Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
‘Gee só nuwe lewe aan ou gedigte’
Marita van der Vyver saam met leerlinge aan die Hoërskool Monument in Krugersdorp. Regs van Van der Vyver sit Donné Ayres. In die tweede ry, van links, is Jano Kotzé, Elsje Cronjé, Nadine Viviers en Barend Steenkamp. In die derde ry is Gerhard Naudé, Adriaan Havenga en Daniel Brits, met Omar Swart heel agter.Foto: johan brits

Sy het baie lank nie van Afrikaanse gedigte gehou nie omdat dit “vreeslik outyds” was en vir haar gelyk het of dit net gaan oor “oumense wat doodgaan, veral op plase”.

Maar in haar voorlaaste skooljaar, vertel die Afrikaanse skrywer Marita van der Vyver, het ’n “wonderlike ding” gebeur toe sy Antjie Krog se gedigte ontdek het. Dié gedigte het met haar gepraat.

So het Van der Vyver verlede week vertel op besoek aan die Hoërskool Monument (Monnas) in Krugersdorp om met ’n groep leerlinge van gr. 10 tot gr. 12 te praat oor haar tienerboek Al wat ek weet. Sy het ook ander skole besoek (foto’s hiernaas).

Constance Strydom, wat Monnas se bemarking hanteer, sê die boek kan moontlik volgende jaar vir die gr. 10’s voorgeskryf word.

Van der Vyver het vertel sy vra graag op skole­besoeke leerlinge moet hul hand opsteek as hulle daarvan hou om Afrikaanse gedigte te lees. Sy sê dan ook hulle moenie skaam wees om nié hul hand op te steek nie.

“Nie almal van ons hou noodwendig van Afrikaanse gedigte nie. Toe ek julle ouderdom was op skool, het ek nie eintlik van Afrikaanse gedigte gehou nie. Dit was vir my vreeslik outyds gewees – dit praat nie met my nie.

“En toe, in my tweede laaste skooljaar, gebeur ’n wonderlike ding: Ek ontdek ’n digbundel deur Antjie Krog. Sy het haar eerste digbundel op 16 jaar geskryf. Dit het gegaan oor hoe verveeld sy in die wiskundeklas is, die crush wat sy op ’n onnie het, skooluniforms, huiswerk, daai soort ding.

“Skielik het ek besef: Wow, sjoe, Afrikaanse gedigte hoef nie te gaan oor oumense wat doodgaan op plase nie. Dit kan ook gaan oor klaskamers, oor skooluniforms, oor dinge wat met my gepraat het.

“En daai klein deurtjie wat oopgegaan het met daardie klein iets wat ek gelees het, het my gelei soos Alice in Alice in Wonderland wat deur daardie gat val, want toe begin ek van Antjie Krog, Breyten Breytenbach lees en verder tot ek by die dooie digters uitkom, soos N.P. Van Wyk Louw, mense waarna ek voorheen nie gekyk het nie.

“Vandag is ek mal oor Afrikaanse poësie en digkuns.”

Al wat ek weet gaan oor ’n tienerseun met ’n wit pa en bruin ma wat ná sy ma se dood kwaad vir die wêreld was.

Hy moes ’n sielkundige besoek en op ’n dag het hy per­formance-poësie ontdek. Hy het homself verloor in ’n wêreld van dié digkunssoort waarin hy woede in woorde kon omsit en dit vir ’n gehoor kon uitbasuin.

“Ek het al 20 jaar lank altyd ’n tiener in die huis. My gesin is nou nie deurmekaar soos dié in (haar vroeëre tienertreffer) Die ongelooflike avonture van Hanna Hoekom nie, maar ons is oop.

“Toe ek met die Fransman deurmekaar geraak het, was daar ook joune, myne en ons s’n. Die ‘ons s’n’ is ons tienerdogter wat nog in die huis is.

“Toe twee van die tienerseuns, Daniel en Igo, 13 word, het twee verskriklike dinge gebeur: Hulle hou op met lees.

“Die ander ding wat amper vir my erger was, was dat hulle net rapmusiek, gangster rap, begin luister het. Wat amper vir my erger was as die taal, was die seksisme – dis hierdie groot dudes wat rapen agter staan meisies met baie min klere aan en swaai hul boude en word ‘bitches’ genoem.”

Van der Vyver het op ’n missie gegaan om uit te vind wat dit is van dié musiek waarvan die kinders hou, aangesien dit nie eintlik musiek is nie, maar “net ’n doef-doef”.

Wanneer haar kinders skool toe is, het sy “skelm” op You­Tube na rapvideo’s gekyk en dit ondersoek totdat daar weer ’n “deurtjie oopgegaan” het soos destyds met Krog se gedigte op skool.

Sy besef toe as jy die musiek verwyder, gaan rapmusiek oor gesproke poësie.

“Vandaar het ek die wêreld van slam poetry ontdek.”

Dit het toe ook ’n tema in Al wat ek weet geword.

Van der Vyver sê sy hoop dat sy met haar toere by skole nou ’n paar vonkies kan aansteek dat skole met slam poetry begin.

“Dit is ’n baie lekker manier om daardie weerstand wat julle teen die ou Afrikaanse gedigte het, te breek.”

  • Van der Vyver woon al die afgelope twee dekades op ’n klein dorpie in die suide van Frank­ryk saam met haar man, Alain Claisse. Hulle het drie seuns en ’n dogter.
Meer oor:  Gedigte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.