Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Boeke
Kindermolestering laat skrywer sy stem hoor
Die jeugboekskrywer Fanie Viljoen wat ook oor die moeilike kwessie van gay wees in Uit geskryf het.

Fanie Viljoen was so gewalg deur stories oor kindermolestering dat hy besluit het om sy skrywerstem te gebruik om die gemeenskap daaroor in te lig.

Die resultaat van dié voorneme is Die dag toe die draak kom, ’n boek gemik op 6- tot 12-jariges met ’n nuttige gids agterin vir ouers, onderwysers, versorgers en uiteraard ook kinders.

Dié bekende Bloemfonteinse jeugboekskrywer se wens is dat ouers die boek saam met hul kind sal lees en dat alle skole dit sal aanskaf.

’n Boek vir seuns.
’n Boek vir meisies.

Hy sê volgens onlangse navorsing word sowat ’n derde van alle Suid-Afrikaanse skoolkinders seksueel gemolesteer. Dit is dus ’n onderwerp wat Viljoen nie daar kon laat nie, veral nie nadat hy die rolprent Spotlight gesien het waarin joernaliste kindermolestering oopvlek nie.

Viljoen sê hy het by talle beroepslui kers opgesteek voordat hy begin skryf het. Al het hy al die nodige inligting gehad, was dit geen maklike taak nie “omdat die inligting uiters sensitief oorgedra moet word”.

Om seker te maak die boodskap bereik seuns en meisies, is een boek op seuns gemik en die ander op meisies. Dit word ook so op die omslag aangedui.

In die verhaal vir seuns is Kevin die hoofkarakter en in die boek vir meisies Kyla. Albei is gek oor stories van die dapper prins/prinses van Arabië wat teen drake veg. Sy/haar ouer sussie, Abby, glo nie meer in sprokies nie.

Abby sê daar is ’n draak in hul huis – een wat vir niks en niemand skrik nie. Is die “draak” hul ma wat gedurig met hulle raas, of hul oupa met sy growwe stem, of hul stout nefie Nico?

Gelukkig leer Kevin en Kyla presies wat om te doen om hulself te beskerm. Op die dag toe die draak opdaag, kon Kevin en Kyla nie net hulself nie, maar ook hul sussie red.

Die wenke agter in die boek is so eksplisiet soos die verskil tussen ’n slegte geheim en ’n goeie geheim. “ ’n Partytjie vir ’n maatjie is ’n goeie geheim, seksuele dade is ’n slegte geheim,” skryf Viljoen.

Die “veilige handjie-konsep” beteken ’n kind moet vyf mense vind wat hy kan vertrou – een vir elke vinger. As een nie help nie, moet daar ander wees na wie die kind hom of haar kan wend.

Dit is ook belangrik dat ouers en kinders geslagsdele moet benoem. Enige naam is aanvaarbaar, mits ouers en hul kinders dit dieselfde noem.

Viljoen verstrek ook tekens wat op molestering dui en bring dit onder volwasse lesers se aandag dat kindermolestering aangemeld moet word. “Dis nie ’n keuse nie, dis ’n moet,” sê hy.

Die dag toe die draak kom, ook in Engels beskikbaar as The Day the Dragon came, sal van 4 Februarie af in winkels te kry wees. Die uitgewer is Human en Rousseau.

Meer oor:  Fanie Viljoen  |  Boeke  |  Skrywers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.