Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
kykNET-Rapport-pryse
Geskiedenis en fiksie ineengevleg
Foto: Natalie Gabriels

Alexander Strachan: Wenner van die kyk­NET-Rapport-fiksieprys ter waarde van R200 000 vir Brandwaterkom ­(Tafelberg)

Waar het die idee vir die boek posgevat?

Ek wou aanvanklik oor ’n heeltemal onbekende area skryf soos byvoorbeeld die Karoo. Dit sou egter beteken het dat ek vir ’n geruime tyd daar moes gaan woon om die “gees van die plek” raak te vat. Ek het dus nader gekyk en toe besluit die Brandwaterkom hier in die Oos-Vrystaat is sommer reg by my – ek sou dit gereeld kon besoek en beleef. Ek het ook nog nie daardie deel van die ABO-geskiedenis regtig geken nie en was dus heel verras toe ek Fanie Vilonel tussen die ou geskrifte en mondelinge oorlewering raakloop. Hy het toe ’n baie interessante karakter geword om mee werk (teen die ­agtergrond van Marthinus Prinsloo se oorgawe), juis omdat hy as verraaier eintlik uit die geskiedenis geweer en vir die openbare oog weggesteek was.

Hoe het die skryfproses verloop?

Ek het 'n jaar lank net gelees en inligting versamel. Die verloop van die ABO is redelik akkuraat vasgelê, hoewel ek met my karakterontwikkeling ’n bietjie verbeelding gebruik het om die karakters boeiend en interessant voor te stel. Ná my navorsing afgehandel was, het dit nog ’n verdere twee jaar geneem om die teks te voltooi. Soos altyd was dit maar ’n proses van herskryf en skaaf om ’n unieke teks te probeer lewer met sy eie eienskappe en aanslag.

Waar skryf jy op jou beste?

In my studeerkamer is ek seker op my vertroudste. Wanneer ek egter met vakansie is en ek vat my skootrekenaar saam, burger ek baie gou in en ná ’n dag of wat is ek weer voluit aan die gang. Dit pas my nogal om met vakansies te skryf omdat ek geneig is om verveeld te raak en dan doen die skryfwerk hom as ’n soort uitkoms aan.

Hoe voed jy die kreatiewe vonk?

Een van die metodes is om eenvoudig net voor die rekenaar te gaan sit en te begin. Hoe dieper jy in die stof ingrawe, hoe meer word jy ingetrek. Aan die begin van ’n nuwe boek gaan dit dikwels moeilik, maar dan raak die materiaal waarmee jy werk, al hoe interessanter. Op hierdie wyse verskaf die gegewe voor jou op die skerm self die vonk. Deur aan te hou skryf, bly jy gestimuleer en begin jy soggens uitsien om jou karakters se “lewens” verder te neem.

Commendatio (Frederik de Jager):

In Brandwaterkom bring Alexander Strachan nie net die Anglo-Boereoorlog en die Grensoorlog opwindend in een verband saam nie, maar bring ook oorlogs­temas en die strukturele eksperiment van sy hele oeuvre tot ’n nuwe verdieping. Die beoordelaars was dit eens dat hierdie roman die hoogtepunt van sy werk tot dusver is.

Die Brandwaterkom in die Oos-Vrystaat is terrein wat goed verken is in die Afrikaanse fiksie, veral weens die kapitulering van die onbevoegde genl. Martinus Prinsloo. Strachan ondersoek egter nie in die eerste plek wat daar gebeur het nie, maar neem ’n lesing van hoe daaroor vertel word.

Een van die dinge wat Strachan onderskei, is hoe hy sy medium – die roman – vervorm tot geskikte draer van wat hy wil sê. Hy gebruik een verteller uit die werklike geskiedenis saam met een wat suiwer fiktief is en nog een (of dalk twee) wat op geheimsinnige wyse in- en uitmekaar skuif. Hy bring ’n verteller (een met ’n geskrewe teks in sy sak) uit sy vorige roman by hierdie roman in – een wat ook met biografiese elemente van Strachan self oorvleuel.

Hy laat ’n historiese persoon op ’n fiktiewe persoon influister oor haar werk oor ’n ander historiese persoon. Die wedersydse inspeel op mekaar van vertellers en verteldes gebeur dus op oormekaarliggende vlakke in historiese tyd.

En wanneer dit gebeur in ’n konteks van verraad, wanneer vertellers beheer oor hul karakters verloor, en wanneer historiese relaas onbewustelik oorgaan in fiksie, staan geskiedskrywing self in nuwe lig gekaats en vra ons die vraag: Wat is geskiedenis?

Vir die betowering van die raaiselagtige wat hy met soveel presisie, integriteit en gravitas uitgeskryf het, is hierdie skrywer vele male bekroon. Die noukeurigheid van sy skryfwerk, die selfvertroue van aanpak, die opwindende besinning oor die aard van sy medium, sy oortuigende karakters en sy vorentoe stuwende prosa . . . dit alles maak van Strachan een van ons skerpste en subtielste skrywers en een wat, soos hier, ’n deksels vernuftige storieverteller is. Een wat in elke opsig verdien om bekroon te word met die kyk­NET-Rapportprys vir 2016.

Meer oor:  Wenner
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.