Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gerugte van geweld 'in die stad van onrus'

Simoelégri

Jaco Fouché

HUMAN & ROUSSEAU, R260

Jaco Fouché het alreeds ’n bestendige plek ingeneem in die Afrikaanse vertelkuns, maar vir haar voel dit of Simoelégri die tekstuur en drif mis van sy vorige boeke, skryf Joan Hambidge.

Hierdie roman, wat 126 bladsye beslaan, het die groot romanwedstryd gewen teen bekende skrywers soos Ingrid Winterbach, Francois Smith en Kirby van der Merwe. Die roman word tereg as enigmaties beskryf met marginale karakters wat mekaar in ’n “postapokaliptiese verstrooiing” probeer vind.

Uiteraard plaas hierdie tipering die roman onmiddellik teen die werk van Willem Anker se voortreflike Skepsel (2020) en Alettie van den Heever se skitterende Stof (2018).

So ’n wenner roep onmiddellik vergelykings op met ander wenners (Dan Sleigh, Winterbach) en naaswenners (Etienne van Heerden, Alexander Strachan).

Beoordelaarspanele word dikwels ’n kollektief (aldus Jung) en word beïnvloed deur nie-tasbare of sosiaal-politieke onderstrominge. Jare, jare later kyk ’n mens terug en dink hoe het dit gebeur?

En in die reklamestuk staan daar met groot stelligheid: “Met die werklik gesaghebbende, wyse, filosofiese stem van ’n ervare skrywer aan die woord.”

Die teks word ook as elegies beskryf met ’n spirituele soeke . . .

Wanneer die uwe resenseer, word ’n boek minstens drie keer gelees. By die lees van hierdie roman van Jaco Fouché, wat heet Simoelégri, het die uwe jurielede aangestel om my van raad te bedien.

Dit was die groot romanskrywer Virginia Woolf wat gewaarsku het dat die lees van ’n roman ingewikkeld is en dat jy uiteindelik die reëls-van-die-spel wat die skrywer voor jou neersit, moet nakom.

Ek het my ouijabord uitgehaal en begin soek . . .

Dit was die groot romanskrywer Virginia Woolf wat gewaarsku het dat die lees van ’n roman ingewikkeld is en dat jy uiteindelik die reëls-van-die-spel wat die skrywer voor jou neersit, moet nakom.

Omdat daar met gendersake gespook word, was Woolf dus die eerste lid van die jurie.

Om die hele kwessie van transgender in ’n roman aan te spreek, vra uiterse besinning, waarsku sy.

“Ek dink die enigste volwaardige ‘cross dresser’ in die Afrikaanse letterkunde is Hennie Aucamp se ‘Vir vier stemme’ (uit: Volmink) en oor transgender is daar maar sopas ’n outobiografie geskryf deur Robert Hamblin.

Met hierdie roman voel hierdie leser dat die roman die tekstuur en drif mis van daardie twee boeke. Dalk te vinnig gepubliseer vir die romanwedstryd? Die roman sou baat gevind het by ’n verdere herskrywing.

“Dit is al uiteraard ’n problematiese romangegewe wat vergelykings sal oproep – ook met Orlando. Natuurlik lewer dit kommentaar op die tyd en die klasse­sisteem (en ja, oor Vita Sackville-West), maar dis ’n roman van metamorfose,” laat weet sy stadig en afgemete.

(Ek sou Foucault wou uitvra oor Herculine Barbin wat in 1980 verskyn het oor die 19de eeuse hermafrodiet, maar ek is ingelig dat hierdie teoretikus knorrig reageer op enige navraag via ’n ouijabord).

Dus gaan ek maar na Nabokof, een van die grootste skrywers en kenners van die romankuns.

Vladimir Nabokof brom-brom en verwys my na sy beroemde Cornell-lesings (wat in 1980 by Weidenfeld verskyn het) oor klassieke romans in die wêreldletterkunde waar hy tekste uitmekaar haal soos wat jy ’n legkaart bou.

Die boek val oop by Flaubert se beroemde dictum dat die outeur orals aanwesig én onsigbaar moet wees in sy roman, soos God in sy wêreld.

In die genoemde Cornell-lesings is daar ’n eksamenvraag oor Madame Bovary: “What had Emma read? Name at least four works and their authors?”

Daar is verwysings na die Boek Jona, boeke oor Marilyn Monroe en Sylvia Plath, die Bybelkonkordansie. Sumeriese geskrifte. Alles sleutels.

Dieselfde vraag kan aan lesers van Fouché gevra word, meen hy.

Daar is verwysings na die Boek Jona, boeke oor Marilyn Monroe en Sylvia Plath, die Bybelkonkordansie. Sumeriese geskrifte. Alles sleutels.

Maar maak die outeur Fouché werklik iets hiervan? Mooi oomblikke is daar: Leef dubbeltyd (bl. 109); die riool van die stad wat parfumeer; die aarde wat post-alles is; selfs post-hemel (bl. 99); uit die bloed van onse hemel, ens. ’n Lewensverhaal wat net 2 000 woorde behels! Boeiende Ronnie en Dean.

In Nabokof se Lectures on Russian Literature val die boek by Maxim Gorki oop en sy analise van The Lower Depths. Nie ’n groot skrywer nie, maar tog relevant binne die sosiale struktuur van Rusland.

Dalk omdat Fouché in sy roman – met die subtitel Stad van onrus – die verloedering van ’n stad aanspreek, het hierdie roman die paneel aangegryp?

Aktualiteit en spanninge rondom politiek en ongelykhede beskryf? Lady Die (“Dame Dood”), die transgender figuur, woonagtig in ’n verlate ou kerk in ’n fiktiewe Simoelégri, is weliswaar ’n interessante gegewe.

By Fouché is die klassesisteem die bekende haves/have nots en die kerk aktiveer in die verbeelding (dalk?) daardie een op die Groentemarkplein indertyd beset deur haweloses en inkommers, uiteindelik verwyder deur die polisie.

(En hier is ’n virus, onrus, dwelmhandelaars, die hitte van ’n konkavuur.)

Jaco Fouché het alreeds ’n bestendige plek ingeneem binne die Afrikaanse vertelkuns, veral met sy besonderse debuut, Die ryk van die rawe in 1996 en die onlangse Aanspreeklikheid. Met hierdie roman voel hierdie leser dat die roman die tekstuur en drif mis van daardie twee boeke. Dalk te vinnig gepubliseer vir die romanwedstryd? Die roman sou baat gevind het by ’n verdere herskrywing.

Hopelik beantwoord ek die vraag gerig aan die leser op bl. 125: “En jy, leser, hoe is jou tydsgees? Wie is jy wat hier lees? Watter soort mens?”

Hopelik sal hy weer ’n roman vir hierdie leser skryf wat aan die keel gryp.

Joan Hambidge beklee die Hofmeyr-leerstoel aan die Universiteit van Kaapstad.

Meer oor:  Jaco Fouché  |  Simoelégri  |  Resensies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.