Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gevleuelde woorde van bevryding gespreek

Fiksie

Voëlvrou

Marlize Hobbs

PROTEA, R180

Marlize Hobbs se Voëlvrou word aangebied as ’n magies-realistiese verhaal uit eie bodem, ’n allegorie en aweregse kontreistorie, skryf Schalk Schoombie.

Die staat van inperking het skrywers in kreatiewe afsondering laat gedy.

Die uitgewerswese kan ’n vlaag literêre werke verwag uit dié beklemmende tyd. In ’n sekere sin kan gekonsentreerde tragiek as ’n geskenk vir die skeppende gees beskou word.

Reeds verskyn een van die eerste grendelwerke. Marlize Hobbs se Voëlvrou, ’n novelle, 119 bladsye kort. En ja, kragtig.

Die verhaal – nie te verwar met Jan van Tonder se Die verevrou nie – van ’n naamlose vondeling met vlerke, ’n soort engel, word aangebied as ’n magies-realistiese verhaal uit eie bodem, ’n allegorie en aweregse kontreistorie, geraam in die vertelling van Minerva, ’n skrywer wat skryf om bevryding: “Maar as die storie wat na jou toe kom, gaan oor ’n sterk, swart, gevlerkte vrou . . . dan moet jy die kans waag, die woorde soek, die pyn in jou lyf verduur, sodat jy kan regop sit en skryf tot alles vry is” (bl. 29).

Letterlik ’n oopskryf van menslike broosheid en verdriet, ’n woordeskans teen wyfeling en aftakeling.

Letterlik ’n oopskryf van menslike broosheid en verdriet, ’n woordeskans teen wyfeling en aftakeling. Minerva wil “stiltes verbreek, ongesêde dinge uitskree” . . . “om uiteindelik ’n stem te gee aan dié wat tot stiltes gedwing word” (bl. 51).

Fiksie is terapeuties: “Jy kan byna enigiets fix met die regte storie” (bl. 65), maar sy waarsku dat sy ’n onbetroubare verteller is: “Jy kan niks vertrou wat ek sê nie, ek verruil geen geheime nie. Al wat eg is, is die gevoelens.

“Jy kan mos nie ’n storieverteller vertrou nie.”

Die emosioneel gelade storie wat Minerva (en Hobbs) neerpen, setel in endemiese seksuele geweld teen vroue en kinders – die gegewe van vele boeke deesdae.

Tydens die staat van inperking het die gruwel vererger: “78 000 gevalle van huishoudelike geweld binne ’n week” (bl. 40).

Dié donker sprokie wat in “angs, depressie, herinneringe en hoopvolle uitsien na ’n idee van ‘vryheid’ ” geskryf word, is tegelyk ’n vreeslose blootlegging van sulke wandade uit haar kindertyd onder apartheid, toe ’n predikant sy gemeentelede en gesin genadeloos kon dissiplineer, sy vrou aanrand en sy dogter jare lank molesteer.

Die jong slagoffer verdwyn kort ná haar 16de verjaardag. Dit is die begin van ’n enigmatiese wedergeboorte, ’n besielende transformasie.

Die jong slagoffer verdwyn kort ná haar 16de verjaardag. Dit is die begin van ’n enigmatiese wedergeboorte, ’n besielende transformasie.

Die boek is dun en kompak en kan in een sitting gelees word, maar tematies is die aanbod ryk, ruig met kruisverwysings uit die eietydse geskiedenis en velerlei perspektiewe, woordspel en betekenislae, asook raakpunte met Hobbs se vorige werk, soos haar veelbekroonde debuut, Flarde.

Die besoek van ’n bonatuurlike wese met menslike begeertes kom wyd in moderne letterkunde voor, van Wim Wenders se kunsfliek Wings of Desire en Elizabeth Knox se roman The Vintner’s Luck tot Carina Stander se Die bergengel.

Sulke magiese tussengangers bring apokriewe wysheid, hemelse gawes en visioene van omwenteling en genesing. Hulle spieël ’n alternatiewe bestaan.

“Dit was die kinders wat haar eerste gesien het.”

Die eerste reël van Voëlvrou eggo die opening van N.P. van Wyk Louw se Raka: “Die vroue het hom eerste gewaar, Raka die aapmens, wat swart en donker is.”

Daarmee sluit die boek aan by ’n literêre tradisie van onaardse besoekers.

Hobbs se voëlvrou is ’n ontstemmende skepsel, swart met blou kykers, onklassifiseerbaar wat ras en herkoms betref. Aanvanklik kan of wil sy nie kommunikeer nie.

Haar boodskap of doel bly verhul. Later vind sy wel haar stem.

Sy voel haar tuis by die kreupel seun Thupelo (vir wie daar ’n soortgelyke transformasie wag).

Die bejaarde Mapule voed haar met kos en stories van haar lang lewe. Die kinders por die engel om te vlieg, maar sy bly aardgebonde.

Neffens haar borrel ’n lewegewende fontein op; mense kom om van die genesende water te drink.

Maar tydens die landwye inperking raak haar teenwoordigheid onheilspellend vir diegene wat wonder of sy die dodelike virus en teëspoed gebring het.

Die verteller Minerva en haar sieklike vrou, Jasmyn, het ’n swart kind aangeneem, ’n situasie wat hulle gemarginaliseer in hul buurt laat voel.

Verskeie verwonde maar sterk vroue se verhale word verweef.

Die outistiese tiener Naledi is kwesbaar en kommunikeer, nes die voëlvrou, op haar eie onkonvensionele wyse.

Verskeie verwonde maar sterk vroue se verhale word verweef.

Oplaas word ook die wreedheid van vroue se wraak in reaksie op mans se teistering skreiend gekontekstualiseer. Dit sluit grusame verminking en ontmanning in (bl. 81, 82).

’n Leemte in ’n andersins deurdagte narratief is die afwesigheid van simpatieke manskarakters.

Hier bly die sentrale mans ongenuanseerde, ongevoelige monsters. “Ek haat hulle nie, ek wens net hulle was meer soos vroue,” betoog Minerva (bl. 11).

Mans se geslagsdele word beskryf as vernietigende wapens wat die wêreld beheer. Gedenk Jeanne Goosen (Hobbs se mentor) se wyse vermaning: Ons is nie almal so nie.

Ten spyte daarvan is Voëlvrou soveel meer as ’n nispublikasie met ’n feministiese inslag. Dit hanteer ’n deurtrapte gegewe van seksuele trauma op ’n vars en oorspronklike manier.

As relevante, dikwels onthutsende tydsdokument spreek dit gevleuelde woorde van bevryding vir slagoffer én verdrukker; vir vroue sowel as mans.

Schalk Schoombie is die skrywer van Tot die dood ons skei, Mans wat hul vroue vermoor en Die nag ruik na spoed.

Meer oor:  Marlize Hobbs  |  Voëlvrou
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.