huis om in te woon . . . Anders gestel: goeters wat jy kan bekom.

Blydskap van die hart, daarenteen, probeer nie jou omstandighede verander nie, maar koester dit eerder. Dit is om tuis te kom in die ontnugterde lewe wat jy het, sonder om dit weg te wens.

Dis ’n mondvol, maar moenie bekommerd wees nie, want dié boek ontknoop al wat ’n groot gedagte is tot iets wat ’n mens verstaan. Selfs al wil jy nie.

Die Franciskaanse monnik Richard Rohr sê: “We do not think ourselves into new ways of living, we live ourselves into new ways of thinking.” Dis waar – ons is verstrengel in ons gedagtes, en ’n mens moenie alles glo wat jy dink nie.

“Jou gedagtes is soos ’n dronk aap wat op ’n plaat warm kole dans,” skryf De Villiers op bl. 51.

Feite. Het jy al ’n kollega góéd op sy plek gesit – in jou kop? Of laatnag besluit die krapperigheid in jou keel kan sweerlik nét kanker beteken, en hoekom gebeur sulke dinge net met jou en hoekom nóú, en hoekom . . . Oor en oor. Dié boek help om die aap weer nugter te kry en mooi stil eenkant te laat sit. Kortom: Blydskap leer jou hoe om minder in jou kop te leef, weer die wêreld deur jou sintuie te begin oplet en sodoende toenemend meer teenwoordig te raak in jou eie lewe – die grootste bron van blydskap, áltyd tot jou beskikking.

De Villiers het stapels boeke en wetenskaplike studies oor blydskap verslind en ook wyd en syd aan deure gaan klop om met talle mense oor die onderwerp te gesels: Wat het hulle tot op die punt gebring waar hulle nie net hul lot aanvaar het nie maar ook kon besluit hoe hulle dit érvaar? Sy insigte deel dié gesoute oudjoernalis in boeiende vertellings.

Hy het ook jare gelede reeds op ’n persoonlike soektog na ware blydskap vertrek, en elke emosie en gedagte wat hy langs dié pad teëgekom het, as leermeester verwelkom. Die eindresultaat is gesaghebbende leesstof wat baie maklik pedanties kon wees, maar danksy De Villiers se deernisvolle skryfstyl eerder lees soos ’n dierbare vriend se woorde wat met innige belangstelling in jou welsyn kom kuier.

By die Woordfees
Johannes de Villiers bied op 10 en 12 Maart (08:30 vir 09:00) op die grasperk van die Lanzerac-wynlandgoed ’n oggendslypskool met die titel “Blydskap en meditasie” aan waarin hy praktiese tegnieke deel wat mense kan help om meer vreugdevol en bewustelik te leef. Kaartjies kos R80 by Computicket en sluit koffie of tee in.

Hoewel ek die aanhalings uit die positiewe sielkunde en ou wysheidstradisies insiggewend en stories van mense wie se lewenskoers radikaal verander het, aangrypend gevind het, lê die boek se grootste waarde in die maklik uitvoerbare wenke om – in hoe ’n geringe mate ook al – daagliks ’n treetjie nader aan innerlike blydskap te beweeg.

Benewens oor die gewoonte van meditasie, skryf De Villiers ook breedvoerig oor die waarde van dankbaarheid, eenvoud en omgee vir ander. Dan is daar ook raad vir hoe om jou woede, bitterheid en selfkritiek met selfliefde, deernis en geduld te verplaas. En ’n paar makliker voorstelle: Kry ’n hond, lees minder nuus, drink minder koffie en alkohol, slaap genoeg . . .

Dit klink alles pienk en pragtig, wil jy dalk sê, maar wat help al dié voorstelle wanneer die lewe die mat só onder jou uitruk dat jy nie weet watter kant toe nie. Hoe gaan jy dán blymoedig wees?

Die antwoord volg in ’n hoofstuk oor pyn. Die Japannese skrywer Haruki Murakami is bekend vir sy stelling dat seerkry onafwendbaar is, maar lyding opsioneel. De Villiers se vertrekpunt is ook dié lewenswaarheid, maar geleen vanuit ou Indië, waar pyn en swaarkry as twee pyle beskou word:

Die eerste pyl – pyn – tref ons almal van tyd tot tyd. Dit kom in verskillende gedaantes, meestal buite ons beheer en is onvermydelik deel van die lewe. Ons het wel ’n aandeel in hoe diep die tweede pyl tref – hoe ons op daardie pyn reageer.

Blydskap is nie iets wat sommer net in jou skoot val nie. ’n Mens moet besluit om gelukkiger te wees, en dan aanhoudend daaraan werk. Maar daardie gevoel van tuis kom, tuis wéés in jou eie vel maak alles die moeite werd. Gee Blydskap– en jouself – gerus ’n kans.

  • Sophia van Taak is ’n joernalis by die reistydskrif Weg! en van haar radiodramas is al op RSG uitgesaai.
Meer oor:  Johannes De Villiers  |  Woordfees  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.