Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Gevreesde staatspioen ontmasker

Spy: Uncovering Craig Williamson, deur ­Jonathan Ancer. Uitgewer: Jacana Media. Prys: R260. Resensent: Theunis Engelbrecht

Dis 23 Januarie 1980. ’n Sogenaamde superspioen van die apartheidsregering, Craig ­Williamson, keer van Switserland terug ná ’n dekade van ondergrondse werk in die buiteland. Hy kry ’n heldeontvangs.

Die destydse minister van wet en orde, Louis le Grange, pronk breëbors en verklaar plegtig dat Williamson “ ’n manjifieke diens vir sy land” gelewer het en dat hy die ANC, die SAKP, die PAC en die Swartbewussynsbeweging geïnfiltreer het en inligting “van onskatbare waarde” ingesamel het.

Die media gaan tekere asof die man ’n gesalfde van die gode is. “Sy vyande vrees én bewonder hom,” berig Beeld uitasem en sê Williamson het selfs in Moskou met die Russiese owerheid onderhandel namens Suid-Afrikaanse kommuniste. Dit word alles vir soetkoek opgeslurp. Williamson word selfs later in die Presidentsraad aangestel.

Ná sy glorieryke verwelkoming, weet ons nou, was Williamson verantwoordelik vir die sluipmoordaanvalle op onder andere Ruth First, Jenny Schoon en haar sesjarige dogter, Katryn. Daarvoor het hy tot groot verontwaardiging amnestie van die Waarheids-en-Versoeningskommissie gekry. Benewens dié voorvalle was hy ook by talle ander onderduimse aktiwiteite betrokke, waaronder intimidasie, sielkundige marteling en geldwassery. Hy het natuurlik skatryk geword.

Hoe werk die kop van so ’n tweegatjakkals (en in sommige gevalle selfs driegatjakkals)? Hoe kry hy dit reg om twee lewens te leef? Om met mense vriende te maak en hulle dan in die rug te steek?

Jonathan Ancer het drie jaar lank navorsing gedoen. Die wêreld waarin hy hom begewe het, is ’n morsige, skokkende en immorele een. Aan die einde beskryf hy die uitwerking wat al sy onderhoude en navorsing op hom gehad het só: “On more than a few occasions in the past three years I’ve woken up in a cold sweat from anxious dreams in which Williamson is chasing me and I’m ­trying to escape but my legs are wooden.”

In die derde laaste hoofstuk besluit Ancer hy moet nou die onderwerp van sy boek van aangesig tot aangesig konfronteer. In die hoofstuk “Spying on the Spy” vertel hy hoe hy te werk gaan om dit te bewerkstellig. En dan, in die laaste hoofstuk, gebeur dit.

Een van die vrae wat heeltyd in die leser se kop bly, is hoe voel Williamson oor die dood van die sesjarige Katryn Schoon? Hoe voel hy oor die uiterse trauma van die sewejarige Fritz Schoon wat gesien het hoe sy ma en sussie voor hom op ’n wrede manier uitgewis word? Oor die lewens van al die mense wat hy vernietig het en in die rug gesteek het? Het hy ’n gewete?

Aan die einde voel die leser hy kan beaam wat Janet Love, ’n ou huismaat van Jenny Schoon, oor Williamson sê: “He was part of so much evil. Williamson hasn’t told the truth and hasn’t acknowledged what he did. He damaged so many ­lives and deprived ­people of their lives – and has just been able to move on. That’s not right.”

Ancer verdien lof vir sy deeglike navorsing en die pakkende manier waarop hy die verhaal vertel. Dit lees soos ’n misdaadriller en ’n mens kan dit nie neersit nie. Uit die prentjie wat hieruit duidelik word, besef ’n mens hoe erg oordrewe Louis le Grange se waardeskatting van Williamson se werk was, en ook watter enorme rol propaganda en breinspoeling in die apartheidsbewind gespeel het, met die media as die regering se marionet.

Boeke soos dié maak ’n mens opnuut bewus van hoe vernietigend en boos apartheid was, en dat ’n mens dit nie moet vergeet nie.

Met die onlangse dood van Ahmed Kathrada nog vars in die geheue, staan Barbara ­Hogan se vertelling in Spy oor hoe sy onder die hande van Williamson en sy gevaarlike trawante deurgeloop het, ook uit. Gelukkig is daar darem ook figure soos sy in die boek – mense wat ’n lewende bewys is dat die krag van sterk mense se gees nie gebreek kan word nie, mense wat nog ’n gewete en ’n gevoel vir eerbaarheid het.

  • Theunis Engelbrecht is ’n skrywer en nagsubredakteur by Die Burger.
Meer oor:  Apartheid  |  Resensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.