Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gepaste einde maak drieluik tops

In ‘Een of ander held’, ’n historiese spanningsroman met ’n lieflike sin vir kosmiese geregtigheid, skram Zirk van den Berg nie weg van die wreedheid en kortsigtigheid van die koloniale moondheid in Duits-Suidwes-Afrika nie en sluit só sy meesterlike Hochnamib-trilogie bevredigend af, skryf Jonathan Amid.

Zirk van den Berg

Een of ander held deur Zirk van den Berg. Uitgewer: Kwela. Prys: R300.

Zirk van den Berg se Hochnamib-drieluik – Die vertes in (2018), Tweegevreet (2020) en nou Een of ander held – bied aan die fynproewer ’n uitnemende, volgehoue gesprek met Joseph Campbell se hero’s journey.

Volgens Campbell is die held iemand wat sy of haar lewe gee vir ’n ideaal, iets groter as die individu.

Enigeen kan ’n held word, doelbewus of per ongeluk: Binne die 12 stappe van die heldereis-raamwerk gaan ons letterlik op reis en trotseer saam met die held ’n klomp fisieke en emosionele of geestelike uitdagings. Terwyl die proses en verskillende vorme van konflik uitspeel, moet die protagonis talle vrese en onsekerhede te bowe kom.

Die voortdurende proses van identiteitsvorming en -verandering word ál duideliker en uiteindelik is daar geen twyfel oor hoekom daardie personasie besonders en anders is nie. Met die reis volbring moet die narratief duidelik illustreer wat op die spel is en waarom dit saak maak.

Wat die helderste na vore kom is hoe die individu sy besluite neem en regverdig en hoe elk se menswees op die spel geplaas word vanweë die bestaan van die ander.

In elk van die romans in die Hochnamib-drieluik maak die skrywer se sober dog vlymskerp en woordekonomiese vertelling dit moontlik om die personasie van die polisieman Siegfried Bock sowel afstandelik as al hoe meer intiem te leer ken. Jy sou Van den Berg se aanslag met reg ’n historiese spanningsroman kon noem, maar dit voel nooit of die karakters deur die historiese konteks en maatskaplike kommentaar verswelg word nie.

Wat die helderste na vore kom is hoe die individu sy besluite neem en regverdig en hoe elk se menswees op die spel geplaas word vanweë die bestaan van die ander. Die skeidslyn tussen held en anti-held, held en skurk, goed en kwaad, donker en lig word voortdurend as konteksspesifiek of dikwels as onseker of onbepaald belig, afhangende van die individu se perspektief en beweegredes.

Dit is vroeg reeds duidelik dat die skrywer sy hoofkarakter as ’n plooibare, “onvoltooide” figuur sien; iemand wat deur sy verskillende ervarings – van diegene wat hom goedgesind is, dié wat hom leed wil aandoen en ander wat bloot nie veel oor hom omgee nie en hom as laspos beskou – deurlopend verander en groei. Die onvoorspelbaarheid van die held se groei, tesame met die uiteenlopende stel personasies, dubbelsinnigheid en ambivalensie wat die poging tot ’n standvastige identiteit kan kniehalter, maak die reis ál meer interessant en oortuigend.

Van den Berg het raakgevat met Bock as protagonis. Dié karakter, wat in Die vertes in ’n onbeholpe, tingerige bleeksiel is wat na Duits-Suidwes-Afrika reis om hom as soldaat te bewys, en in Tweegevreet op ’n veel meer suggestiewe, figuurlike reis is om ’n klomp raaisels op te los – bly ’n simpatieke buitestander wat tog sy bes probeer om eerbaar en met integriteit op te tree in ’n konteks wat min beweegruimte vir sagmoedige Neelsies laat.

Een of ander held speel steeds in 1905 af en trek weg direk ná die dramatiese wendings van Tweegevreet: Ruweg die eerste 42 bladsye het direk te make met die groot moordverhoor wat Siegfried Bock se heldestatus en goeie naam stuk vir stuk wegkalwe.

Heelwat bekende karakters maak noodwendig hul terugkeer, maar dit is veral drie manshoofkarakters, elk ook ’n soort heldefiguur in eie reg, wat op verskeie oomblikke in Een of ander held ’n belangrike bydrae lewer: die burokraat Stauffacher, wat jou sommer onmiddellik kriewelrig maak; oberleutnant Berghamer, Bock se voormalige bevelvoerder, wat hom van die gras wil maak oor die dood van sy soldate; en Jager Orlam, vurige Namakryger wat Bock aan die pen wil laat ry vir sy eie redes. Elk van dié karakters speel ’n belangrike rol om die roman se ondersoek na die aard van die held en sy twyfel, oortuigings, ideale, gewetensbesware, vrese en begeertes te verhelder.

Soos in die vorige boeke is naamgewing en assosiasies eweneens belangrik. Die prominensie van hierdie figure is nie ten koste van ’n nogmaals besonder treffende liefdesverhaal met Bock as die sentrale dog onsekere romantiese held nie. Die dood kom besoek aflê, maar dis nie slegs Bock wat ingrypend deur verskeie tragiese gebeure geraak word nie. Daar is teer, weemoedige oomblikke wat dreig om jou te oorweldig; ander kere is dit die spitsvondige humor wat opval. Die roman het ’n lieflike sin vir kosmiese geregtigheid.

Tweegevreet het dalk minder klem geplaas op die konteks van Duits-Suidwes-Afrika in 1905 en die opstand en uitwissing van die Herero-bevolking, maar Een of ander held skram gewis nie weg van die wreedheid en kortsigtigheid van die Duitse koloniale moondheid nie. Lesers sal veel oor die Damaras en Namas en hul stryd om oorlewing en ’n bestaansreg wys word. Die dood van die Namibiese nasionale held Hendrik Witbooi word vernuftig in die verhaal ingewerk. Die noodlot se plan met ruiter Bock, en die afloop van die ganse verhaal, is tot laat nog onseker. Die slot is gepas en roerend, dog onsentimenteel.

Van den Berg is ’n voorstander in sy werk van die slow burn: Een of ander held is ’n uiters bevredigende, fassinerende slothoofstuk vir ’n drieluik wat bestem is om die etiket “meesterwerk” te kry.

  • Jonathan Amid is ’n vryskuttaalpraktisyn en resensent van Stellenbosch.
Meer oor:  Zirk Van Den Berg  |  Een Of Ander Held  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.